Studentelewe

Die Universiteit Stellenbosch heg groot waarde aan sy studente en is verbind tot die lewering van ’n transformatiewe studente-ervaring. Om hulle in staat te stel om sukses te behaal, bied die Universiteit ’n wye verskeidenheid student-gefokusde ondersteunings- en voorligtingsdienste.

Vind jou plek. Bou jou toekoms.

Die kampuslewe by die Universiteit Stellenbosch is dinamies en uiteenlopend. Maties Sport en ’n verskeidenheid ontspanningsprogramme hou studente aktief en verbind, terwyl studenteverenigings, kultuurgroepe en maatskaplike impak-inisiatiewe talle geleenthede bied om belangstellings te verken, vriendskappe te vorm en leierskapsvaardighede te ontwikkel.

Of jy nou in ’n koshuis, privaat studenteverblyf woon of van die huis af pendel, klusters, portuurgroepleiers en pendelgemeenskappe maak dit maklik om aan te pas en tuis te voel.

Ons plaas studentewelstand in die middel van die ervaring – van berading en akademiese ondersteuning tot finansiëlehulp-advies en toegewyde dienste vir internasionale studente, jy sal deurgaans omvattende ondersteuning ontvang.

Studentegemeenskappe

Die Universiteit Stellenbosch se studentepopulasie bestaan ​​uit koshuisgebaseerde en pendelaarstudentegemeenskappe. Pendelstudentegemeenskappe verwys na studente wat in private verblyf in en om Stellenbosch woon en studente wat elke dag na en van die kampus reis. Beide koshuis- en pendelaarstudente word toegewys aan 'n gemeenskap wat hulle sal help om te integreer by die sosiale en akademiese lewe aan die Universiteit.

x

Wat is klusters?

Klusters is groeperings van studentegemeenskappe en sluit koshuis- en pendelaarstudente in. Daar is agt kluster studentegemeenskappe aan die US: amaMaties, Rubix, Senior Leefruimtes (SLR), TygerMaties, VicMeyr, Validus, Victoria en Wimbledon. Klusters word saamgestel op grond van die geografiese nabyheid van die onderskeie koshuise en pendelstudentegemeenskappe (PSG's).

Die kluster waarby jy ingedeel is, is jou paspoort na ’n volledige universiteitservaring en sal jou help om sommer van die begin van jou universiteitsreis af mense te ontmoet uit ’n veel groter poel as jou onmiddellike gemeenskap. Dis ’n plek waar vriendskappe floreer, ondersteuning byderhand is en blywende bande gesmee word.

Hierdie stelsel bevorder integrasie tussen opkampus- en pendelaarstudente deur middel van gemeenskaplike ruimtes op kampus; bv. oop eetsale, klusterhubs waar jy bekostigbare gekookte maaltye kan kry, studieruimtes en geleenthede vir netwerkvorming of portuurgroepleer.

Mentorprogram

n Mentor word vir elke nuweling toegewys – ’n senior student wat self al die Verwelkomingsprogram deurloop het en ervaring van die universiteitslewe het. Op grond van hulle persoonlike ondervinding en die opleiding wat hulle kry, kan jou mentor vir jou leiding gee en die oorgang vanaf hoërskool na universiteit help fasiliteer. 

Jou mentor sal van die eerste mense wees wat jou op kampus ontmoet en verwelkom. Hulle betrek jou by betekenisvolle, prettige aktiwiteite wat jou help ontwikkel en wat verseker dat jy sosiaal en akademies by die kampuslewe inskakel. Dink dus aan jou mentor as jou persoonlike stel nutsmiddels op jou reis na studentesukses. 

Voorligting en ontwikkeling

Die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) is daartoe verbind om studente te ondersteun op elke vlak van hul akademiese en persoonlike ontwikkeling. Ons toegewyde span bied professionele en vertroulike hulp in die vorm van sielkundige ondersteuning, akademiese voorligting, loopbaanontwikkeling en gespesialiseerde dienste vir studente met gestremdhede. Of jy ondersteuning benodig om spanning te bestuur, belangrike loopbaankeuses moet maak, of aanpassingsuitdagings ervaar, ons is hier om jou te help – met oplossings wat op jou unieke behoeftes geskoei is. 

Maties Sport

Die US spog met ’n lang en trotse sporttradisie. Maties Sport se strewe is om uitnemendheid op beide akademiese en sportgebied by talentvolle studente-atlete te kweek, terwyl dit ook sosiale kohesie en deelname aan ’n aktiewe leefstyl onder studente en personeel bevorder. Maties Sport het sewe hoë-prestasie of prioriteitsportkodes geïdentifiseer, naamlik atletiek, krieket, sokker, hokkie, netbal, rugby en swem. Die Universiteit se sport- en ontspanningsgeriewe is tot die beskikking van studente, personeel en die publiek.

Kampuslewe

By die Universiteit Stellenbosch gaan dit minder oor wat jy word en meer oor #wiejyword. Hier het elke student die kans om te groei, te lei en te floreer in ʼn diverse wêreld.

Van koshuise en Privaat Studente Organisasie-wyke tot ons Luister-, Leef- en Leer-huise, alle Maties behoort aan een van sewe klustergemeenskappe – ruimtes waar studente ontmoet, verbindings bou en ʼn gevoel van samehorigheid vind wat sukses ondersteun.

Maties Sport sit met trots ons lang sporttradisie voort en koester talentvolle studente-atlete terwyl dit ook ʼn aktiewe leefstyl regdeur die US-gemeenskap bevorder. Ons fasiliteite sluit in ʼn atletiekstadion met 14 000 sitplekke, twee kunsmatige gras-sportvelde, nege hokkievelde, ses krieketvelde, nege muurbalbane, agt netbalbane, 15 rugbyvelde, 27 tennisbane en ses klubhuise.

Ons diverse studenteverenigings, wat voorsiening maak vir alles van dans tot debat en baie meer, bied aan studente die geleentheid om nuwe mense te ontmoet, hul belangstellings te verken en ʼn gebalanseerde, dinamiese lewe te lei.

Afrikaans