US bibliotekaris neem deel aan ’n internasionale webinaar

Op Donderdag 13 Augustus 2020 het Naomi Visser, die Biblioteek- en Inligtingsdiens se Bestuurder: Elektroniese Bronne deelgeneem aan ’n internasionale Elsevier Library Connect webinaar met die titel Librarian best practices ensure uninterrupted access to research and education.

Naomi het insette van haar kollegas gekry ter voorbereiding van die aanbieding en het gesels oor gereedheid van infrastruktuur, kommunikasie met gebruikers om seker te maak dat almal bewus is van die voortgesette dienste van die Biblioteek en waar om toegang tot ons bronne te kry en oor die uitdagings verbonde aan werk van die huis af. Sy het genoem dat daar ’n aansienlike toename was in die gebruik van ons databasisse tydens die inperking in vergelyking met dieselfde tydperk in 2019. Die moeite wat die biblioteekpersoneel gedoen het om met ons gebruikers te kommunikeer het bygedra tot ’n gemiddelde toename van 70% in die gebruik van die vier bronne wat as voorbeeld gebruik is.

Tydens die inperking het bibliotekarisse volgehou met die gebruik van bestaande biblioteekgidse, maar daar is ook ’n nuwe gids geskep wat spesifiek handel oor bronne wat gratis beskikbaar is tydens die COVID-19 pandemie.

Die geskeduleerde navorsingsopleidingsessies word tydens die inperking aanlyn aangebied en lok baie meer registrasies as die sessies wat normaalweg in die Biblioteek aangebied word.

Twee van die grootste uitdagings vir die Biblioteek was die aankoop van individuele e-boeke en toegang tot e-handboeke. Naomi het ook genoem hoe belangrik dit was vir almal om bewus te wees van die individuele uitdagings van ons kliënte en kollegas.

Me Emily Singley, Hoof van biblioteekstelsels aan die Boston Kollege in die VSA, was mede-aanbieder van die webinaar wat deur ongeveer 400 mense van dwarsoor die wêreld bygewoon is.

Naomi Visser

VN paneellid bestry vals inligting

“Vals nuus is hier om te bly” – dit is die siening van Me Ellen Tise, Senior Direkteur van die Biblioteek- en Inligtingsdiens van Universiteit Stellenbosch, wat haar standpunt oor die rol van biblioteke in die stryd teen vals inligting gedeel het as deel van ’n internasionale paneel van VN biblioteke.

Me Tise het opgemerk dat dit wil voorkom of vals nuus floreer in tye van krisis en onsekerheid, soos in die geval van COVID-19. Sy het verwys na ander krisisse in Suid-Afrika wat ook tot die ontstaan van vals nuus gelei het, soos MIV/Vigs en xenofobiese aanvalle. Sy het daarop gewys dat vals nuus tydens die COVID-19 pandemie op vyf areas gefokus het, naamlik die oorsprong van die virus, die bestaan van die virus, die rede vir die bestaan van die virus, infeksiekoerse en wie besmet kan word en wondergeneesmiddels. Me Tise het daarop gewys dat, alhoewel biblioteke (of enigiemand anders) nie vals nuus kan uitwis nie, hulle wel kan help om die ergste gevolge van vals nuus te neutraliseer. Biblioteke se belangrikste rol in die stryd teen vals nuus lê in bewusmaking, die verskaffing van geloofwaardige inligtingsbronne, om biblioteekgebruikers bewus te maak van die skadelike gevolge van vals nuus en om mense te bemagtig om te kan onderskei tussen feit en fiksie. Me Tise was in die geselskap van drie ander gerekende paneellede van ander lande.

Volgens mnr Thanos Giannakopoulos, hoofbibliotekaris van die VN se Dag Hammarskjöld Biblioteek, is die webinaar goed ontvang met meer as 90 mense wat van reg oor die wêreld ingeskakel het.

Dokumentesentrumlesing 2020

Jan Rabie: 21 sluit die deure oop: Sestig na ´60

Op Vrydag, 6 Maart is die elfde jaarlikse Dokumentesentrumlesing as deel van die US Woordfees met groot sukses in die ouditorium van die US Biblioteek aangebied.

Met vanjaar se Woordfeestema, “Aanhou beweeg en geraas maak”, geneem uit Jan Rabie se baanbrekerkortverhaalbundel 21, is daar gefokus op die Jan Rabie-versameling wat in die Dokumentesentrum van die Afdeling Spesiale Versamelings in die US Biblioteek gehuisves word. Hierdie versameling is in 2002 geskenk deur Marjorie Wallace, eggenoot van Jan Rabie, en in 2014 deur Marina Brink van die Biblioteek- en Inligtingsdiens geïndekseer. Die indeks is ook elektronies beskikbaar.

Tydens die Dokumentesentrumlesing het die drie sprekers, professor Steward van Wyk (Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Wes-Kaapland), professor Andries Visagie (Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch) en die skrywer en joernalis MC Botha, gesels oor die werk en lewe van Jan Rabie. Hulle het ook gesels oor die invloed wat Rabie en sy kortverhaalbundel 21 op die Afrikaanse letterkunde gehad het.

Rabie se baanbrekersversameling kortverhale, 21, is in 1956 gepubliseer en word gesien as die sleutel tot die grensverskuiwende Sestigerbeweging in Afrikaans en as die begin van die Sestiger literêre beweging.

Steward van Wyk, sameroeper van die Jan Rabie- en Marjorie Wallace-skrywersbeurs, het gepraat oor die invloed van Rabie se werk op die kurrikulum van die Afrikaanse letterkunde wat aan die Universiteit van Wes-Kaapland aangebied word. Valda Jansen is die ontvanger van die Jan Rabie- en Marjorie Wallace-skrywersbeurs vir 2020.

Andries Visagie het gefokus op een van die kortverhale in 21, “Die man met die swaar been”, terwyl die MC Botha gepraat het oor sy persoonlike vriendskap met Jan Rabie en sy Skotse kunstenaarsvrou, Marjorie Wallace, hulle verblyf op Onrus, en foto’s gedeel het.

 

 

Ná die gesprek het die gaste die uitstalling van die omvattende versameling van Jan Rabie se manuskripte, aantekeningboeke, briewe, foto’s en persoonlike dagboeke in die Dokumentesentrum bekyk. Die uitstalling was tot 17 Maart oop vir besigtiging in die Afdeling Spesiale Versamelings.

 

Marieta Buys

 

Unieke etnobotaniese versameling aan Universiteit Stellenbosch geskenk

’n Besonder waardevolle, ryk en unieke manuskripversameling is onlangs aan die Universiteit Stellenbosch se Biblioteek- en Inligtingsdiens geskenk. Die Maguire San etnobotaniese versameling bestaan uit data wat tussen 1954 en 1972 deur mnr Brian Maguire, in noue samewerking met die Ju|’hoan (voorheen bekend as !Kung of !Khu) en ǃXoõ (voorheen bekend as !Kõ)-gemeenskappe in die Kalahari.

Volgens dr Judy Maguire het haar man, Brian Maguire, in die 1960’s professor Raymond Dart van “Australopithecus”-faam se veldassistent geword en navorsing gedoen oor die potensiële voedselplante van vroeë hominiede. “Gedurende hierdie tyd het hy vergelykende studies onderneem van die !Kõ versamelaar-jagters in sentraal-wes-Botswana, veral aangesien hierdie groep geen jaarlikse, stoorbare stapel- plantvoedsel gehad het waarop hulle kon staatmaak soos die manketti-neute van die !Kung (!Khu) nie, en ook geen permanente waterbron nie.

“Honderde foto’s is in hierdie tyd geneem, in die konteks van voedselversameling, die plantgemeenskappe van ekonomies belangrike voedsel, medisinale plante, die plante self sowel as die eetbare dele. Die voorbereiding van voedsel is ook afgeneem. Dit was reeds duidelik dat akkulturasie besig was om sy tol te eis.

“Voor dit het Maguire ondervinding opgedoen as etnobotanikus vir die Brock-Harvard-Peabody mediese en die Marshall etnologiese ekskursies na die !Kung van SWA gedurende die 1950’s. Dit was ‘n stadium waar byna niks rondom voedsel en medisinale plante van inheemse bevolkingsgroepe opgeteken was nie.

“Brian Maguire het daarna (1978) sy MSc (cum laude) voltooi met die titel The Food Plants of the !Khu Bushmen of North Eastern South West Africa (Namibia). Toe die werk onderneem is, was baie min bekend oor die bestaansekologie van die Kung en waarnemings is gemaak in ’n tyd toe daar minimale akkulturasie en invloede op hul voedselversamelpraktyke was. Hy is ontydig dood terwyl hy besig was met sy PhD oor die bestaansekologie van die !Kõ en met die finalisering van die werk oor die potensiële groentedieet van vroeë hominiede in die destydse Transvaal.”

Die versameling, bestaande uit manuskripte, tikwerk, sketse, diagramme, gedrukte foto’s, wit-en-swart negatiewe, kleurskyfies, veldnotaboeke en registers van plantversamelings is van groot wetenskaplike, navorsings- en erfeniswaarde. Dit was wyle mnr Maguire se wens, en ook dié van dr Judy Maguire, dat die versameling ’n bruikbare hulpbron moet word wat met jonger geslagte gedeel kan word. Dit bied die geleentheid om van ons voorouers te leer oor die volhoubare gebruik van ons inheemse plante in ’n Afrika-konteks.

’n Beduidende deel van die fisiese versameling is gedigitaliseer en hierdie digitale rekords sal openlik vir navorsingsdoeleindes in die Biblioteek se digitale erfenisbewaarplek, SUNDigital Collections, beskikbaar gestel word. Die toevoeging van die versameling sal ideaal gesien die ander digitale erfenis- en natuurerfenisversamelings wat reeds in die bewaarplek is, aanvul. Voorbeelde van sodanige versamelings is die Rudolf Marloth versameling van botaniese sketse en die James Walton versameling van streeksargitektuur, wat inligting en beelde van verskeie artefakte van Suider-Afrikaanse inheemse bevolkings insluit.

Die fisiese versameling sal mettertyd in die Dokumentesentrum van die Afdeling Spesiale Versamelings in die Biblioteek gehuisves word. Hier sal dit ook huidige versamelings, soos dié van Robert Broom, John Muir, BIC van Eeden en Jan Anthonie Engelbrecht verryk en aanvul. Hierdie versamelings hou almal verband met inheemse plantkunde, dierkunde, tale en vroeë gebruike.

Dr Maguire glo dat die kennis wat in die versameling opgesluit is, gebruik kan word om “die natuurlike uitvloei van inheemse kennisstelsels te bepaal en om die konteks van kennisoordrag beter te verstaan – die verband met bv. taalverlies (plantname) en om te verstaan watter faktore kan help om die kennis te bewaar voordat dit verdwyn as gevolg van toenemende modernisasie en akkulturasie van gemeenskappe.”

Die omvattende, noukeurig gedokumenteerde versameling is onder die Biblioteek se aandag gebring deur dr Kerry Jones, navorsingsgenoot aan die Universiteit Stellenbosch en postdoktorale navorser in taalwetenskap aan die Rhodes-universiteit. Dr Jones het saam met Dr Maguire gehelp met die sorteer en digitalisering van die versameling.

Skakel met Mimi Seyffert-Wirth, Adjunkdirekteur: Digitale Akademieskap (Biblioteek- en Inligtingsdiens), by mseyf@sun.ac.za.

Mimi Seyffert-Wirth