Senior Direkteur paneellid by VN Konferensie oor oop wetenskap

Me Ellen Tise, Senior Direkteur van die Biblioteek- en Inligtingsdiens, is onlangs genooi om by die eerste Verenigde Nasies Konferensie oor oop wetenskap aan ‘n paneelbespreking oor oop wetenskap en biblioteekinfrastruktuur deel te neem. Die konferensie het van 18 tot 19 November by die Verenigde Nasies se hoofkantoor in New York plaasgevind.

Die tema van die konferensie was “Towards Global Open Science: Core Enabler of the UN 2030 Agenda”. Die konferensie het gepoog om die bespreking oor oop wetenskap en oop navorsing tot die globale vlak te verhef en het terselfdertyd aandag gegee aan die rol wat oop wetenskap in die bevordering van die 2030 Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling kan speel.

Me Tise se aanbieding, getiteld Open Science for Sustainable Development: a Library perspective, het die dryfvere agter oop wetenskap beklemtoon, die aandag gevestig op die fasette van oop wetenskap en die noodsaaklikheid van voorspraak maak vir oop toegang benadruk. Die ander deelnemers aan die paneelbespreking oor oop wetenskap en biblioteekinfrastruktuur was mnr Gerald Beasley (Carl A. Kroch Universiteitsbibliotekaris, Cornell Universiteit), dr Wolfram Horstmann (LIBER Spesiale Adviseur, Göttingen Staats- en Universiteitsbiblioteek), dr Catriona MacCallum (Direkteur van Oop Wetenskap, Hindawi Bpk) en dr Chris Bourg (Direkteur van Biblioteke, Massachusetts Instituut vir Tegnologie). Dr Bourg se aanbieding het ‘n wêreld gevisualiseer waar blywende, oorvloedige, onpartydige en betekenisvolle toegang tot inligting die mensdom bemagtig en inspireer.

Die konferensie is deur die Dag Hammarskjöld biblioteek in samewerking met die Scholarly Publishing and Academic Resources Coalition (SPARC) gereël. Deelnemers aan die konferensie was verteenwoordigers van ooptoeganginisiatiewe, navorsers, biblioteekdirekteure en beleidmakers. Die hoofsprekers was dr Natalia Manola (Besturende Direkteur, OpenAIRE) en Juan Pablo Alperin (Public Knowledge Project, Simon Fraser Universiteit).

Me Tise word geluk gewens met haar uitnodiging om op hierdie wêreldplatform deel te neem.

Deelnemers aan die Verenigde Nasies Konferensie oor oop wetenskap. Die konferensie het van 18 tot 19 November by die VN se hoofkantoor in New York plaasgevind. Me Ellen Tise is negende van regs (staande). Foto: VN biblioteek