US bibliotekaris neem deel aan ’n internasionale webinaar

Op Donderdag 13 Augustus 2020 het Naomi Visser, die Biblioteek- en Inligtingsdiens se Bestuurder: Elektroniese Bronne deelgeneem aan ’n internasionale Elsevier Library Connect webinaar met die titel Librarian best practices ensure uninterrupted access to research and education.

Naomi het insette van haar kollegas gekry ter voorbereiding van die aanbieding en het gesels oor gereedheid van infrastruktuur, kommunikasie met gebruikers om seker te maak dat almal bewus is van die voortgesette dienste van die Biblioteek en waar om toegang tot ons bronne te kry en oor die uitdagings verbonde aan werk van die huis af. Sy het genoem dat daar ’n aansienlike toename was in die gebruik van ons databasisse tydens die inperking in vergelyking met dieselfde tydperk in 2019. Die moeite wat die biblioteekpersoneel gedoen het om met ons gebruikers te kommunikeer het bygedra tot ’n gemiddelde toename van 70% in die gebruik van die vier bronne wat as voorbeeld gebruik is.

Tydens die inperking het bibliotekarisse volgehou met die gebruik van bestaande biblioteekgidse, maar daar is ook ’n nuwe gids geskep wat spesifiek handel oor bronne wat gratis beskikbaar is tydens die COVID-19 pandemie.

Die geskeduleerde navorsingsopleidingsessies word tydens die inperking aanlyn aangebied en lok baie meer registrasies as die sessies wat normaalweg in die Biblioteek aangebied word.

Twee van die grootste uitdagings vir die Biblioteek was die aankoop van individuele e-boeke en toegang tot e-handboeke. Naomi het ook genoem hoe belangrik dit was vir almal om bewus te wees van die individuele uitdagings van ons kliënte en kollegas.

Me Emily Singley, Hoof van biblioteekstelsels aan die Boston Kollege in die VSA, was mede-aanbieder van die webinaar wat deur ongeveer 400 mense van dwarsoor die wêreld bygewoon is.

Naomi Visser

VN paneellid bestry vals inligting

“Vals nuus is hier om te bly” – dit is die siening van Me Ellen Tise, Senior Direkteur van die Biblioteek- en Inligtingsdiens van Universiteit Stellenbosch, wat haar standpunt oor die rol van biblioteke in die stryd teen vals inligting gedeel het as deel van ’n internasionale paneel van VN biblioteke.

Me Tise het opgemerk dat dit wil voorkom of vals nuus floreer in tye van krisis en onsekerheid, soos in die geval van COVID-19. Sy het verwys na ander krisisse in Suid-Afrika wat ook tot die ontstaan van vals nuus gelei het, soos MIV/Vigs en xenofobiese aanvalle. Sy het daarop gewys dat vals nuus tydens die COVID-19 pandemie op vyf areas gefokus het, naamlik die oorsprong van die virus, die bestaan van die virus, die rede vir die bestaan van die virus, infeksiekoerse en wie besmet kan word en wondergeneesmiddels. Me Tise het daarop gewys dat, alhoewel biblioteke (of enigiemand anders) nie vals nuus kan uitwis nie, hulle wel kan help om die ergste gevolge van vals nuus te neutraliseer. Biblioteke se belangrikste rol in die stryd teen vals nuus lê in bewusmaking, die verskaffing van geloofwaardige inligtingsbronne, om biblioteekgebruikers bewus te maak van die skadelike gevolge van vals nuus en om mense te bemagtig om te kan onderskei tussen feit en fiksie. Me Tise was in die geselskap van drie ander gerekende paneellede van ander lande.

Volgens mnr Thanos Giannakopoulos, hoofbibliotekaris van die VN se Dag Hammarskjöld Biblioteek, is die webinaar goed ontvang met meer as 90 mense wat van reg oor die wêreld ingeskakel het.