AgriWetenskappe

Bos- en Houtkunde vervul 'n belangrike rol in bosvolhoubaarheid. Die aanvraag na hout toon 'n bestendige toename en voldoende houtbronne vir die toekoms is ’n absolute moet. Gesien in die lig hiervan, is dit duidelik dat spesiale kennis, vaardigheid en bestuurskundigheid benodig word vir volhoubare landbou- en bosbouproduksie. 

Die Departement is ʼn gespesialiseerde opleidingsfasiliteit vir die snelgroeiende en belangrike terreine van volhoubare biomassa en houtproduksie, asook die groen ekonomie. Dit bied ʼn wye verskeidenheid van kundigheid – in beide navorsing en onderrig – oor die hele waardeketting van Bosbou en Houtprodukte. Ons lei studente op en rus hulle toe om leiers te word in die spesialiteite van Boskultuur, Bosbestuur, Bosboubedrywighede, Houtverwerking en “Groenbou”. Ons gegradueerdes geniet plaaslik en internasionaal hoë aansien.

empty

empty tag

Bied die Departement Bos- en Houtkunde (DBHK) slegs een program aan?

Nee. DBHK bied wel EEN graad aan (afgekort BScBosb), maar dit is verdeel in TWEE spesialisasies met die amptelike benamings van (a) Bosbou- en Natuurlike Hulpbronwetenskappe, en (b) Hout- en Houtprodukkunde. In die vrae hieronder verwys ons sommer kortweg na die twee programme as Bosbou of Houtkunde.

Wat is die werksgeleenthede met ‘n BScBosb graad?

In die afgelope dekade is meer as 85% van die BScBosb-studente vinnig deur die bosbousektor geabsorbeer (d.w.s. hulle het onmiddellik werk gekry, of ten slegste, werk gekry binne een jaar na graduering). Indiensnemingsopsies is redelik uiteenlopend: studente in die Bosbou-spesialisasie vind werk by multinasionale of Suid-Afrikaanse bosbou-ondernemings, houtkoöperasies, navorsingsinstellings, wetenskapsrade, bosbewaringsinstansies/nasionale parke, as private entrepreneurs of kontrakteurs, deur middel van plasing in die owerheidsektor (bv. DEFF), of as onafhanklike wetenskaplikes/konsultante. Studente wat spesialiseer in Houtkunde werk dikwels vir (of begin self) kleinskaalse houtverwerkingsondernemings, of vind werk by saagmeulens, pulpfabrieke, meubelvervaardigers, venster- en deurvervaardigers, vervaardigers van spaanderbord/laaghout/saamgestelde of gelamineerde produkte, navorsingsinstellings, wetenskapsrade, of as private konsultante. Kyk na die Bosbou en Houtkunde-brosjures, die programaanbieding, sowel as die Alumni-profielbladsye vir addisionele voorbeelde.

Is dit maklik om ‘n studiebeurs te kry vir Bosbou of Houtkunde?

Ja, maar jy moet wyd aansoek doen. Meer as 80% van ons voorgraadse studente het tans beurse. Die bosbou en houtprodukte-sektor bied sterk finansiële steun vir beide voorgraadse en nagraadse studiebeurse. 

Het ek Fisiese Wetenskap in Graad 12 nodig om BSc Bosbou te studeer?

Ja, jy het beide Wiskunde en Fisiese Wetenskap nodig.

Kan ek BSc Bosbou studeer as ek Wiskundige Geletterdheid op skool het?

Nee, ongelukkig benodig jy suiwer Wiskunde.

Wat is die toelatingsvereistes (d.w.s. skoolvakke en toepaslike grade) vir die Bosbou en Houtkunde programme?

Die twee spesialisasierigtings het verskillende toelatingsvereistes:  

(a) Vir die Bosbouprogram benodig jy 'n gemiddeld van 60% vir die NSS, 50% vir Engels of Afrikaans, 60% vir Wiskunde en 50% vir Fisiese Wetenskappe. 
(b) Vir die Houtkundeprogram benodig jy 'n gemiddeld van 60% vir die NSS, 50% vir Engels of Afrikaans, 70% vir Wiskunde en 60% vir Fisiese Wetenskappe.

Let asseblief daarop dat daar net ‘n beperkte aantal plekke beskikbaar is, endeur te voldoen aan die vereistes, waarborg ongelukkig nie ‘n plek in die program nie.

Hoeveel jaar duur die BScBosb program?

Vier jaar vir beide spesialisasies.

As ek eers werk het, hoe lyk my geleenthede vir verdere loopbaanontwikkeling?

BScBosb is een van die min grade waarmee jy kan vorder tot middelbestuursvlak in medium tot groot maatskappye binne die eerste twee jaar na jou studies. Heelwat van ons toegewyde bosbou-graduandi kry groot verantwoordelikhede in die bosbedryf binne ʼn kort tyd na hul aanvanklike aanstelling. As jy spesifiek ʼn loopbaan in Bosbounavorsing wil volg, bied Stellenbosch se BScBosb-graad ʼn ideale lanseerplatform – maar dan moet jy ook oorweeg om ʼn MScBosb en PhDBosb daarby te voeg.

Het die BScBosb- graad ʼn hoë akademiese standaard en word dit buite die grense van Suid-Afrika erken?

Beslis ja. Die vierjarige BScBosb-graad van Stellenbosch is wêreldwyd bekend en word hoog geag as gevolg van ons aktiewe samewerking met Bosboufakulteite binne universiteite van talle lande op alle kontinente, asook die prominente navorsingsuitsette wat ons departement lewer.

Kan ek na die voltooiing van ʼn BScBosb graad direk vir 'n MSc registreer?

Ja, jy kan. Let op dat daar ʼn minimumvereiste is van ʼn 65% in die finalejaar module van jou gekose studieveld. 

Sluit die BScBosb program veldwerk in?

Ja, vanaf die tweede jaar bestee jy heelwat tyd in die veld. Velduitstappies sal hoofsaaklik tydens die praktiese sessies van drie uur plaasvind, plus 'n paar kort opleidingskursusse/studiereise gedurende vakansies. In die 4de jaar word daar van jou verwag om 'n bedryfsplan of mini-navorsingsprojek aan te pak wat gewoonlik steun op data wat in die veld ingesamel moet word (afhangend van die tipe projek wat jy kies).

Kan ek oorskakel na ander programme in die Fakulteit AgriWetenskappe as ek nie gelukkig is in die Bosbou-program nie?

'n Programverandering kan gedoen word indien daar plek in die nuwe program is. Verder kan dit maklik vroeg (binne die eerste twee weke) gedoen word, of alternatiewelik, na afloop van die eerste jaar, aangesien talle van die betrokke programme dan net met twee of drie modules verskil.

Indien ek na jaar een nie met Houtprodukwetenskap wil voortgaan nie, kan ek dan oorskakel na 'n programme in die Fakulteit Ingenieurswese?

'n Programverandering kan gedoen word indien jy goeie punte het en as daar plek in die nuwe program is. Die beste tyd om dit te oorweeg, is na voltooiing van die 1ste jaar, aangesien die 1ste jaarprogram vir Houtkunde sterk oorvleuel met die eerste jaar in die meeste Ingenieursweseprogramme.

Kan ʼn student van die Bosbou spesialisasie oorskakel na die Houtkunde spesialisasie (of andersom) binne die graad BScBosb?

Om aan die einde van die eerste jaar tussen hierdie twee programme oor te skakel, is erg moeilik, aangesien hierdie twee spesialisasies slegs een gemeenskaplike eerstejaarsmodule het. 'n Omskakeling van hierdie aard sal dus 'n bykomende studiejaar vir jou meebring.

Afrikaans