Teologie

Die Fakulteit Teologie is 'n ekumeniese fakulteit wat akademiese opleiding in Christelike teologie volgens verskillende konfessionele oortuigings en kerklike tradisies bied. Die Fakulteit het in 1963 ontwikkel uit die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) se Kweekskool wat in 1859 gestig is. Dit is 'n oop fakulteit en lei per ooreenkoms predikante op vir die volgende denominasies:

  • Nederduitese Gereformeerde Kerk (NGK)
  • Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika (VGKSA)
  • Uniting Presbyterian Church in Southern Africa (UPCSA)
  • Anglican Church of Southern Africa (ACSA)
  • Volkskerk
  • United Evangelical Lutheran Church in Southern Africa (UELCSA)

Die Fakulteit Teologie, een van die kleinste fakulteite aan die Universiteit, is 'n gasvrye, energieke en kreatiewe fakulteit waarin wetenskaplike teologie met integriteit beoefen word.

Die akademiese aanbod, met Christelike gereformeerde teologie as uitgangspunt, het verbreed sedert die Jeugwerk-program en die nuwe kurrikulum ingestel is wat 'n groot verskeidenheid van opsies vir voorgraadse studente ten opsigte van onderrig en navorsing bied. Die Fakulteit se voor- en nagraadse programme akkommodeer 'n breë spektrum van studente uit uiteenlopende gemeenskappe, kerke en lande.

empty

empty tag

Watter beroepe kan ek volg as ek teologie studeer?

Teologie kan baie loopbane vir jou toeganklik maak. Alhoewel die meeste mense daarvan bewus is dat 'n graad aan die Fakulteit Teologie jou kan voorberei op kerklike bediening, bied dit ook 'n menigte ander rigtings. Alumni van die fakulteit volg ook loopbane in jeugwerk, gemeenskapsontwikkeling, pastorale sorg, akademie, onderwys, regte, vermaak en noodlenigingswerk. Baie alumni het leiers geword op ander terreine soos die politiek en die openbare arena. Hierdie fakulteit berei jou voor op 'n lewe van bydra tot die samelewing en die welsyn van die wyer gemeenskap (greater good), deur jou toe te rus met 'n wetenskaplike teologiese begronding, begrip van en vaardighede vir die hantering van samelewings-vraagstukke en 'n etiese kompas.

Watter voorgraadse programme bied die fakulteit aan?

Ons bied vier voorgraadse programme aan. Die vier-jaar BDiv-program (tipies vir voornemende bedieningskandidate), en die drie-jaar BTh-programme met ’n algemene of Jeugwerk fokus, is vir voltydse residensiële studente wat klasse op kampus bywoon. Die BTh-program (Deeltyds) is ’n vier-jaar-program vir ouer (meestal werkende) studente wat in blok-kontaksessies en aanlyn aangebied word. Sien ons voorgraadse prospektus vir meer inligting.

Moet ek Grieks en Hebreeus doen?

Die brontale is slegs verpligtend vir studente wat die BDiv-program doen met die oog op bediening in sekere kerke. Vir al die ander programme is dit opsioneel.

Watter vakke sal ek studeer?

Alle studente kry 'n basiese begronding in die ses teologiese vakgebiede: Ou en Nuwe Testament, Sistematiese Teologie (etiek en leerstellinge, dit is wat mense glo en die implikasies daarvan – dit sou byvoorbeeld openbare teologie insluit), Praktiese Teologie ( die toepassings van teologie, insluitend gemeentewerk, jeugwerk, gemeenskapsontwikkeling, pastorale sorg – dit sluit byvoorbeeld ook die hantering van die gevolge van armoede, gangsterisme en dwelmmisbruik in), Kerkgeskiedenis en Kerkreg (kerklike “wet”), en Missiologie (interreligieuse en interkulturele bevoegdheid). Vir sommige programme is modules van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe verpligtend of keusevakke, byvoorbeeld Sielkunde, Sosiologie, Grieks, Hebreeus en isiXhosa.

Watter soort studente-ervaring bied die fakulteit aan?

Die Fakulteit Teologie is een van die kleinste maar mees diverse fakulteite op die kampus en bied 'n unieke studentervaring. Dit bied robuuste interaksie met studente, geleenthede om die rykdom aan ervaring en insigte wat studente en personeel na ons fakulteit bring, te ontdek en te leer waardeer, en geleenthede om vaardighede te ontwikkel om op 'n ingeligte en konstruktiewe manier by te dra tot voortgesette gesprekke op ons kampus en in ons land. En natuurlik het ons 'n pragtige gebou en terrain en 'n boeiende geskiedenis!

Kan ek finansiering kry?

Die fakulteit bied nie beurse aan nie, maar alle geregistreerde studente kan by die Voorgraadse Beurskantoor aansoek doen deur die skakel op die webblad vir voornemende studente te volg. Let daarop dat die aansoeke vir beurse in die volgende jaar vroegtydig sluit – maak seker dat jy die aansoek so spoedig moontlik indien.

Watter ondersteuning bied die fakulteit aan nuwe studente?

Die fakulteit bied 'n wye spektrum akademiese en welwees-steun aan. Die eerstejaarkoördineerder, Dr Dawid Mouton, fokus op die ondersteuning van eerstejaars, veral akademies. Mentors en tutors is ook beskikbaar vir akademiese ondersteuning. Die Teologiese Studentekomitee bied eweknie-ondersteuning op alle vlakke. Die fakulteit maak gebruik van kampus-ondersteuningsdienste waar nodig. Studente in enige vorm van nood is welkom om die dekaanskantoor as eerste verwysingspunt te gebruik (mariekeb@sun.ac.za).

Afrikaans