AgriWetenskappe

Die Departement Genetika het 'n trotse geskiedenis wat teruggevoer kan word na 1898, toe die Landboukollege Stellenbosch gestig is, maar dit het amptelik in 1925 ontstaan uit die Departement Landbou Plantkunde. Vandag verteenwoordig die Departement 'n interdissiplinêre groep navorsers en nagraadse studente wat fokus op navorsingsgeleenthede in plant-, dier- en menslike genetika. Sy missie is om 'n omgewing te kweek waarin Genetika as kernwetenskap kan dien as basis vir die kreatiewe ontwikkeling van menslike hulpbronne tot voordeel van die individu, die breër samelewing, sowel as die omgewing.

Maar wat is Genetika? Genetika is die studie van hoe biologiese inligting geberg, oorgedra, vertolk en uitgedruk word. Dit vorm dus 'n sentrale pilaar vir biologie en oorvleuel ook met talle terreine soos landbou, geneeskunde en biotegnologie. In Genetika sal jy leer van gene, oorerwing, en genetiese variasie in lewende organismes. Dit beteken dat ons die fisiologiese gedrag van 'n lewende organisme, soos bv. ‘n plant, dier of mens kan begryp én voorspel.

empty

empty tag

Vir watter graad skryf ek in indien ek Genetika wil studeer, en hoe lank duur die studie?

Jy het twee hoofopsies, of jy skryf in vir ‘n BSc-graad in die Fakulteit Natuurwetenskappe, of jy skryf in vir ‘n BScAgric-graad in die Fakulteit AgriWeatenskappe. Indien jy vir ‘n BSc-graad inskryf, kan jy of BSc (Molekulêre Biologie en Biotegnologie) of BSc (Menslike Lewenswetenskappe met Biologie) studeer, en indien jy vir ‘n BScAgric-graad inskryf, kan jy of BScAgric (Gewasproduksie) of BScAgric (Diereproduksie) swot. ‘n BSc-graad duur drie jaar met die opsie van ‘n addisionele vierde jaar vir verwerwing van die graad HonsBSc. ‘n BScAgric-graad se studietyd is vier jaar.

Wat is die toelatingsvereistes as ek Genetika wil studeer?

Die tabel hieronder som die toelatingsvereistes vir die BSc en BScAgric-grade op.

Natuurwetenskappe

 

BSc (Molekulêre Biologie en Biotegnologie)

 

BSc (Menslike Lewenswetenskappe met Biologie)

 

‘n Gemiddelde prestasiepunt van 65%, Lewensoriëntering uitgesluit.

Afrikaans of Engels (Huistaal of Eerste Addisionele Taal) 4 (50%)

Fisiese Wetenskappe 4 (50%)

Wiskunde 5 (60%)

Indien jy Wiskunde 114, 144 en Fisika 114, 144 wil volg, benodig jy ‘n 6 (70%) vir Wiskunde.

Fakulteit AgriWetenskappe

 

BScAgric (Gewasproduksie) &

 

BScAgric (Diereproduksie)

 

‘n Gemiddelde prestasiepunt van 60%, Lewensoriëntering uitgesluit.

Afrikaans of Engels (Huistaal of Eerste Addisionele Taal) 4 (50%)

Fisiese Wetenskappe 4 (50%)

Wiskunde 5 (60%)

Watter loopbaan moontlikhede is daar vir my na ek ‘n graad in Genetika voltooi het?

Indien ‘n wetenskaplike in Genetika spesialiseer, is daar werksgeleenthede by navorsingsinstansies, hospitale, natuurparke en dieretuine, asook biotegnologiese en farmaseutiese ondernemings.

Wat is die Instituut vir Plant Biotegnologie?

Die Instituut vir Plant Biotegnologie (IPB), wat deel is van die Departement Genetika, is ‘n diverse en multikulturele nagraadse navorsingsomgewing wat fokus op hoë kwaliteit en inter-dissiplinêre navorsing, en bied nagraadse studie op alle vlakke van tersiêre studie in biotegnologie aan.

Wie kan ek kontak as ek meer inligting van Genetika by Stellenbosch Universiteit soek?

Jy kan Genetika se departementele voorsitter, Mnr Willem Botes, by wcb@sun.ac.za kontak. Jy kan ook die bestuurder van die Departement Genetika, me Thanja Allison, by mja@sun.ac.za kontak.

Afrikaans