Biblioteek ontvang Noseweek-skenking

Die hele reeks van 250 uitgawes van die Suid-Afrikaanse ondersoekende tydskrif, Noseweek, is vroeër vanjaar deur die Open Media-trust aan die Universiteit Stellenbosch (US) Biblioteek- en Inligtingsdiens geskenk.

Die skenking sluit fisiese eksemplare van die tydskrif asook ’n volledige digitale argief in.

Ongelukkig het Noseweek, wat uitgegee is deur Chaucher Publications, se laaste gedrukte uitgawe in Maart vanjaar verskyn. Die publikasie het sedert Junie 1993 maandeliks verskyn met Martin Welz as redakteur.

Die publikasie beskryf homself as “Suid-Afrika se enigste ondersoekende tydskrif en bied oneerbiedige, onafhanklike, eerstehandse inligting oor die sakewêreld, beroepe, politiek en die samelewing in Suid-Afrika […] dit is noodsaaklik vir enigiemand wat wil weet wat in die reënboognasie aan die gang is” (Noseweek, 2021).

Die tydskrif se voorganger het as Nose bekendgestaan en is in 1983 deur Martin Welz op die been gebring met prysgeld wat hy as parlementêre korrespondent van die Sunday Express ontvang het vir ’n onthulling oor “die korrupsie van dokters en openbare gesondheidsdienste deur ’n farmaseutiese groep” (Welz, 1996). Nose is tot 1987 uit Welz se motorhuis uitgegee en dit is belangrik dat sommige van hierdie vroeë getikte en gekramde uitgawes deel uitmaak van die fisiese versameling wat aan die Biblioteek geskenk is.

Ryk bron

Die Nosweek-versameling is ongetwyfeld ’n ryk bron van navorsing oor die hedendaagse Suid-Afrikaanse geskiedenis, politiek, regering, samelewing, sakegebeure en joernalistiek.

Volgens prof Lizette Rabe, voorsitter van die Departement Joernalistiek aan die US, is dit “te danke aan die joernalistiek, veral ondersoekende joernalistiek” dat Suid-Afrika se brose demokrasie beskerm is. “Noseweek sal ryk materiaal vir verdere navorsing bied, danksy die dapper werk van Martin Welz oor die verloop van so baie dekades – vanaf die donker dae van apartheid vóór die demokrasie en, sedert die koms van demokrasie, die ongelooflike verskeidenheid korrupsie, bedrog en staatskaping”.

Die versameling verryk ook ons manuskripversamelings wat die afgelope paar jaar uitgebrei is danksy die byvoeging van meer moderne versamelings soos die Frederik van Zyl Slabbert-versameling, die IDASA-versameling en die digitale Vrye Weekblad-versameling. Ons het onlangs ook die Suid-Afrikaanse Skuldkrisis 1985/86-versameling ontvang wat op 7 Mei vanjaar bekendgestel is. Hierdie belangrike versameling is ’n betekenisvolle stuk in die legkaart ten opsigte van die pad na demokrasie in Suid-Afrika en die einde van apartheid.

As ’n onafhanklike publikasie, het Noseweek “sonder om te blik of te bloos vir die onderdruktes en lydende partye geveg, die waarheid onthul en daarin geslaag om teen alle verwagting in vir 28 jaar te oorleef” (Welz, 2021). Die tydskrif het dikwels met lynskets-spotprente deur die gevierde digter, uitgewer, spotprentkunstenaar en apteker, Gus Ferguson (1940-2020), gespog.

Volgens radiojoernalis John Maytham het Noseweek “talle groot stories vir die eerste keer aan die lig gebring wat daarna sonder erkenning aan Noseweek in die hoofstroommedia verskyn het en het ’n waardevolle rol in ons media-ekostelsel [gespeel]”. Hy beskryf dit ook as ’n “idiosinkraties” belangrike publikasie wat nie gekonformeer het nie” (Maytham, 2021).

Prof Janis van der Westhuizen, voorsitter van die Departement Politieke Wetenskap aan die US, beskryf die belangrikheid van die hulpbron soos volg: “’n Lewendige en aktiewe burgerlike samelewing is die hart van ’n demokrasie, met ’n vrye en onafhanklike mediasektor wat ’n sleutelrol speel om regeringsleiers verantwoordbaar aan die land se mense te hou. As ’n klein publikasie wat nie gehuiwer het om sy stem te laat hoor nie, het Noseweek ’n uiters belangrike rol daarin gespeel om korrupsie en die misbruik van mag gedurende Suid-Afrika se onlangse verlede bloot te stel. Daarom het dit ’n aansienlike bydrae gelewer tot die skepping van wat die filosoof Karl Popper as ‘’n oop samelewing’ in Suid-Afrika beskryf. Hoewel ’n mens dus hartseer is oor die sluiting van klein, onafhanklike mediahuise soos Noseweek, is dit as sodanig bemoedigend om te weet dat die volledige Noseweek-versameling nou tot navorsers en toekomstige geslagte se beskikking sal wees deur die SUNDigital-versameling.”

Die Biblioteek voel geëerd om hierdie joernalistieke skat vryelik aan navorsers en die breër publiek beskikbaar te stel deur die digitale versameling op ons digitale erfernis-bewaringsplatform, die SUNDigital-versameling te huisves. Toegang kan tot die versameling verkry word by http://digital.lib.sun.ac.za/handle/10019.2/16692. Al 250 uitgawes kan hier in PDF-formaat gesien en nagevors word.

  • Vir enige verdere navrae of meer inligting, stuur asb ’n e-pos aan Mimi Seyffert-Wirth by mseyf@sun.ac.za.

Verwysings:

Virtuele uitstalling van inheemse argitektuur

Al word mense se wonings dikwels oor die hoof gesien en nie na behore waardeer nie, is dit ’n belangrike deel van die daaglikse lewe en dit vorm die kern van werk, seremonie, sosialisering en menslike kultuur. Geboue, net soos ander artefakte, beliggaam die waardes en kultuur van mense wat hierdie ruimtes ontwerp, bou en bewoon. Hierdie Erfenismaand wil ons graag ons gedeelde kulturele erfenis vier deur ons diverse inheemse argitektuur en met ’n uitstalling wat die kreatiewe vindingrykheid van ons Suid-Afrikaanse voorvaders uitbeeld.

Die uitstalling is saamgestel uit items uit die James Walton- en die André Pretorius-versameling wat in Spesiale Versamelings in die Universiteit Stellenbosch Biblioteek gehuisves word. Dit is op SUNDigital beskikbaar.
Besoek gerus die virtuele uitstalling en verdiep jou in die daaglikse lewe van die Suid-Afrikaanse mense, deur die oë van hul wonings.

Avontuurspeletjie vir Navorsingsdatabestuur bekendgestel

Die Biblioteek- en Inligtingsdiens, Universiteit Stellenbosch kondig met graagte die Navorsingsdatabestuur (NDB) Avontuurspeletjie aan. Die NDB speletjie is ‘n teksgebaseerde, interaktiewe en fiktiewe ernstige spel met elemente van rolspel. Die speletjie is gebaseer op uitdagings met databestuur wat tydens ‘n navorsingsprojek ondervind word. Dit is ‘n aanlyn speletjie waar spelers hul eie avontuur kies deur ‘n gesimuleerde navorsingsprojek wat die volgende stappe dek: navorsingsdatabeplanning; inwin van data, organisering van data, beskrywing van data en publikasie. Tydens die spel word navorsingsuitdagings telkens teëgekom. Die speletjie is tussen 2017 en 2020 in samewerking met die Universiteit van Bath Biblioteek deur Alex Ball en Nushrat Khan (Universiteit van Bath) en Samuel Simango (Universiteit Stellenbosch) ontwikkel. In Januarie 2021 het die adviesraad vir opkomende navorsers van die Welcome Trust die speletjie onderskryf deur dit by hul hulppakket, Wellcome Open Research early career researchers pack, in te sluit wat dit dus as ‘n nuttige hulpmiddel vir navorsers erken.

Doel van die Speletjie

Die doel van die NDB speletjie is om goeie praktyke in terme van navorsingsdatabestuur te demonstreer en te leer, en om navorsers te help om hierdie praktyke te verstaan. Die spesifieke leeruitkomste fokus op die volgende aspekte:

  1. Databestuurbeplanning
  2. Ontwerp van inligtingstukke vir deelnemers aan navorsing en toestemmingsvorms
  3. Kies van toepaslike toerusting vir navorsingsprojekte
  4. Verkryging van geskikte derdeparty data
  5. Organisering van navorsingsdata
  6. Veilige stoor van navorsingsdata
  7. Analise en dokumentering van navorsingsdata
  8. Voorbereiding van data vir argivering
  9. Publikasie van navorsingsdata

Die Gehoor

Die NDB speletjie is op nagraadse studente en navorsers in die vroeë stadium van hul loopbane gemik. Enige persoon wat egter belangstel in hoe NDB op ‘n praktiese vlak werk, bv. navorsingsondersteuningspersoneel sal ook baat vind by die spel.

Die Spel

Die speletjie neem spelers deur die verskeie stadiums van die navorsingsdatabestuursiklus waar hulle telkens met ‘n databestuursuitdaging gekonfronteer word. Dit stel hulle dan in staat om besluite te neem wat die sukses van hul navorsingsprojek kan beïnvloed. Spelers beweeg deur die spel deur eenvoudige binêre keuses of deur raaiselopsies te werk. Deur hierdie proses word die effektiwiteit van spelers se besluite getoets. Die toon van die speletjie is lig om die element van vermaak te behou ten spyte van die feit dat dit ‘n ernstige spel is.

Aangesien die spel die totale navorsingsdatabestuursiklus simuleer, kan navorsers die gevolge van besluite in ‘n veilige omgewing ervaar wat hul toelaat om foute te maak en daaruit te leer, sonder om die reëele gevolge in ‘n werklike omgewing te ervaar. Spelers kan kies om die hele speletjie te speel of om slegs op spesifieke fases van die siklus te fokus.

Vind meer uit en speel

Die NDB speletjie is in Desember 2020 by die Universiteit van Bath bekendgestel. Die speletjie is onder die Creative Commons (CC BY-NC-SA) lisensie uitgegee en word ook op GitLab gehuisves. Klik hier om die speletjie te speel.

Vir meer inligting, kontak gerus vir Samuel Simango by ssimango@sun.ac.za

 

Addisionele leesstof

Institusionele ooptoegangooreenkomste en -befondsing

Die Biblioteek- en Inligtingsdiens kondig graag aan dat ons ooreenkomste met ‘n paar uitgewers aangegaan het wat dit vir navorsers makliker maak om ooptoegangartikels by hierdie uitgewers te publiseer, en in sommige gevalle selfs sonder om enige publikasiefooie te betaal.

BioMed Central en SpringerNature

Ons ooreenkoms met BMC is vervang deur ‘n ooreenkoms met SpringerNature en sluit nou al BMC, Nature Research (insluitend Nature Communications en Scientific Reports), Palgrave Macmillan, Springer en SpringerNature se volledig ooptoegangtydskrifte in. Ingevolge hierdie ooreenkoms word die publikasiefooie vir hierdie tydskrifte van die Universiteit Stellenbosch se depositorekening by SpringerNature afgetrek. Daar is ook ‘n afslag van 15% op die publikasiekoste van artikels in BMC en SpringerOpen se tydskrifte.

US-geaffilieerde outeurs moet die Ooptoegangpublikasiefonds se aansoekvorm voltooi voordat hulle ‘n artikel vir publikasie by een van hierdie tydskrifte indien. Die outeur se affiliasie met Universiteit Stellenbosch moet tydens indiening vermeld word. Indien ‘n artikel vir publikasie aanvaar word, sal SpringerNature die Biblioteek vra om die outeur se US-affiliasie te bevestig. Die volle publikasiekoste sal dan van ons depositorekening afgetrek word. Aangesien die Ooptoegangpublikasiefonds egter slegs 50% van US-outeurs se gedeelte van die publikasiefooi befonds, sal ‘n terugbetaling in die vorm van ‘n regstellende joernaaltransaksie op die SUN-stelsel van die outeur geëis word.

Cambridge University Press (CUP)

Die Biblioteek se Read and Publish-ooreenkoms met CUP dek ooptoegangpublikasiefooie sowel as ons subskripsiekoste. Dit maak dit moontlik vir alle US-outeurs om artikels met oop toegang in CUP-tydskrifte te publiseer sonder enige ekstra koste. Outeurs moet hulle @sun e-posadres gebruik wanneer hulle ‘n artikel by ‘n CUP ooptoegangtydskrif indien.

Association for Computing Machinery (ACM)

ACM is ‘n uitgewer sonder winsbejag wat beplan om bine vyf jaar ten volle ooptoeganklik te wees. Die Biblioteek se ooreenkoms met ACM sluit toegang tot al ACM se tydskrifte en laat US-outeurs toe om sonder enige koste hul artikels met oop toegang by ACM te publiseer. Dit is ‘n ooreenkoms van drie jaar (2021-2023) met ‘n vasgestelde prys vir die duur van die ooreenkoms. Outeurs kan kies om nie van die ooptoegangopsie gebruik te maak nie.

MDPI en Royal Society of Chemistry (RSC): Afslag op publikasiekoste

US-outeurs wat by MDPI publiseer, sal ‘n afslag van 10% op die publikasiekoste kry en by RSC 15%.

Meer inligting oor die Ooptoegangpublikasiefonds is op ons webblad beskikbaar.

Navrae: Me Naomi Visser, nrv@sun.ac.za, Tel 021 808 4433