Woordfees Dokumentesentrumlesing: “Woorde WAT groei”  – JJ Smith versameling

Die dertiende Dokumentesentrumlesing is op 9 Oktober vanjaar tydens die Woordfees aangebied as deel van die diskoersreeks, Uit die biblioteekargiewe. Die titel van die aanbieding was “Woorde WAT groei” en die fokus was die JJ Smith versameling.

Die drie sprekers was uitstekend en hoogtepunte rondom die groei en ontwikkeling van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is bespreek.

Mimi Seyffert-Wirth het die gesprek begin met ’n interessante oorsig oor die JJ Smith versameling (Ms 333) en het briewe, woordelyste van streektaal, studentetaal en ander dokumente uitgelig wat aansluit by die geskiedenis, ortografie en spelling van die Afrikaanse taal.

JJ Smith (1883-1949) was nie alleen die eerste redakteur van die WAT nie, maar het ook in 1919 die eerste professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch geword, en was die eerste redakteur van Die Huisgenoot.

Die tweede spreker, Dr Willem Botha, was vanaf 1988 lid van die redaksie van die WAT en het in Desember 2022 afgetree as hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT. Hy het die gehoor vergas op ’n oorsig oor die geskiedenis, groei, bemarking (soos Borg ’n Woord) en die oorgang na die digitale platform van die WAT.

Dr Gerda Odendaal, mederedakteur van die WAT en lid van die redaksie vanaf 2016, het gesels oor die uitbreiding van die WAT om Afrikaanse variëteite in te sluit.

Hierdie gesprek het aansluiting gevind by ander gesprekke binne die diskoersreeks, soos:

  • Die rol en gelykstelling van variëteite in Afrikaans – ’n toekomsperspektief
  • Die WAT by ’n T-aansluiting: ’n Toekomsblik
  • Hoe het Afrikaans se dice geval?

Die besoekers het na afloop van die interessante gesprekke en vrae aan die sprekers ’n uitstalling van boeke, dokumente en foto’s besigtig wat digitaal en in die vertoonkaste by Spesiale Versamelings vertoon is.

 

Marieta Buys

 Redigering: Naomi Visser

 Foto’s: Bronwyn Bruton

Biblioteek- en Inligtingsdiens jaarverslag 2022

Die Biblioteek- en Inligtingsdiens deel graag sy Jaarverslag 2022 met u. Hierdie jaarverslag bevat inligting oor die aktiwiteite wat die Biblioteek onderneem het om sy strategiese doelwitte, wat belyn is met die Universiteit se Visie 2040 en die Strategiese Raamwerk 2019-2024, te bereik. Lees oor ons vele suksesse, insluitend ons gehaltebeoordeling, opknapping van die ruimtes en infrastruktuur in die US Biblioteek, Biblioteeknavorsingsweek, bekendstelling van die Edwin Cameron-versameling en -leeskamer, Ooptoegangweek, die bevordering van digitale akademieskap, ons dienste, hulpbronne en vennootskappe, en die besoekers wat ons ontvang het. Ons buigsame en aanpasbare personeel gaan voort om goeie vordering op nasionale en internasionale gebied te maak.

Vir meer inligting kontak Bronwyn Bruton bronwynb@sun.ac.za +27 21 808 9528.

Herinnering aan opsies vir ooptoegangpublikasie aan die US

Hierdie dokument dien as ’n herinnering aan die opsies wat beskikbaar is vir US-navorsers om gratis (of met verminderde koste) in ooptoegangtydskrifte te publiseer.

Oor die afgelope twee jaar het die Biblioteek- en Inligtingsdiens ooreenkomste aangegaan met uitgewers wat dit vir US-navorsers moontlik maak om gratis (of met verminderde koste) in ooptoegangtydskrifte te publiseer. Ons het egter besef dat daar steeds navorsers is wat nie van hierdie voordele bewus is nie. Ons moedig daarom navorsers aan om van hierdie opsies gebruik te maak en ook om dit onder hul kollegas se aandag te bring.

 

Die volgende uitgewers bied gratis ooptoegangpublikasie vir US-navorsers: 

  1. Association for Computing Machinery (ACM)
    Die ooreenkoms laat korresponderende US-outeurs toe om sonder enige koste ’n onbeperkte aantal artikels met oop toegang by ACM te publiseer.
  2. Cambridge University Press (CUP)
    Ingevolge die ooreenkoms kan korresponderende US-outeurs sonder enige koste artikels met oop toegang in CUP-tydskrifte
  3. Emerald
    Die ooreenkoms laat korresponderende US-outeurs toe om sonder enige koste ’n beperkte aantal artikels met oop toegang te publiseer in die Emerald titels waarop die US inteken.
  4. Institution of Mechanical Engineers (IMechE)
    Korresponderende US-outeurs kan sonder enige koste ’n onbeperkte aantal artikels met oop toegang in IMechE tydskrifte
  5. SAGE
    Korresponderende US-outeurs kan ‘n onbeperkte aantal artikels gratis met oop toegang in SAGE se hibriede titels (SAGE Choice) publiseer of hulle kan ‘n afslag van 20% kry op die publikasiekoste van SAGE se lys van Pure Gold Open Access Journals.
  6. Sponsoring Consortium for Open Access Publishing in Particle Physics (SCOAP³)
    Die vennootskap maak dit vir korresponderende US-outeurs moontlik om gratis met oop toegang in SCOAP³-tydskrifte te publiseer.
  7. Wiley
    In 2022 mag US-outeurs in Wiley se hibriede tydskrifte gratis met oop toegang publiseer. Vanaf 2023 sal die Wiley Gold ooptoegangtydskrifte en die Hindawi tydskrifte ingesluit word.

 

Hierdie uitgewers bied afslag op ooptoegangpublikasiefooie: 

  1. MDPI
    Korresponderende US-outeurs wat by MDPI publiseer, sal ’n afslag van 10% op die publikasiekoste kry.
  2. Royal Society of Chemistry
    US-outeurs kry 15% afslag op RSC se ooptoegangpublikasiekoste. Die eerste vier artikels wat per jaar deur enige US-outeur by RSC ingedien word, sal gratis gepubliseer word.
  3. Springer Nature
    Outeurs wat artikels onder US-affiliasie indien, kry 15% afslag op BMC, Springer Open en Palgrave Macmillan Open se publikasiefooie. 

 

Raadpleeg asseblief die biblioteekgids by https://libguides.sun.ac.za/OApublishing vir meer inligting oor die uitgewers en vir die titels wat kwalifiseer vir ooptoegangpublikasie. Kontak gerus ook jou fakulteitsbibliotekaris of vir Caretha Nel by caretha@sun.ac.za of 021 808 4433.

1 Desember 2022

Regter Edwin Cameron Versameling

Die Biblioteek- en Inligtingsdiens het in 2021 die versameling van oudregter Edwin Cameron ontvang. Die versameling word as deel van Spesiale Versamelings in die Biblioteek gehuisves en is nou gereed vir gebruik deur navorsers.

Regter Cameron is in 2020 as Kanselier van Universiteit Stellenbosch aangestel. Edwin Cameron SCOB, in Pretoria gebore op 15 Februarie 1953, is ‘n voormalige regter wat as regter van die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika gedien het en vanaf 1 Januarie 2020 deur President Ramaphosa as inspekterende regter vir korrektiewe dienste aangestel is. Hy is bekend vir sy MIV- en gay-aktivisme.

Cameron se vroeë loopbaan het die akademie en regspraktyk gekombineer. Hy het van 1983 tot 1994 by die Johannesburgse Balie gepraktiseer en van 1986 was hy ‘n menseregteprokureur by Wits se Sentrum vir Toegepaste Regstudie waar ‘n professoraat in die regte in 1989 aan hom toegeken is. Sy praktyk het arbeidswet, die verdediging van ANC vegters wat van verraad aangekla is, gewetens- en godsdiensbeswaar, grondbesit en gedwonge verskuiwings, en gaygelykheid ingesluit.

Regter Cameron is ‘n alumnus van Universiteit Stellenbosch en in sy aanvaardingstoespraak het hy die volgende gesê: “The joy of being associated with the University that is so clearly on the way up – up in intellectual output, up in teaching skills, up in research and scholarly publications, up in international renown, up even (though this counts the least) in international ranking. Joy particularly in being able to preside over quite a number of graduation ceremonies over the last two and a half years. It has been an honour to confer degrees and witness elated students graduating, some the first in their families to attend a tertiary institution” (Cameron, 2022).

Die Cameron versameling pryk langs ander versamelings van US Kanseliers soos Frederik van Zyl Slabbert. Die versameling is gesorteer en geïndekseer en ‘n inventaris is hier beskikbaar. Die versameling bevat publikasies en toesprake deur Cameron sowel as materiaal oor sy vrywillige gemeenskapsdiens. Dit bevat ook materiaal rakende sy loopbaan en jare as Regter van die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika. Ons nooi studente, navorsers en lede van die publiek uit om hierdie unieke versameling, wat op 6 Desember vanjaar bekendgestel word, te besigtig.

Vir navrae oor die versameling, kontak asseblief me Marieta Buys, Hoof: Spesiale Versamelings (hmbuys@sun.ac.za).

 

Bibliografie:

Cameron, E. 2022. Stellenbosch University deserves to be free from hate and degradation. News24. [Online]. Available from https://www.news24.com/news24/opinions/columnists/guestcolumn/edwin-cameron-our-dignity-demands-we-have-capable-institutions-and-a-capable-government-20220518.

US dra by tot die State of Open Data Report 2022

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Biblioteek- en Inligtingsdiens is ’n voorstander van oop data, soos geïllustreer deur die feit dat SUNScholarData, die Universiteit se navorsingsdatabewaarplek, deur die Biblioteek gehuisves word. Oop data is toeganklik vir almal en kan deur enigeen versprei word. Die voordeel hiervan is onder andere dat deursigtige en doeltreffende navorsing en besluitneming verseker word.

Figshare doen elke jaar ’n opname oor die stand van oop data in die navorsersgemeenskap en publiseer ’n verslag, vergesel van die uitslae van die ondersoek.

Vanjaar is die Biblioteek genooi om ’n bydrae tot die verslag, The State of Open Data Report 2022, te lewer. Samuel Simango, die Biblioteek- en Inligtingsdiens se Bestuurder: Navorsingsdatadienste, het ’n artikel geskryf met die titel “Preparing for South Africa’s proposed open data strategy: lessons from Stellenbosch University”. Hierin bespreek Samuel hoe die Universiteit seker maak dat voldoen word aan die kernaspekte van die Suid-Afrikaanse oopdatastrategie soos verwoord in die voorgestelde nasionale data- en wolkbeleid. Samuel se bydrae kan hier gelees word.