Jammer, hierdie bladsy is nie in Afrikaans beskikbaar nie.
Biblioteekgids vir Navorsingsdatabestuur
Sukkel jy met sekere aspekte van die bestuur van jou navorsingsdata? Het jy ’n behoefte aan meer inligting oor die bestuur van navorsingsdata aan Universiteit Stellenbosch sodat jy jou data meer effektief kan bestuur of sodat jy die Universiteit se studente en navorsers beter kan ondersteun? Indien wel, is die biblioteekgids vir navorsingsdatabestuur jou antwoord. Hierdie aanlyn inligtingsbron is pas deur die Biblioteek en Inligtingsdiens gepubliseer en verskaf ’n oormaat van inligting wat verband hou met verskillende aspekte van die bestuur van navorsingsdata. Die volgende onderwerpe word gedek:
- Die beplanning van databestuur
- Die skep en versamel van data
- Dataprosessering
- Data-analise
- Die publiseer van data
- Die Navorsingsdatabestuur (NDB) Avontuurspeletjie
- Die beheer van navorsingsdatabestuur by Universiteit Stellenbosch
- Navorsingsdatadienste aangebied deur die Biblioteek en Inligtingsdiens
Indien jy daarin geïnteresseerd is om jou vaardighede ten opsigte van navorsingsdatabestuur te verbeter of om beter ondersteuning vir navorsingsdatabestuur te bied, kliek hier vir toegang tot die biblioteekgids vir navorsingsdatabestuur.
Veranderinge by Biblioteek na herroeping van Covid-19-regulasies
Ná die herroeping van die oorblywende nasionale Covid-19-regulasies op 22 Junie 2022 en ’n verklaring deur die Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel op 24 Junie, het die Biblioteek (US Biblioteek sowel as takbiblioteke) besluit om die volgende veranderinge te implementeer:
Aantal kliënte en besprekingstelsel
Vanaf 27 Junie 2022 is daar nie meer ‘n beperking op die aantal kliënte nie en die biblioteekgeboue kan tot hul volle kapasiteit gevul word. Die besprekingstelsel is nie meer van toepassing nie, behalwe in die geval van die Innovasieruimte, die Ouditorium en sommige seminaarkamers in die US Biblioteek.
Ontsmetmiddels en sosiale distansiëring
Die Biblioteek sal voortgaan om ontsmetmiddels in biblioteekgeboue te voorsien en kliënte word aangemoedig om steeds, waar moontlik, sosiale distansiëring toe te pas.
US-toegangskaarte
Personeel en studente word daaraan herinner dat hulle nie sonder hulle personeel- of studentekaarte toegang tot die biblioteekgeboue sal kry nie.
Besoekers
Die Biblioteek is besig om ‘n nuwe toegangsstelsel vir besoekers (soos alumni, voornemende nagraadse student en skoolleerders) te implementeer. Totdat die nuwe stelsel in plek is het besoekers nie instaptoegang tot die biblioteke nie.
Besoekers mag wel per afspaak die biblioteke persoonlik besoek. Kontak US Biblioteek Spesiale Versamelings, US Biblioteek Kliëntediens, Musiekbiblioteek, Teologiebiblioteek, Ingenieurs- & Bosboubiblioteek, Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe Biblioteek of Bellvilleparkkampusbiblioteek om ‘n afspraak te maak.
Besoekers wat kwalifiseer vir uitleenvoorregte mag versoek om ‘n boek af te haal.
Alle besoekende navorsers en akademici moet vooraf met die fakulteite en departemente wat hulle kom besoek reëlings vir toegang tot die biblioteke tref.
Klagtes oor geraasvlakke
Ná klagtes oor die hoë vlakke van geraas in die Biblioteek, word personeel en studente herinner om by die Biblioteekreëls te hou. Die Biblioteek het toegewyde stil areas waar gesels nie toegelaat word nie. Hierdie reël sal in die tweede semester streng toegepas word.
Kontak me Delene Pretorius vir meer inligting.
Julle het gepraat! – Ons tree op! Biblioteekopname 2021
Indien jy een van die 1 147 kliënte was wat verlede jaar gepraat het deur die Biblioteek se biblioteekopname te voltooi, het jy dit vir die Biblioteek moontlik gemaak om vas te stel waar ons goed doen, maar ook waar ons moet verbeter. Hier onder gee ons terugvoer en dui aan wat ons gaan doen in antwoord op wat jy gesê het.
1. IT | |
Julle het gesê… | Ons tree op… |
Voorsien hulpmiddels wat maklik is om te gebruik en wat my bemagtig om dinge self te vind | · Die Biblioteek is besig om video-tutoriale en nog kursusse op SUNLearn te ontwikkel |
Maak dit maklik om inligting op die Biblioteek se webblad te vind | · Die Biblioteek het interimveranderinge op die webblad aangebring
· Ons ondersoek ook die herontwerp van ’n kliëntgefokusde webblad met beter navigasie |
Maak dit vir my maklik om self inligting op te spoor en gebruik | · Die videotutoriale en die verbeterde Biblioteekwebblad sal dit vir jou maklik maak om self toegang tot inligting te kry |
Maak dit maklik om my toestelle (skootrekenaar, slimfoon en tablet) te gebruik om van buite die kampus toegang tot die Biblioteek se e-bronne en dienste te verkry
|
· Die Biblioteek is besig om videos te ontwikkel wat jou sal wys hoe om van jou toestelle toegang tot bronne te kry
· Die Biblioteek het inligting oor hoe om toestelle te gebruik om toegang tot e-bronne te kry bygevoeg by die webinaar Off-campus access to Library E-resources (#SmartStudent werksessie) sowel as by die opleidingsessies vir voor- en nagraadse studente · Laat weet ons gerus indien daar nog enige uitdagings is en ons sal met graagte daaraan aandag gee |
2. Versamelings en inligtingshulpbronne | |
Julle het gesê… | Ons tree op… |
Verbeter die gedrukte en elektroniese tydskrifversamelings wat ek vir my werk benodig | · Ons sal volhou om aktief te onderhandel en beding vir bykomende befondsing om gedrukte en elektroniese tydskrifversamelings wat vir leer, onderrig en navorsing benodig word, te kan uitbrei
· Die Biblioteek sal ook volhou om julle (ons kliënte) te betrek by die aanwending van ons materiaalbegroting en sal jaarliks die nodige inligting aan fakulteite stuur. Fakulteite word ook die geleentheid gegee om hul tydskriftitels te hersien |
3. Navorsingsteun | |
Julle het gesê… | Ons tree op… |
Verbeter navorsingsteun (bv hulp met die bestuur van my verwysings, navorsingsdata, ooptoegangpublisering en om tred te hou met my navorsingsimpak) | · Die Biblioteek wend ‘n grootse poging aan om navorsers en nagraadse studente te bereik en beveel die bywoning van ons #SmartResearcher werksessies en die jaarlikse Navorsingsweek aan
· Ons brei ons bemarking uit deur bv ons blog Library Research News, biblioteekgidse, sosiale media en gerigte e-pos. Ons sal volhou om nuwe maniere te ondersoek om ons dienste aan jou as kliënt te bemark |
Voltooiing van opknappingswerk by US Biblioteek
Dit is vir ons aangenaam om bekend te maak dat die US Biblioteek se Opknappingsprojek voltooi is. Konstruksie het in Februarie 2021 begin en is aan die begin van Mei 2022 voltooi. Die amptelike oorhandiging aan die Biblioteek het op 13 Mei 2022 plaasgevind. Behalwe vir enkele haakplekke, is die projek nou afgehandel.
Die projek is in drie oorvleuelende fases aangepak:
Fase 1 het bestaan uit die opgradering van die kliëntedienstoonbank, kortleen- en verwante werkareas vir personeel, personeeltoilette en studentetoilette op die laer vlak.
Tydens Fase 2 is studieareas en nuwe vloerbedekking in die middelste gedeelte van die boonste vlak aangebring
Fase 3 het die opgradering van die ingangsportaal, toegangsbeheer en nuwe sekuriteitsarea behels, sowel as ’n nuwe ontspanningsleesarea en die installering van nuwe werktafels vir studente langs die dubbelvolume-ruimte
Ons bedank graag al ons kliënte vir hul geduld, begrip en verdraagsaamheid tydens die opknappingswerk. Die werk was baie ontwrigtend, maar ons glo dat hierdie opknappings gaan verseker dat kliënte toegang het tot gerieflike en doeltreffende ruimtes wat pas by ’n wêreldklasbiblioteek in ’n wêreldklas-navorsingsuniversiteit.
Kontak gerus vir Delene Pretorius vir meer besonderhede.
Sien die fotogalery van voltooide areas.
Institusionele Ooptoegangooreenkomste en -ondersteuning
Die Biblioteek- en Inligtingsdiens kondig graag aan dat drie nuwe Read & Publish ooreenkomste met eweknie-beoordeelde uitgewers aangegaan is, wat die publikasie van artikels in ooptoegangtydskrifte sal bevorder. Die ooreenkomste is deur SANLiC (Suid-Afrikaanse Nasionale Biblioteek- en Inligtingskonsortium), waarvan Universiteit Stellenbosch (US) ’n lid is, bemiddel. Hierdie ooreenkomste is bykomend tot die ooreenkomste wat in 2021 met Cambridge University Press (CUP), die Association for Computing Machinery (ACM) en die Royal Society of Chemistry (RSC) aangegaan is
SANLiC is ’n konsortium sonder winsbejag wat namens akademiese biblioteke die koste-effektiewe aankoop van en toegang tot inligtingsbronne beding.
Emerald tydskrifte
Die Emerald/SANLiC ooreenkoms is geldig vanaf 2022-2024. Die ooreenkoms is ’n Read & Publish ooreenkoms wat leestoegang bied tot die Emerald titels waarop die US inteken, sowel as die vergunning dat kwalifiserende outeurs ’n beperkte aantal artikels sonder publikasiekoste kan publiseer in Emerald se goue ooptoegangtydskrifte en die hibriede tydskrifte waarop die US inteken.
Die beperking op die aantal artikels wat gratis gepubliseer kan word, is gesamentlik van toepassing op alle deelnemende lede van die Emerald/SANLiC ooreenkoms.
- 2022 = 111
- 2023 = 134
- 2024 = 158
Aansoeke sal hanteer word in orde van ontvangs. Emerald sal die artikellewering monitor en die SANLiC belanghebbendes op hoogte hou.
SAGE tydskrifte
Die SAGE/SANLiC Read & Publish ooreenkoms is geldig van 2022-2024, en verskaf onbeperkte toegang tot die SAGE Premier tydskrifversameling wat uit meer as 1 100 titels bestaan. Die SAGE/SANLIC kontrak maak voorsiening vir US-outeurs om ’n onbeperkte aantal ooptoegangartikels in SAGE se hibriede titels te publiseer sonder om publikasiefooie te betaal.
US-outeurs wat in SAGE se lys van Pure Gold Open Access Journals publiseer, sal ‘n afslag van 20% op die publikasiekoste kry. Daar is ‘n beperkte aantal uitsonderings waar SAGE kontraktueel verhoed word om hierdie afslag te bied. Outeurs kan ’n lys van die titels by die uitgewers aanvra.
Institution of Mechanical Engineers (IMechE) tydskrifte op die SAGE platform
Die SAGE/SANLiC Read & Publish ooreenkoms is geldig van 2022-2024, en sluit toegang tot die IMechE tydskrifte in. Die ooreenkoms laat kwalifiserende outeurs toe om ’n onbeperkte aantal artikels gratis met oop toegang in die IMechE versameling te publiseer.
Die versameling sluit die Proceedings of the Institution of Mechanical Engineers, wat uit 16 dele bestaan, in sowel as twee toonaangewende eweknie-beoordeelde ingenieurstydskrifte. Addisionle toegang tot inligting terugwerkend tot 1997 is hierby ingesluit, onderhewig aan sekere voorwaardes.
Wiley tydskrifte
Die Wiley/SANLiC Read & Publish ooreenkoms, wat geldig is van 2022-2025, bestaan uit verskillende voordele wat in fases oor die verloop van die kontrak infaseer word. Dit bied aan US-gebruikers leestoegang tot meer as 1 400 Wiley tydskrifte. In 2022 kan kwalifiserende outeurs gratis in Wiley hibriede ooptoegangtydskrifte publiseer. Daar is ’n beperking op die landwye aantal SANLiC deelnemers wat artikles sonder publikasiekoste kan publiseer. Aansoeke word hanteer in orde van ontvangs. Gedurende die 2023-2025 tydperk sal kwalifiserende outeurs gratis in Wiley Gold ooptoegangtydskrifte en Hindawi tydskrifte mag publiseer. Lees meer hieroor in SANLIC se persverklaring.
Wat staan navorsers te doen om voordeel te trek uit die ooreenkomste?
Navorsers dien artikels soos normaalweg by die uitgewer in. Indien die artikel vir publikasie aanvaar word, sal die uitgewer die ooreenstemende ooptoegangvoordeel toepas.
Vir navrae: Ms Caretha Nel. Tel 021 808 4433, of stuur ‘n e-pos na caretha@sun.ac.za
Inligting oor US Ooptoegang inisiatiewe is beskikbaar op ons webblad.
8 April 2022
Nuutste nuus: opknappingswerk in die Universiteit Stellenbosch Biblioteek
Ons deel graag die nuutste nuus oor die voortgesette opknappingswerk by die Universiteit Stellenbosch Biblioteek in aansluiting by ons vorige kommunikasie.
Die opknappings bestaan uit die opgradering van bestaande fasiliteite en infrastruktuur om in kliënte se behoeftes te voorsien en ‘n moderne estetiek vir die US Biblioteek te skep, terwyl die integriteit van die bestaande gebou behoue sal bly. Die hooffokus van die projek is om aan kliënte gerieflike en doeltreffende ruimtes te bied en terselfdertyd benutting van die Biblioteek te vergemaklik.
Ons is bly om aan te kondig dat die projek glad verloop het ten spyte van ’n aantal haakplekke en dat ons die voltooiing van die projek nader.
Weens oorvleueling tussen die fases, het ons besluit om nou terugvoer te gee oor wat afgehandel en wat nog uitstaande is.
Voltooide areas
Ons is baie bly om aan te kondig dat die Sirkulasie-area, studieareas sowel as die studentetoilette op die boonste vlak afgehandel en in gebruik is. Neem asseblief kennis dat al die toilette vir kliënte op die boonste vlak van die US Biblioteek nou geslagsneutraal is.

Al die boeke en tydskrifte is reeds teruggepak en is weer toeganklik vir gebruikers.

Die selfuitreik-en-terugbesorgeenhede is by die Sirkulasietoonbank op die boonste vlak geïnstalleer en is in gebruik.
Voltooiing van die res van die werk
In die ingangsarea moet die ontspanningsleesarea en vloere nog voltooi word en aluminiumvensters en-deure moet geïnstalleer word.
Die werk in die ontspanningsleesarea behels die installering van studieareas en nuwe meubels. Sodra dit voltooi is, sal koerante en ontspanningsleesstof vir kliënte se gebruik hier uitgestal word.
In aansluiting by bogenoemde is die rekenaars, drukkers, e-inligtingskiosk en fotokopieerareas op die boonste vlak nog nie in gebruik nie. Die networkinstallasie wat hiervoor nodig is, sal teen die middel van April voltooi wees.
Die beoogde finale datum van afhandeling en oorhandiging van die projek is nou die begin van Mei 2022.
Ons bedank graag ons kliënte vir julle verdraagsaamheid, begrip en geduld tydens hierdie opknappingsproses. Ons wil julle weer verseker dat hierdie opknappings nodig was om vir julle toegang tot gemaklike en effektiewe ruimtes te kan bied.
Kontak gerus vir Delene Pretorius vir verdere besonderhede.
(English) Farewell to Amohelang Boyce and Philip de Villiers
Jongste nuus oor die Universiteit Stellenbosch Biblioteek se Opknappingsprojek
Hierdie is die jongste nuus oor die voortgesette opknappingswerk by die Universiteit Stellenbosch Biblioteek na aanleiding van ons vorige kommunikasie.
Die bestaande fasiliteite en infrastruktuur word opgeknap om in kliënte se behoeftes te voorsien en ’n moderne estetiekvir die US Biblioteek te skep, terwyl die integriteit van die bestaandegebou behoue sal bly. Die hooffokus van die projek is om aan kliënte gerieflike en doeltreffende ruimtes te bied en terselfdertyd benutting van die Biblioteek te vergemaklik.
Ons kondig met genoeë aan dat die projek met rasse skrede vorder, ondanksenkele vertragings veral as gevolg van Covid-19.
Fase Een
Ten spyte van die uitdagings, is fase een van die projek gedeeltelik afgehandel.
Die studentetoilette op die onderste vlak is voltooi en is reeds in gebruik (sien foto’s hieronder).

Die kliëntedienstoonbank, die reserwe-afdeling en verwante personeelwerkareas op die boonste vlak is ook opgeknap en is vanaf 22 November 2021 operasioneel. Sien foto’s hieronder.


Die studie- en rekenaarareas op die boonste vlak is bykans voltooi. Die netwerk moet nog in hierdie ruimtes aangelê word en sal na verwagting teen einde Januarie 2022 afgehandel wees.
Fase Twee
Hierdie fase sluit die opknapping van die studentetoilette op die boonste vlak, die leesarea en sekuriteitshek in. Die werk hieraan vorder en sal na verwagting teen middel Maart 2022 voltooi wees.
Voortgesette werk word in die sentrale deel van die boonste vlak gedoen. Nuwe vloere sal voltooi word, rakke moet weer aanmekaargesit en boeke en gedrukte vaktydskrifte in die rakke gepak word.
Fase Drie
Die oorblywende bouwerk sal opknapping van die ingangsportaal, toegangsbeheer en ‘n nuwe Tattle Tape-sekerheidstelsel insluit.
Werk sal begin 2022 voltooi wees.
Tydens al die boufases sal deurlopende werk aan plafonruimtes en dienste vir data-aktivering plaasvind.
Ons vra om verskoning vir enige ongerief wat tydens hierdie projek veroorsaak word. Wees egter gerus dat jy ná die projek toegang sal hê tot gerieflike en doeltreffende ruimtes.
Kontak Delene Pretorius vir verdere besonderhede oor die projek.
22 November 2021
Foto’s: Lindsay Main; Bronwyn Bruton