AgriWetenskappe

Die Departement Veekunde is een van die oudste gevestigde departemente van sy soort in die land en het sy eeufees in 2021 herdenk. Dit het in die afgelope eeu 'n groot rol gespeel deur voor- en nagraadse programme aan te bied om gegradueerdes op te lei om die navorsing, uitbreiding en ontwikkelingsbehoeftes van Suid-Afrika te verbeter in belang van die lewensgehalte van al sy inwoners. Hierdie komplekse uitdagings vereis landboukundiges wat geleenthede kan identifiseer en innoverende oplossings kan bedink.

Veekunde behels die wetenskaplike studie van die voeding, teling en verwante fisiologiese aspekte van vee en wildspesies. Opleiding en navorsing fokus op produksie-aspekte van mak (skape en bokke, melk- en vleisbeeste, pluimvee en volstruise, varke, akwakultuur) en nie-mak (wild) spesies.

x

empty

empty tag

Wat is die verskil tussen die program wat aangebied word by Elsenburg Landbou Opleidingsinstituut en die Departement Veekundige Wetenskappe?

Die program wat deur Elsenburg aangebied word, is 'n 3-jarige BAgric-program wat uit ses hoofstrome bestaan, met onder meer plantproduksie, diereproduksie, voorligting en kelderbestuur. Graduandi van hierdie program is meestal op tegniese vlak in die bedryf werksaam. Hierdie program moet nie verwar word met die driejarige BAgric (Agri-besigheidsbestuur) program wat in die Fakulteit AgriWetenskappe se Departement Landbou-ekonomie aangebied word nie, en sterk klem op sakebestuur plaas.

Die Diereproduksiestelselsprogram (‘n 4-jaar program), wat in die Departement Veekundige Wetenskappe aangebied word, geskied op 'n veel meer wetenskaplike vlak, en fokus op dierefisiologie, diervoeding, veeteelt en vleiswetenskap. Veekundiges met ‘n BScAgric (Veekunde) graad kan op tegniese vlak die bedryf betree of hulle visier op 'n nagraadse Meesters- en/of PhD-graad rig.

Wat is die loopbaangeleenthede sodra ek klaar is?

Die BScAgric (Veekunde) graad sal gegradueerdes in staat stel om op tegniese vlak die bedryf te betree, waar hulle nou met boere sal saamwerk en advies en ondersteuning sal bied om volhoubare produksiepraktyke moontlik te maak.

'n MScAgric-kwalifikasie bied die geleentheid vir gegradueerdes om in bestuursposte by maatskappye aangestel te word. 

Gegradueerdes met 'n PhD (doktorsgraad) kan sulke gegradueerdes in staat stel om entrepreneurs te word, of in 'n bestuursposte in ondernemings aangestel te word. 

Ondernemings waar gegradueerdes aangestel kan word, sluit in regeringsdepartemente (soos die Departement van Landbou), voermaatskappye (soos Epol, Meadows, ens.), voormengsel-ondernemings (soos Kemin, Protea Chemicals, ens.) en selfs farmaseutiese ondernemings (soos Pfizer, Zoetis, ens.).

Waarom Veekunde en nie Veeartsenykunde nie, studeer?

Veekunde is 'n omvattende dissipline wat die fisiologie van produksie en voortplanting behels, asook die voeding en teling van vee- en wildspesies. Studente wat as veekundiges gekwalifiseer is, kan in omgewings werk waar die bestuur van vee- en wildsoorte nodig is. Hulle sal dus 'n omvattende begrip hê van hoe die bestuur 'n uitwerking op die welsyn en produksie van hierdie spesies sal hê, teen die agtergrond van uitdagings soos aardverwarming en gepaardgaande droogtetoestande. Die verantwoordelikheid van veekundiges is om diere te bestuur sodat hulle nie meer vatbaar is vir siektes as gevolg van stres, swak voeding, ensovoorts, nie. Sodoende kan die voorkoms van siektes wat 'n invloed op produksiedoeltreffendheid, volhoubare produksie en uiteindelik voedselsekerheid kan hê, voorkom word.

Veeartse word opgelei om siektes te diagnoseer en om die simptome van dié siektes te behandel. Hulle opleiding in terme van dierefisiologie, -voeding en -teling is nie so diepgaande soos dié wat veekundiges ondergaan nie. Hulle kan raad verskaf oor siektes, hoe om hulle te voorkom en te behandel, maar nie oor bestuursverwante aspekte wat oorweeg moet word om lewensvatbare, volhoubare diereproduksie te verseker nie.

Afrikaans