Nuutste nuus: opknappingswerk in die Universiteit Stellenbosch Biblioteek

Ons deel graag die nuutste nuus oor die voortgesette opknappingswerk by die Universiteit Stellenbosch Biblioteek in aansluiting by ons vorige kommunikasie.

Die opknappings bestaan uit die opgradering van bestaande fasiliteite en infrastruktuur om in kliënte se behoeftes te voorsien en ‘n moderne estetiek vir die US Biblioteek te skep, terwyl die integriteit van die bestaande gebou behoue sal bly. Die hooffokus van die projek is om aan kliënte gerieflike en doeltreffende ruimtes te bied en terselfdertyd benutting van die Biblioteek te vergemaklik.

Ons is bly om aan te kondig dat die projek glad verloop het ten spyte van ’n aantal haakplekke en dat ons die voltooiing van die projek nader.

Weens oorvleueling tussen die fases, het ons besluit om nou terugvoer te gee oor wat afgehandel en wat nog uitstaande is.

Voltooide areas

Ons is baie bly om aan te kondig dat die Sirkulasie-area, studieareas sowel as die studentetoilette op die boonste vlak afgehandel en in gebruik is. Neem asseblief kennis dat al die toilette vir kliënte op die boonste vlak van die US Biblioteek nou geslagsneutraal is.

Opgeknapte studieareas vir studente

Al die boeke en tydskrifte is reeds teruggepak en is weer toeganklik vir gebruikers.

Selfuitreik-en-terugbesorgeenhede

Die selfuitreik-en-terugbesorgeenhede is by die Sirkulasietoonbank op die boonste vlak geïnstalleer en is in gebruik.

 

 

 

Voltooiing van die res van die werk

In die ingangsarea moet die ontspanningsleesarea en vloere nog voltooi word en aluminiumvensters en-deure moet geïnstalleer word.

Die werk in die ontspanningsleesarea behels die installering van studieareas en nuwe meubels. Sodra dit voltooi is, sal koerante en ontspanningsleesstof vir kliënte se gebruik hier uitgestal word.

In aansluiting by bogenoemde is die rekenaars, drukkers, e-inligtingskiosk en fotokopieerareas op die boonste vlak nog nie in gebruik nie. Die networkinstallasie wat hiervoor nodig is, sal teen die middel van April voltooi wees.

Die beoogde finale datum van afhandeling en oorhandiging van die projek is nou die begin van Mei 2022.

Ons bedank graag ons kliënte vir julle verdraagsaamheid, begrip en geduld tydens hierdie opknappingsproses. Ons wil julle weer verseker dat hierdie opknappings nodig was om vir julle toegang tot gemaklike en effektiewe ruimtes te kan bied.

Kontak gerus vir Delene Pretorius vir verdere besonderhede.