Ondersteuningsdienste

Graad 11 en 12 leerlinge word gekonfronteer met ʼn wye verskeidenheid loopbaanopsies. Dit is beslis ʼn voorreg, maar ook soms ʼn uitdaging wat tot heelwat kopkrap kan lei. Die Afdeling vir Studentewerwing bied daarom vakkeuse-, sowel as loopbaankeuse-assesserings aan, omdat ons voornemende studente sover as moontlik wil ondersteun om realistiese vak-, program- en loopbaankeuses te maak. Dit sluit 'n 4 uur psigometriese assessering van persoonlikheid, aanleg en belangstellings, ’n 1 uur individuele terugvoersessie, asook 'n geskrewe verslag van die resultate en aanbevelings, in.
 
empty

empty tag

Wat is 'n beroepsvoorligting-assessering?

Die doel van die beroepsvoorligting-assesseringsproses is om leerders te ondersteun in die ontdekking en verkenning van potensiële studie- en loopbaangeleenthede. Die assesseringsproses is 'n geïntegreerde en dinamiese besluitnemingsproses wat leerder se aanleg, persoonlikheidstipe en hul potensiële beroepsbelangstellings integreer en sodoende leiding gee in terme van moontlike beroepsvelde en gepaste program-opsies.

Waarom is beroepsvoorligting belangrik?

Dit bly jou verantwoordelikheid en voorreg om die finale besluit oor jou loopbaankeuse te neem. Die doel van die beroepsvoorligtingsproses is om jou te ondersteun om loopbaan-opsies te ontwikkel gebaseer op grond van jou aanleg, belangstellings, persoonlikheid en vaardighede. Jou loopbaanbesluit sal jou lewenstyl drasties beïnvloed en jou beroep sal bepaal waar jy woon, wat jou inkomste gaan wees, jou werksure, werksekerheid en hoe jy jou vrye tyd gaan spandeer.

Hoe weet ek of ek 'n beroepsvoorligtingsassessering benodig?

As jy ʼn Graad 11 of 12 leerder is, maar jy het geen idee watter loopbaanrigting jy moet kies nie of as jy 'n aantal moontlike opsies het, maar jy is steeds onseker, sal jy baat vind by 'n beroepsvoorligtingsassessering.

Wat as ek reeds ʼn beroepsvoorligting-assessering (by iemand anders of by die US) gedoen het, maar steeds onseker is oor my loopbaankeuse?

Jy is welkom om ʼn gespreksessie by een van ons sielkundiges te bespreek. Ons gebruik jou vorige assesseringsresultate, asook jou nuutste skoolrapport en kyk op grond daarvan na spesifieke program-opsies. Jy hoef dus nie weer ʼn volledige beroepsvoorligting-assessering te doen nie. Gedurende ʼn gespreksessie is dit vir ons lekker om te hoor van jou “werkskadu-ervaring” en te gesels oor al die relevante inligting wat jy tot dusver ingesamel het rakende moontlike loopbane. Neem kennis dat ‘n gespreksessie slegs beskikbaar is vir leerders wat reeds ʼn BEROEPSVOORLIGTING-ASSESSERING gedoen het en nie net ʼn vakkeuse-assessering in Graad 9 nie.

Hoe pas vakkeuse in die loopbaanbesluitnemingsproses in?

Daar is verskillende faktore wat 'n rol speel in die proses om 'n suksesvolle beroepskeuse te maak. Een van die eerste faktore is realistiese en ingeligte vakkeuse vir graad 10 tot 12. 'n Leerder se vakkeuse kan beduidende gevolge hê vir moontlike toekomstige loopbane. Daar is dikwels 'n gebrek aan kennis rakende die belangrike oorwegings wat bydra tot die maak van die regte vakkeuses. Om leerders te ondersteun in hul vakkeuse-proses, bied die Universiteit Stellenbosch se Afdeling vir Studentewerwing professionele vakkeuse-leiding vir graad 9-leerders aan.

Is dit die moeite werd om werdskadu te doen?

Werdskadu vorm grootliks deel van die beroepsvoorligtingsproses en dien 'n dubbele doel. Dit gee jou 'n meer deeglike begrip van die gemiddelde dag van 'n spesifieke werk en dit stel jou ook in staat om meer effektief te bepaal of jy in so 'n loopbaan sou pas. As dit nie moontlik is om werdskadu te doen nie, probeer om 'n onderhoud met iemand in jou gekose veld te reël om soveel moontlik inligting oor die spesifieke loopbaan in te samel.

Waar kan ek meer inligting kry oor die Universiteit Stellenbosch se program-opsies?

Kontak gerus een van ons adviseurs vir ʼn gratis adviseursessie. Hulle sal jou kan help met die aansoekproses en kan jou ook meer vertel van ons verskillende program-opsies. Stuur ʼn epos na csr@sun.ac.za om ʼn afspraak te maak.

Afrikaans