Woordfees Dokumentesentrumlesing: “Woorde WAT groei”  – JJ Smith versameling

Die dertiende Dokumentesentrumlesing is op 9 Oktober vanjaar tydens die Woordfees aangebied as deel van die diskoersreeks, Uit die biblioteekargiewe. Die titel van die aanbieding was “Woorde WAT groei” en die fokus was die JJ Smith versameling.

Die drie sprekers was uitstekend en hoogtepunte rondom die groei en ontwikkeling van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is bespreek.

Mimi Seyffert-Wirth het die gesprek begin met ’n interessante oorsig oor die JJ Smith versameling (Ms 333) en het briewe, woordelyste van streektaal, studentetaal en ander dokumente uitgelig wat aansluit by die geskiedenis, ortografie en spelling van die Afrikaanse taal.

JJ Smith (1883-1949) was nie alleen die eerste redakteur van die WAT nie, maar het ook in 1919 die eerste professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch geword, en was die eerste redakteur van Die Huisgenoot.

Die tweede spreker, Dr Willem Botha, was vanaf 1988 lid van die redaksie van die WAT en het in Desember 2022 afgetree as hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT. Hy het die gehoor vergas op ’n oorsig oor die geskiedenis, groei, bemarking (soos Borg ’n Woord) en die oorgang na die digitale platform van die WAT.

Dr Gerda Odendaal, mederedakteur van die WAT en lid van die redaksie vanaf 2016, het gesels oor die uitbreiding van die WAT om Afrikaanse variëteite in te sluit.

Hierdie gesprek het aansluiting gevind by ander gesprekke binne die diskoersreeks, soos:

  • Die rol en gelykstelling van variëteite in Afrikaans – ’n toekomsperspektief
  • Die WAT by ’n T-aansluiting: ’n Toekomsblik
  • Hoe het Afrikaans se dice geval?

Die besoekers het na afloop van die interessante gesprekke en vrae aan die sprekers ’n uitstalling van boeke, dokumente en foto’s besigtig wat digitaal en in die vertoonkaste by Spesiale Versamelings vertoon is.

 

Marieta Buys

 Redigering: Naomi Visser

 Foto’s: Bronwyn Bruton