US dra by tot die State of Open Data Report 2022

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Biblioteek- en Inligtingsdiens is ’n voorstander van oop data, soos geïllustreer deur die feit dat SUNScholarData, die Universiteit se navorsingsdatabewaarplek, deur die Biblioteek gehuisves word. Oop data is toeganklik vir almal en kan deur enigeen versprei word. Die voordeel hiervan is onder andere dat deursigtige en doeltreffende navorsing en besluitneming verseker word.

Figshare doen elke jaar ’n opname oor die stand van oop data in die navorsersgemeenskap en publiseer ’n verslag, vergesel van die uitslae van die ondersoek.

Vanjaar is die Biblioteek genooi om ’n bydrae tot die verslag, The State of Open Data Report 2022, te lewer. Samuel Simango, die Biblioteek- en Inligtingsdiens se Bestuurder: Navorsingsdatadienste, het ’n artikel geskryf met die titel “Preparing for South Africa’s proposed open data strategy: lessons from Stellenbosch University”. Hierin bespreek Samuel hoe die Universiteit seker maak dat voldoen word aan die kernaspekte van die Suid-Afrikaanse oopdatastrategie soos verwoord in die voorgestelde nasionale data- en wolkbeleid. Samuel se bydrae kan hier gelees word.