Veranderinge by Biblioteek na herroeping van Covid-19-regulasies

Ná die herroeping van die oorblywende nasionale Covid-19-regulasies op 22 Junie 2022 en ’n verklaring deur die Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel op 24 Junie, het die Biblioteek (US Biblioteek sowel as takbiblioteke) besluit om die volgende veranderinge te implementeer:

Aantal kliënte en besprekingstelsel

Vanaf 27 Junie 2022 is daar nie meer ‘n beperking op die aantal kliënte nie en die biblioteekgeboue kan tot hul volle kapasiteit gevul word. Die besprekingstelsel is nie meer van toepassing nie, behalwe in die geval van die Innovasieruimte, die Ouditorium en sommige seminaarkamers in die US Biblioteek.

Ontsmetmiddels en sosiale distansiëring

Die Biblioteek sal voortgaan om ontsmetmiddels in biblioteekgeboue te voorsien en kliënte word aangemoedig om steeds, waar moontlik, sosiale distansiëring toe te pas.

US-toegangskaarte

Personeel en studente word daaraan herinner dat hulle nie sonder hulle personeel- of studentekaarte toegang tot die biblioteekgeboue sal kry nie.

 

Besoekers

Die Biblioteek is besig om ‘n nuwe toegangsstelsel vir besoekers (soos alumni, voornemende nagraadse student en skoolleerders) te implementeer. Totdat die nuwe stelsel in plek is het besoekers nie instaptoegang tot die biblioteke nie.

Besoekers mag wel per afspaak die biblioteke persoonlik besoek. Kontak US Biblioteek Spesiale Versamelings, US Biblioteek Kliëntediens, Musiekbiblioteek, Teologiebiblioteek, Ingenieurs- & Bosboubiblioteek, Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe Biblioteek of Bellvilleparkkampusbiblioteek om ‘n afspraak te maak.

Besoekers wat kwalifiseer vir uitleenvoorregte mag versoek om ‘n boek af te haal.

Alle besoekende navorsers en akademici moet vooraf met die fakulteite en departemente wat hulle kom besoek reëlings vir toegang tot die biblioteke tref.

Klagtes oor geraasvlakke

Ná klagtes oor die hoë vlakke van geraas in die Biblioteek, word personeel en studente herinner om by die Biblioteekreëls te hou. Die Biblioteek het toegewyde stil areas waar gesels nie toegelaat word nie. Hierdie reël sal in die tweede semester streng toegepas word.

Kontak me Delene Pretorius vir meer inligting.

Julle het gepraat! – Ons tree op! Biblioteekopname 2021

Indien jy een van die 1 147 kliënte was wat verlede jaar gepraat het deur die Biblioteek se biblioteekopname te voltooi, het jy dit vir die Biblioteek moontlik gemaak om vas te stel waar ons goed doen, maar ook waar ons moet verbeter. Hier onder gee ons terugvoer en dui aan wat ons gaan doen in antwoord op wat jy gesê het.

1. IT
Julle het gesê… Ons tree op…
Voorsien hulpmiddels wat maklik is om te gebruik en wat my bemagtig om dinge self te vind ·         Die Biblioteek is besig om video-tutoriale en nog kursusse op SUNLearn te ontwikkel
Maak dit maklik om inligting op die Biblioteek se webblad te vind ·         Die Biblioteek het interimveranderinge op die webblad aangebring

·         Ons ondersoek ook die herontwerp van ’n kliëntgefokusde webblad met beter navigasie

Maak dit vir my maklik om self inligting op te spoor en gebruik ·         Die videotutoriale en die verbeterde Biblioteekwebblad sal dit vir jou maklik maak om self toegang tot inligting te kry
Maak dit maklik om my toestelle (skootrekenaar, slimfoon en tablet) te gebruik om van buite die kampus toegang tot die Biblioteek se e-bronne en dienste te verkry

 

·         Die Biblioteek is besig om videos te ontwikkel wat jou sal wys hoe om van jou toestelle toegang tot bronne te kry

·         Die Biblioteek het inligting oor hoe om toestelle te gebruik om toegang tot e-bronne te kry bygevoeg by die webinaar Off-campus access to Library E-resources (#SmartStudent werksessie) sowel as by die opleidingsessies vir voor- en nagraadse studente

·         Laat weet ons gerus indien daar nog enige uitdagings is en ons sal met graagte daaraan aandag gee

2. Versamelings en inligtingshulpbronne
Julle het gesê… Ons tree op…
Verbeter die gedrukte en elektroniese tydskrifversamelings wat ek vir my werk benodig ·         Ons sal volhou om aktief te onderhandel en beding vir bykomende befondsing om gedrukte en elektroniese tydskrifversamelings wat vir leer, onderrig en navorsing benodig word, te kan uitbrei

·         Die Biblioteek sal ook volhou om julle (ons kliënte) te betrek by die aanwending van ons materiaalbegroting en sal jaarliks die nodige inligting aan fakulteite stuur. Fakulteite word ook die geleentheid gegee om hul tydskriftitels te hersien

 

3. Navorsingsteun
Julle het gesê… Ons tree op…
Verbeter navorsingsteun (bv hulp met die bestuur van my verwysings, navorsingsdata, ooptoegangpublisering en om tred te hou met my navorsingsimpak) ·         Die Biblioteek wend ‘n grootse poging aan om navorsers en nagraadse studente te bereik en beveel die bywoning van ons #SmartResearcher werksessies en die jaarlikse Navorsingsweek aan

·         Ons brei ons bemarking uit deur bv ons blog Library Research News, biblioteekgidse, sosiale media en gerigte e-pos. Ons sal volhou om nuwe maniere te ondersoek om ons dienste aan jou as kliënt te bemark

Voltooiing van opknappingswerk by US Biblioteek

Dit is vir ons aangenaam om bekend te maak dat die US Biblioteek se Opknappingsprojek voltooi is. Konstruksie het in Februarie 2021 begin en is aan die begin van Mei 2022 voltooi. Die amptelike oorhandiging aan die Biblioteek het op 13 Mei 2022 plaasgevind. Behalwe vir enkele haakplekke, is die projek nou afgehandel.

Die projek is in drie oorvleuelende fases aangepak:

Fase 1 het bestaan uit die opgradering van die kliëntedienstoonbank, kortleen- en verwante werkareas vir personeel, personeeltoilette en studentetoilette op die laer vlak.

Tydens Fase 2 is studieareas en nuwe vloerbedekking in die middelste gedeelte van die boonste vlak aangebring

Fase 3 het die opgradering van die ingangsportaal, toegangsbeheer en nuwe sekuriteitsarea behels, sowel as ’n nuwe ontspanningsleesarea en die installering van nuwe werktafels vir studente langs die dubbelvolume-ruimte

Ons bedank graag al ons kliënte vir hul geduld, begrip en verdraagsaamheid tydens die opknappingswerk. Die werk was baie ontwrigtend, maar ons glo dat hierdie opknappings gaan verseker dat kliënte toegang het tot gerieflike en doeltreffende ruimtes wat pas by ’n wêreldklasbiblioteek in ’n wêreldklas-navorsingsuniversiteit.

Kontak gerus vir Delene Pretorius vir meer besonderhede.

Sien die fotogalery van voltooide areas.