Biblioteek se Senior Direkteur is nuwe voorsitter van IFLA FAIFE

Me Ellen Tise, Senior Direkteur van die Biblioteek- en Inligtingsdiens, is tydens die onlangse IFLA Wêreldbiblioteek- en Inligtingskongres wat in Athene gehou is, aangewys as voorsitter van die IFLA Vryheid van Toegang tot Inligting en Vryheid van Uitdrukking (FAIFE) Advieskomitee vir die periode 2019 – 2021.

IFLA is die Internasionale Federasie van Biblioteekverenigings en -instellings en die toonaangewende internasionale liggaam wat die belange van biblioteek- en inligtingsdienste en hul gebruikers verteenwoordig. Dit dien as die wêreldwye stem van die biblioteek- en inligtingsberoep.

FAIFE is IFLA se Komitee vir Vryheid van Toegang tot Inligting en Vryheid van Uitdrukking. Dit is ᾽n inisiatief om die basiese menseregte, gedefinieër in Artikel 19 van die Verenigde Nasies se Universele Menseregteverklaring, te beskerm en te bevorder. Die FAIFE-komitee beskerm vryheid van toegang tot inligting en vryheid van uitdrukking wat betrekking het op biblioteke en biblioteekwese, in all opsigte, direk of indirek. FAIFE moniteer die stand van intellektuele vryheid binne die biblioteekgemeenskap wêreldwyd, ondersteun die ontwikkeling van IFLA-beleid en samewerking met ander internasionale menseregte-organisasies, en reageer op skendings van vryheid van toegang tot inligting en vryheid van uitdrukking. Die voorsitter van FAIFE speel ‘n belangrike rol in die ondersteuning van die werk van die IFLA-beheerraad ten opsigte van vele sleutel etiese en beleidsvraagstukke.

Me Tise het vanaf 2009 – 2011 as IFLA-president gedien en is in 2012 as Eregenoot van IFLA aangewys, IFLA se hoogste toekenning aan ᾽n persoon wat lang en voortreflike diens aan IFLA gelewer het.

Me Tise word groot sukses toegewens in die uitdagende rol tydens haar ampstermyn.

 

Bronne:

FAIFE. https://www.ifla.org/about-faife. Geraadpleeg op 28 Augustus 2019.

Freedom of Access to Information and Freedom of Expression (FAIFE) Advisory Committee. https://www.ifla.org/faife. Geraadpleeg op 28 Augustus 2019.

IFLA. https://www.ifla.org/about. Geraadpleeg op 28 Augustus 2019.