Natuurwetenskappe

Rekenaarwetenskap is die teorie en praktyk van algoritmes. Dit is ’n wonderlike kombinasie van kunstigheid (uitvinding en ontwerp), wetenskap (analise en eksperimentering) en ingenieurswese om probleme met rekenaars op te los. Ons studente leer om groot sagtewarestelsels te programmeer, ontwikkel en bestuur in ’n span, maar – die belangrikste – om probleme in terme van berekeningsprosesse te vertolk.

empty

empty tag

Waarom word dit Rekenaarwetenskap genoem, en nie IT of net programmering nie?

Informasietegnologie (IT) verwys in die algemeen na die integrasie en bestuur van rekenaarfasiliteite in organisasies. Maar Rekenaarwetenskap gaan, meer spesifiek, oor die teorie en praktyk van algoritmes — die stap-vir-stap instruksies om ’n bepaalde probleem op te los of doel te bereik. Programmeerders mag weet hoe om ’n bepaalde berekeningsprobleem om te los, maar rekenaarwetenskaplikes weet ook waarom die oplossings werk, wat hulle in staat stel om bestaande probleme meer doeltreffend of heeltemal nuwe probleme op te los.

Wat is die beroepsmoontlikhede?

Beroepsmoontlikhede sluit posisies in programmering, navorsing, web-ontwikkeling, IT en datawetenskap in vir ’n gegradueerde rekenaarwetenskaplike; baie van ons gegradueerdes skryf kode vir ’n beroep. Indien Rekenaarwetenskap met nog ’n hoofvak in die derde jaar gekombineer word, is omtrent enigiets moontlik. Ons alumni werk vir maatskappye soos Google, Amazon, Facebook, NASA, Microsoft, eBay, Takealot, Black Ginger, Capitec, Praelexis en Allan Gray. Die meeste van ons studente wat afstudeer, het reeds betrekkings wat op hulle wag. Volgens tipiese meningspeilings is beroepe wat rekenaarwetenskap en sagteware-ontwikkeling behels, baie gesog.

Watter Rekenaarwetenskapmodules (vakke) is daar?
Eerstejaar RW114 Inleidende Rekenaarwetenskap 1 (basiese programmering)
  RW144 Inleidende Rekenaarwetenskap 2 (basiese programmatuurontwerp)
Tweedejaar RW214 Datastrukture en Algoritmes
  RW244 Rekenaarargitektuur (sluit laevlakprogrammering en vertalers in)
Derdejaar RW314 Gelyklopendheid (sluit elemente van bedryfstelsels in)
  RW315 Masjienleer
  RW334 Databasisse en Websentriese Programmering
  RW344 Programmatuurontwerp (sagteware-ingenieurswese)
  RW345 Berekenbaarheid en Outomate
  RW354 Rekenaarnetwerke

RW314, RW334, RW344 en RW354 is nodig om Rekenaarwetenskap as hoofvak aan te bied.

Op honneursvlak (’n ekstra vierde jaar) is daar Gevorderde Algoritmes, Gevorderde Outomate, Vertalers, Berekeningsintelligensie, Funksionale Programmering, Masjienleer, Simulering van Netwerke, Sagtewareverifiëring & -analise en Ruimtewetenskapalgoritmes; dié modules verander van jaar tot jaar. Daar is ook ’n navorsings-/sagteware-ingenieurweseprojek vir elke student, wat deur een van die lektors gelei word.

Waarom sê julle nie baie oor spesifieke programmeertale in die Jaarboek en brosjures nie?

Wat ’n rekenaarwetenskaplike met ’n universiteitsopvoeding van ’n programmeerder onderskei, is die vermoë om aan te pas by die allernuutste tegnologie, wat ook snel verander. Daarom – alhoewel ons jou ou en nuwe programmeertale leer deur middel van praktikums met werklike relevansie en wat baie programmering verg – fokus ons in gelyke mate op die onderliggende beginsels wat jou in staat sal stel om op hoogte te bly van die nuutste tegnologieë. As sulks is wat ons uit die studie van programeertale leer belangriker as die tale self. Maar op rekord, jy sal deeglike ervaring in Java, C, Python, JavaScript en saamsteltaal in ons voorgraadse kursusmodules opdoen. Op nagraadse (honneurs)vlak, sal jy ook Haskell, C++ en Scala sien… saam met wat ook al splinternuut en op die voorgrond oor vier jaar is.

Is dit nodig dat ek rekenaarvakke op skool neem?

Nee… maar jy het Wiskunde (nie Wiskundige Geletterdheid nie) nodig. Ons eerstejaarmodules is so ontwerp dat geen vorige kennis van programmering nodig is nie, en sommige van ons mees suksesvolle alumni het inderdaad op Stellenbosch aangekom sonder enige programmeringservaring. En moenie bekommerd wees nie: Selfs al het jy ’n vak soos IT op skool gehad, sal jy beslis nie verveeld wees nie. Voor die eerste semester begin, bied ons ook ’n intensiewe, weeklange brugkursus as inleiding tot programmering (sonder enige voorkennis) aan vir alle studente wat finaal aanvaar is en Rekenaarwetenskap of Rekenaarprogrammering (vir ingenieurstudente) as eerstejaarvak gaan neem. Dié kursus is opsioneel, maar help wel as jou rekenaarervaring beperk is.

Ek wil Rekenaarwetenskap studeer, maar watter graad moet ek kies?

Rekenaarwetenskap as hoofvak is beskikbaar in die BSc-, BCom- en BDatSci-programme. ’n Beperkte aantal derdejaar Rekenaarwetenskapmodules is ook beskikbaar in die BIng (Elektries & Elektronies) program. Met een oogopslag:

Graad Voordele Nadele
BSc Wydste beskikbare vakkeuse, wat sommige handels- en ingenieursvakke insluit. Duurder as BCom, aangesien baie vakke laboratoriumfooie het.
BCom Goedkoper as BSc. ’n Meer beperkte vakkeuse, want Wiskunde en Wiskundige Statistiek is vereiste vakke in die twee jaar.
BDatWet ’n Wye verskeidenheid fokusareas.

Strengste toelatingsvereistes.

Meer statisties (as jy net wil programmeer).

BIng Meer geleenthede vir hardeware-ontwerp.

Duurste.

Nie alle RW-modules kan geneem word nie.

 

BSc en BCom is driejaargrade en ’n ekstra vierde (honneurs)jaar is nodig vir toelating tot ’n meestersgraad in Rekenaarwetenskap. BDatSci en BIng is vierjaargrade en, afhangende van die vakke geneem, vereis nie noodwendig ’n honneursgraad vir verdere studie nie.

BSc

Die BSc (Rekenaarwetenskap) program sluit vyf strome in:

  1. Algemene Rekenaarwetenskap het die wydste vakkeuse, met Algemene Taalwetenskap, Ekonomie, Fisika, Operasionele Navorsing, Toegepaste Wiskunde, Wiskunde en Wiskundige Statistiek as moontlike tweede hoofvak; daarby kan Musiektegnologie as derdejaarvak geneem word;
  2. Rekenaarstelsels, wat vakke in hardeware-ontwerp uit die Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese programme insluit;
  3. Datawetenskap, wat vakke uit die BDatSci-program insluit;
  4. Rekenaarwetenskap met Genetika as tweede hoofvak; en
  5. Rekenaarwetenskap met Geografiese Inligtingstegnologie as tweede hoofvak.

Hierby laat sommige strome in die Wiskundige Wetenskappe-, Chemie- en Fisikaprogramme jou toe om Rekenaarwetenskap as tweede hoofvak or ten minste die meeste van die derdejaar Rekenaarwetenskapmodules te neem—maar as gevolg van roosterbotsings is dit nie altyd moontlik nie. Alle strome en programme wat Rekenaarwetenskap as hoofvak insluit, vereis Wiskunde en Waarskynlikheidsleer & Statistiek in die eerste jaar.

BCom

Die Datawetenskapfokusarea in die BCom (Wiskundige Wetenskappe) program laat jou toe om Rekenaarwetenskap as hoofvak te neem, maar saam met die vereistes van Wiskunde en Waarskynlikheidsleer & Statistiek in die eerste jaar, is Ekonomie en Ondernemingsbestuur in die eerste jaar, en Wiskunde, Wiskundige Statistiek en een Operasionele Navorsing-module in die tweede jaar verdere vereiste modules. Al dié vakke, behalwe Ondernemingsbestuur, is ook deur die BSc (Rekenaarwetenskap) program beskikbaar, maar afhangende van die stroom, is hulle nie vereiste vakke nie.

BDatWet

Die interdissiplinêre BDatSci-graad het die volgende fokusareas:

Fokus Area Tuisfakulteit
Statistiese Leer Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Analitika en Optimering Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Gedragsekonomie Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Rekenaarwetenskap Natuurwetenskappe
Toegepaste Wiskunde Natuurwetenskappe
Statistiese Fisika Natuurwetenskappe
GeoInformatika Lettere en Sosiale Wetenskappe
Statistiese Genetika AgriWetenskappe

 

Al dié fokusareas vereis alle Rekenaarwetenskapmodules tot in die tweede jaar, die meeste van hulle vereis sommige Rekenaarwetenskapmodules in die derde jaar, en die Rekenaarwetenskapfokusarea laat jou toe om alle derdejaar Rekenaarwetenskapmodules te neem, asook ’n aantal vierdejaar Rekenaarwetenskapmodules wat ekwivalent is aan die bestaande honneursmodules.

BIng

Die BIng (Elektries & Elektronies) program het twee vereieste modules wat ekwivalent is aan die eerstejaar Rekenaarwetenskapmodules. Die Data-ingenieurswese fokusarea sluit drie van die derdejaar Rekenaarwetenskapmodules in, maar lei nie tot Rekenaarwetenskap as hoofvak nie, en ander fokusareas kan ’n maksimum van een derdejaar Rekenaarwetenskapmodule hê; tweedejaar Rekenaarwetenskapmodules kan glad nie geneem word nie.

Wat is die toelating- en keuringsvereistes?

Die finale uitspraak oor toelating tot enige graad, program en stroom is altyd die huidige huidige Jaarboek en die inligting by www.sun.ac.za/english/maties. Dié bronne het al die relevante inligting, vir matrikulante aan Suid-Afrikaanse skole of elders in die wêreld. Al die programme wat Rekenaarwetenskap insluit, is keuringsprogramme en net om aan die vereistes te voldoen, waarborg nie toelating nie. Wat skoolvakke betref, benodig jy Wiskunde (nie Wiskundige Geletterdheid nie), waarvoor jy ten minste 70% moet hê – let op dat sommige programme, soos datawetenskap, strenger vereistes het – sowel as Afrikaans of Engels as Huistaal of Eerste Addisionele Taal. Sommige programme het addisionele skoolvakvereistes, wat afhang van die vakke wat jy gaan neem vir jou graad. Geen van die programme vereis egter IT of ander rekenaarvakke op skool nie.

Is BIng nie ’n beter keuse as ek wil programmeer nie, en kan ek nie later na BSc oorskakel nie?

Studente in die BIng (Elektries en Elektronies) program, uitsluitende die Data-ingenieurswese fokusarea, bestudeer sowel hardeware- as sagteware-ontwerp; die dele oor sagteware fokus dikwels op baie spesifieke ingenieurstoepassings en nie alle Rekenaarwetenskapmodules is in dié program beskikbaar nie. Daarenteen het Rekenaarwetenskap ’n dieper fokus op sagteware (algoritmes en programmatuurontwikkeling), en die Rekenaarstelselstroom bied toegang tot die ingenieursvakke wat die belangrikste vir ’n rekenaarspesialis is. Indien jy onseker oor die keuse is, sal dit ’n goeie idee wees om met verteenwoordigers van albei programme te gesels.

Om na BSc van BIng oor te skakel, verg tipies ekstra studiejare. Jy behoort krediet te kry vir die slaag van Ingenieurswiskunde en sommige van die Toegepaste Wiskunde vir Ingenieurs, maar ander gespesialiseerde modules soos Ingenieurschemie en Ingenieursfisika moet deur die meer algemene Chemie- en Fisikamodules uit die BSc-programme vervang word. Die Rekenaarprogrammering en Rekenaarwetenskap vir Ingenieurs modules is ekwivalent aan slegs die eerstejaar Rekenaarwetenskapmodules en, in die besonder, moet albei tweedejaar Rekenaarwetenskapmodules geneem word om met Rekenaarwetenskap as hoofvak te gradueer.

Wat is die nagraadse spesialiseringsareas?

Ons akademici doen navorsing in Berekeningsintelligensie, Datawetenskap, Formele Tale, Formele Metodes, Kunsmatige Intelligensie, Masjienleer, Mobiele Netwerke, Natuurlike Taalverwerking, Ondersteuningstegnologieë, Outomaatteorie en Sagteware-ingenieurswese en -verifiëring.

Afrikaans