AgriWetenskappe

Suid-Afrika se uitvoer van vrugte en blomme ding mee met die beste ter wêreld en die Departement Hortologie is opreg trots op die top gehalte hortologiese wetenskaplikes wat dit voortdurend aan die Suid-Afrikaanse en internasionale bedrywe lewer. Hortologie-aktiwiteite is baie uiteenlopend en behels plante vir voedsel en nie-voedseloeste. Weens die toenemende bewustheid van die enorme uitdagings om in die toekoms die wêreld steeds groeiende bevolking te voed, is die begrippe "plaas na die vurk" en "plaas vir die toekoms" uiters belangrik. Albei konsepte plaas die klem op die volhoubare gebruik van ons natuurlike hulpbronne om 'n smaaklike en voedsame produk teen die laagste moontlike koste en met die minste vermorsing te lewer. 

Die graad in Hortologie is ontwerp met indiensneembaarheid in gedagte. Die inhoud is gekonseptualiseer in oorleg met verskillende Suid-Afrikaanse bedryfsvennote, onder meer sagtevrugte, sitrus, subtropiese vrugte en snyblomme, en ons gegradueerdes is 'n uiters gewilde aanwins vir enige industrie. 

empty

empty tag

Kan ek Hortologie studeer as ek net Wiskundige Geletterdheid op skool gehad het?

Nee, ongelukkig benodig jy suiwer Wiskunde. Met Wiskundige Geltterdheid kan jy egter oorweeg om die programme aan die Landboukollege Elsenburg, wat net buite Stellenbosch geleë is, te volg.

Het ek Fisiese Wetenskap in Graad 12 nodig om Hortologie te studeer?

Ja, jy het beide Wiskunde en Fisiese Wetenskap nodig.

Wat is die toelatingsvereistes (d.w.s. skoolvakke en toepaslike grade) vir ʼn graad in Hortologie?

Die toelatingsvereistes vir die BScAgric program is soos volg: 

  • ʼn Gemiddelde prestasie van 60% in die NSS of die IEB-skooleindsertifikaat (Lewensoriëntering uitgesluit), of ander skoolkwalifikasie;
  • Afrikaans of Engels (Huistaal of Eerste Addisionele Taal) – 4 (50%);
  • Wiskunde – 5 (60%); en
  • Fisiese Wetenskappe (Fisika en Chemie) – 4 (50%).
Hoeveel jaar swot ‘n mens aan 'n Hortologie-graad?

Vier jaar.

Kan Hortologie met ander vakgebiede gekombineer word?

Ja, die BScAgric bestaan altyd uit twee hoofvakke en Hortologie kan gekombineer word met Landbou-ekonomie, Entomologie, Genetika, Plantpatologie en Grondkunde.

Kan Hortologie gekombineer word met Wingerdwetenskappe of Agronomie?

Nee, dit is nie moontlik nie. Jy moet 'n keuse maak tussen Hortologie, Agronomie en Wingerdwetenskappe as jou hoofgewastipe.

Is daar goeie werksgeleenthede vir iemand met 'n Hortologie graad.

Die antwoord is beslis ja. As jy net kyk na die groot verskeidenheid vrugte en snyblomsoorte wat wêreldwyd geproduseer word, en die feit dat die meeste van hierdie gewasse die betrokkenheid van 'n opgeleide, professionele hortoloog vereis, dan is die werksgeleenthede voorwaar volop. Die afgelope 20 jaar het ons nie een student gehad wat nie 'n goeie werk uitgeslaan het nie.

Watter soort werk is daar vir ʼn Hortoloog?

Daar is verskillende takke van hortologie waarbinne jy kan werk:         

  • Die bestuur van vrugte of blomme op produksievlak (plaas, pakhuis- of tegniese bestuurder, gehaltebestuurder)
  • Kwekerybestuurder en uitvoerbestuurder
  • Verskeie landboumaatskappye (landbouchemiese maatskappye of as produkbestuurders)
  • Navorser 
  • Tegniese konsultant
Afrikaans