Ondersteuningsdienste

Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings (SVBL)

Die Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings (SVBL) vorm deel van die Afdeling Finansies aan die Universiteit Stellenbosch (US). Ons span professionele finansiëlehulppraktisyns ondersteun voornemende en huidige voorgraadse studente wat om finansiële hulp wil aansoek doen deur beurse op ’n volhoubare wyse toe te staan en te administreer.

Ons is daartoe verbind om toegang tot hoër onderwys te verbreed deur studente in te lig oor befondsingsgeleenthede wat beskikbaar is om sodoende te sorg dat geen akademies verdienstelike student weens finansiële behoefte verhinder word om verder te studeer nie.

Ons verstaan dat die aansoekproses stresvol kan wees en probeer om op ’n deurlopende basis ondersteuning te bied om deurentyd ’n positiewe ervaring te verseker.

empty

empty tag

Ek is 'n voornemende student. Wat moet ek doen voordat ek om finansiële steun kan aansoek doen?

Aansoeke word aanlyn gedoen. Die proses vereis dat jy 'n aktiewe aansoek om inskrywing aan die Universiteit Stellenbosch vir die volgende jaar het, asook 'n studentenommer en 'n wagwoord wat met die woord “Sun" begin.

As jy nog nie 'n inskrywingsvorm ingevul het nie, doen dit aanlyn by www.maties.com.

Hoe moet ek weet of ek vir finansiële steun in aanmerking kom?

Finansiële steun word aangebied aan alle aansoekers wvanaf 'n huishouidng wat minder as 'n bruto inkomste van R350 000 per jaar verdien.

Hou asseblief in gedagte dat die presidensiële aankondiging van 2017, wat daarop neerkom dat alle eerste-inskrywer- (FTEN)studente – dit wil sê, wat vir hulle eerste voorgraadse kwalifikasie vir die eerste keer aan 'n openbare universiteit inskryf – en wat kom uit huise waar die bruto inkomste R350 000 of minder per jaar is, vanaf 2018 vir die DHOO-beursskema in aanmerking kom.

Watter stawende dokumente moet ek saam met my aansoek om finansiële steun indien?

Die toepaslike dokumente uit die onderstaande lys moet jou aansoek om finansiële steun vergesel:

  • 'n gewaarmerkte afskrif van die ID's van alle lede van die huishouding (wat in die gesinswoning bly); en/of
  • salarisstrokies van albei ouers of voogde; en/of
  • in die geval van pensionarisse – bewys van pensioeninkomste vanaf die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA-brief); en/of
  • bankstate van lede van die huishouding wat inkomste verdien; en/of
  • in geval van 'n eie onderneming – die jongste geouditeerde state; en die nuwe oudit vir die huidige jaar (wanneer dit beskikbaar raak) as bykomende bewys; en/of
  • 'n brief van die boekhouer of rekenmeester; en/of
  • 'n belastingaanslag; en/of
  • in geval van werkloosheid – 'n beëdigde verklaring wat dit bevestig, onderteken deur die betrokke ouer(s) of voog(de); en/of
  • in geval van gesinne wat 'n bestaanstoelae vanaf familielede, vriende, die gemeenskap of ander bronne ontvang – 'n bewys en 'n beëdigde verklaring wat dit bevestig asook die bedra(e) vermeld.

Let asseblief op: Alle inkomste moet verklaar word!

Ek het van die werwingsbeurse gehoor; hoe doen 'n mens daarvoor aansoek?

Werwingsbeurse is 'n befondsingstrategie van die Universiteit om die diversiteit in die demografie van ons studentekorps uit te brei. Voornemende studente kan nie om sulke beurse aansoek doen nie. Alle aansoekers wat ressorteer onder die groepe wat vir werwingsbeurse aangewys is en wat 'n gemiddelde van 70% of meer in hulle aansoek kan aantoon, sal vir 'n aanbod vanaf die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Studentewerwing oorweeg word.

Ek het van die merietebeurse gehoor; hoe doen 'n mens daarvoor aansoek?

Voornemende studente

Hierdie beurse is beskikbaar vir alle voornemende studente wat 'n gemiddelde van 90% of meer (LO en Wiskunde Vraestel 3 uitgesluit) in hulle graad 12-eindeksamen behaal het. NSS en IEB-studente hoef nie om hierdie beurse aansoek te doen nie, want hulle resultate word outomaties vir die Universiteit aangestuur.

Slegs studente wat hulle eksamens twee jaar of langer vantevore afgelê het as die jaar waarin hulle aan die Universiteit wil inskryf, asook kandidate wat eksamens ekstern tot die provinsiale departemente van onderwys afgelê het, moet om hierdie merietebeurse aansoek doen deur 'n gewaarmerkte afskrif van hulle matrieksertifikaat by die Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings in te dien.

Die jaarlikse goedkeuring vir die voortsetting van merietebeurse word eers in Mei gedoen; hierdie toewysings is dus nie gewaarborg nie.

 

Ingeskrewe studente

Jy hoef nie vir hierdie beurs aansoek te doen nie, aangesien alle studente wat in aanmerking kom, sal dit outomaties ontvang op grond van die maatstawwe vir die toekenning van senior merietebeurse. Dit word aan die top-5% per fakulteit toegeken.

Wat is die bedrag van 'n merietebeurs?

Merietebeurse word as 'n persentasie van die basiese klasgelde (uitgesluit module-en programkoste) bereken.

As my gesin tussen R350 000 en R600 000 per jaar verdien, is daar enige beurse waarvoor ek kan aansoek doen?

Ja, daar is verskeie beurse wat deur maatskappye, trusts en individuele skenkers befonds word en wat aansoekers nie op grond van hulle gesin se inkomste uitsluit nie. Die besonderhede van hierdie beurse is in die US Jaarboek Deel 2: Beurse en Lenings vervat.

Is daar enige beurse aan spesifieke fakulteite waarvoor ek kan aansoek doen?

Ja. Dit is dus noodsaaklik dat jy moet uitvind vir watter fakulteitspesifieke beurse jy kan aansoek doen, en dat jy wel daarvoor aansoek doen. Die besonderhede van hierdie beurse is in die US Jaarboek Deel 2: Beurse en Lenings vervat.

Wanneer sal ek weet of my aansoek om finansiële steun vanaf die Universiteit Stellenbosch suksesvol was?

Voornemende studente sal vanaf Maart jaarliks 'n brief ontvang wat bevestig dat hulle finansiële steun uit die Universiteit se institusionele fondse aangebied is. Eksterne beurse wat deur die Universiteit bestuur word, sal eers teen Mei die volgende jaar bevestig word.

As ek finansiële steun ontvang, moet ek die eerste paaiement van my klasgeld betaal wanneer ek inskryf?

As jy finansiële steun ontvang van 'n bedrag wat meer as die eerste verpligte paaiement is, hoef jy nie die eerste paaiement van jou klasgeld te betaal nie. Jy moet egter bewys van die aanbod om finansiële steun by die Kantoor vir Studentegelde in die Admin A-gebou indien voordat jy toegelaat sal word om die registrasieproses af te handel.

As ek finansiële steun ontvang, moet ek die koshuisdeposito betaal?

As jy finansiële steun vanaf die Universiteit ontvang wat jou klas- en koshuisgeld volledig dek, of as jy 'n voorwaardelike toekenning of 'n NSFAS-volkoste beurs of eksterne finansiële steun ontvang het, hoef jy nie die koshuisdeposito te betaal nie.

As 'n werwingsbeurs of 'n finansiëlebystand-beurs/lening aan my toegeken word, kan ek dit verloor?

Ja. Werwingsbeurse en finansiëlebystand-lenings word toegeken onderhewig aan voortgesette goeie akademiese prestasie. Die brief waarin jy finansiële bystand aangebied word, sal die bepalings en voorwaardes uiteensit waaraan jy moet voldoen om die bepaalde finansiële steun in 'n daaropvolgende jaar te behou.

Moet ek elke jaar weer om finansiële bystand aansoek doen?

Ja, want 'n huishouding se omstandighede kan met die verloop van 'n jaar ingrypend verander. Jy moet tussen Junie en November aansoek doen om finansiële bystand vir die daaropvolgende jaar. Werwingsbeurshouers hoef nie weer aansoek te doen nie; sulke beurse word outomaties weer toegeken – solank die ontvanger se akademiese prestasie aan die beursvereistes voldoen.

Wanneer moet ek die lening wat aan my toegestaan is, begin terugbetaal?

Jy moet jou lening begin terugbetaal nadat jy aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer het, of wanneer jy jou studies aan die Universiteit staak. Ons Afdeling Debiteure is die beste plek waar jy oor die terugbetalingsproses kan raad vra.

Mag ek my finansiëlebystand-beurs/lening gebruik om vir handboeke, ensovoorts te betaal?

Ja. Dit hang af waarvoor die bedrag toegeken aangewend kan word. Jou Beurskoördineerder werk volgens 'n prioriteitslys.

Sportbeurse

As jy provinsiale of nasionale kleure verwerf het vir 'n sport wat by die US gekodeer is, mag daar 'n sportbeurs wees waarvoor jy kan aansoek doen. Vir navrae, e-pos asseblief jou besonderhede en inligting oor prestasies na matiesport@sun.ac.za.

x

x

Wat sal die jaar my kos?

Kry ’n kwotasie by www.maties.com.

Klik eers op “Gelde” en dan op “Voorlopige verklaring van gelde (kwotasie)”.

Kry ek afslag as ek my volle studiegeld vir die jaar vroeg betaal?

Jy kan om ’n korting van 3% op klasgeld aansoek doen indien die volle bedrag voor 31 Maart betaal word.

Ek en my broer is albei dié jaar ingeskryf. Sal ons afslag kry?

Nee. Slegs indien drie of meer lede van dieselfde gesin gelyktydig as voltydse studente aan die Universiteit Stellenbosch ingeskryf is, kan daar om ’n korting van 10% op studiegeld aansoek gedoen word.

Kan ek my klasgeld en (indien van toepassing) koshuisgeld maandeliks afbetaal?

Ja, ons het ’n debietorderopsie beskikbaar, wat elke jaar van 1 April tot 1 November verwerk word.

Wie kan ek met navrae oor my studenterekening kontak?
Hoe gereeld word rekeningstate aan ouers/studente gestuur?

Rekeningstate word vier tot ses keer per jaar deur middel van e-pos uitgestuur.

Moet my studenterekening opbetaal wees voordat ek vir die volgende jaar kan registreer?

Ja, studente kan nie registreer voordat alle uitstaande bedrae betaal is nie.

Afrikaans