Regsgeleerdheid

Die Fakulteit Regsgeleerdheid, wat in 2021 sy honderd-jarige bestaan vier, is geleë in die hart van die Universiteit Stellenbosch in die Ou Hoofgebou, en is die tuiste van ongeveer 1200 studente wat oor vyf voorgraadse regsprogramme studeer.

Brochures and Newsletters

empty

empty tag

Wat is die minimum toelatingsvereistes?

Jy kan die minimum toelatingsvereistes vir alle programme vind op www.maties.com.

Sal ek in ’n program geplaas word as ek wel aan die minimum toelatingsvereistes voldoen?

Nee, die universiteit waarborg u nie ’n plek in ’n program nie as u aan die minimum toelatingsvereistes voldoen nie. Gewoonlik is daar by alle programme ’n vorm van ’n keuringsproses.

Onder watter fakulteit val BA (Regte)?

Tegnies gesproke is u ’n student van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. U ontvang u graad van hierdie fakulteit. Aangesien ’n groot aantal van u modules in die Regsfakulteit aangebied word, sal u egter by die verwelkomingsprogram van die Regsfakulteit aansluit, en die Fakulteit sal u ook dan bystaan met sekere administratiewe navrae.

Onder watter fakulteit val BCom (Regte)?

Tegnies gesproke is u ’n student van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. U ontvang u graad van hierdie fakulteit. Aangesien ’n groot aantal van u modules in die Regsfakulteit aangebied word, sal u egter by die verwelkomingsprogram van die Regsfakulteit aansluit, en die Fakulteit sal u ook dan bystaan met sekere administratiewe navrae.

Het die Fakulteit beurse vir regstudente?

Alhoewel die Fakulteit nie spesifieke beurse vir eerstejaar regstudente het nie, kan u aansoek doen om finansiële ondersteuning by die sentrale kantoor, aan die Universiteit Stellenbosch. Raadpleeg hul webwerf vir meer inligting, sowel as die Beurse en Lenings Jaarboek.

Die Fakulteit het wel enkele beurse beskikbaar vir studente in nood gedurende die latere studiejare, wat toegeken word op grond van akademiese meriete en behoeftes.

Loopbane
Kan ek ’n geoktrooieerde rekenmeester en regspraktisyn word met BRek LLB? Ja, sommige van ons alumni het gekwalifiseer as beide geoktrooieerde rekenmeesters en regspraktisyn (prokureur of advokaat).
Kan ek oorsee gaan werk met my graad? Jy kan oorsee gaan werk, maar dit sal onderhewig wees aan dieselfde vereistes soos van toepassing op ’n regstudent van ’n ander land wat in Suid-Afrika wil praktiseer. Aangesien die regsberoepe in verskillende lande beheer word deur hulle weergawes van ons Regspraktykraad, moet ’n student wat in ’n ander land wil praktiseer, aan die nodige vereistes van hulle toepaslike Raad voldoen. Dit sluit dan gewoonlik ’n tipe omskakelings kursus en verdere eksamens, om daar te kan werk in. Wat die proses sou behels, sou heeltemal afhang van watter land / jurisdiksie betrokke was. Ongeag, ons kan bevestig dat baie van ons gegradueerdes oor die jare wel oorsee werk, so dit is beslis ’n opsie.
Hoe word ek ’n regspraktisyn (prokureur / advokaat)

Prokureur: Sodra u die LLB-graad voltooi het, moet u as kandidaat-prokureur vir 2 jaar by ’n prokureursfirma aansluit en die toelatingseksamens slaag om as prokureur toegelaat te word. ’n Alternatief hiervoor is om ’n praktiese regskursus van 6 maande te voltooi en dan vir 1 jaar by ’n prokureursfirma aan te sluit as kandidaat-prokureur, en daarna die toelatingseksamens te slaag voordat u toegelaat word.

AdvokaatNa voltooiing van u LLB-graad, doen u aansoek vir ‘n 1-jaar vakleerlingskap by die balieraad. Ná afloop van die vakleerlingskap moet u die balie-eksamen slaag om toegelaat te word as junior advokaat.

Hoe word ek ’n regter? Jy moet eers toegelaat word as prokureur of advokaat (of as ’n landdros werk) en, nadat u ervaring in die praktyk opgedoen het, jouself beskikbaar stel vir die moontlike aanstelling as ’n waarnemende regter. U moet hierna benoem word vir die aanstelling as regter, en dan finaal aangestel word na ’n suksesvolle onderhoud-proses.
Hoe word ek ’n magistraat / landdros? Nadat u die LLB-graad voltooi het en ondervinding as regspraktisyn (prokureur of advokaat) opgedoen het, doen u aansoek vir die posisie van ’n landdros sodra ’n vakante betrekking/pos ontstaan.
Hoe word ek ’n interne regsadviseur? Interne regsadviseurs is dikwels persone wat reeds voorheen as ’n regspersoon (prokureur / advokaat) gepraktiseer het, maar soms sluit LLB, BRek LLB of BCom/BA (Regte) graduandi regstreeks na hul studies by korporatiewe ondernemings aan.
Ek is ’n internasionale student; kan ek toegelaat word as ’n regspraktisyn (prokureur / advokaat) in Suid-Afrika? Toelating tot die beroep vereis nie net ’n LLB-graad van ’n Suid-Afrikaanse universiteit nie, maar vereis ook onder meer Suid-Afrikaanse burgerskap of permanente verblyfreg in Suid-Afrika. Lees meer: https://lpc.org.za/legal-practitioners/enrolment-of-legal-practitioners/
Skaam? Waar kan ek leer om meer gemaklik te wees met ’n spreekbeurt voor ander? Die voordeel van die regsberoep is hoe breed die omvang daarvan is. Alhoewel dit afhang van watter gebied of veld u betree, hoef u nie noodwendig die wêreld se grootste redenaar te wees, of in die hof voor ’n landdros of regter te argumenteer nie. Om gemaklik te wees om u standpunt of argument te bespreek, of om met kliënte of medewerkers saam te werk, is natuurlik ’n baie nuttige vaardigheid om te ontwikkel. Hierdie vaardighede hoef nie te verwerf word nie, maar dit bly iets waarna alle regstudente ten minste moet streef. Daar is baie maniere om gemakliker te word met praatwerk, wat wissel van studiegroepe met u vriende, argumente/punte oordra in tutoriaalklasse, om vrae te stel of te beantwoord in die klas, of deur te dien op komitees / leierskapposisies te vul op kampus. Verdere geleenthede is ook beskikbaar deur byvoorbeeld in te skryf vir verskillende verenigings op kampus, soos by voorbeeld die Debatsvereniging, of die Skynhofvereniging van die Regsfakulteit. ’n Skynhof is waar deelgeneem word aan fiktiewe hofsake, en uiteindelik kan die saak voor ware regters beredeneer word, is waarskynlik die toppunt van die ontwikkeling van toespraak vaardighede as ’n regstudent. Maar soos genoem, is daar baie ander maniere om daardie vaardigheid in te oefen – begin met dit waarmee u gemaklik is en werk daarvandaan vorentoe.
Wat is regsfirma-internskappe, en moet ek dit doen? Dit hang heeltemal van u af, maar dit is raadsaam om ervaring op te doen in die regswêreld soos dit daar buite funksioneer. Dit sal ook goed weerspieël in u toekomstige CV wanneer dit tyd is om aansoek te doen vir klerkskap by prokureursfirmas (na die voltooiing van universiteit). Doen navorsing op die internet, of kontak eenvoudig ondernemings waarin u belangstel, om navraag te doen oor moontlike internskappe of vakansie-programme. Hou ook die kennisgewingborde in die Fakulteit dop, of aankondigings op die Law101 SUNLearn-module, waar moontlike poste geadverteer kan word.
Wat is my loopbaanopsies? U is nie beperk nie. Dink so daaraan, terwyl u ’n professionele graad doen, is die vanselfsprekende keuses duidelik (regspraktisyn of, in die geval van die BRek LLB, ook geoktrooieerde rekenmeester), maar u kan dieselfde loopbane volg as ’n BA gegradueerde en (afhangend van u studieprogram) BCom- of BRek-gegradueerdes volg. U kan werk in die media (bv. joernalis), politiek (bv. politikus), plaaslike of nasionale regering (bv. akte-ondersoeker, regsdienste vir die munisipaliteit, SARS, enige van die ministeries); Nasionale Vervolgingsgesag (bv. Openbare aanklaer); of loopbane volg in bemarking, versekeringsdienste, die korporatiewe wêreld of as belastingkonsultant (bv. belastingadviseur) ens.
Wanneer doen ek aansoek vir klerkskap? As u by een van die groter prokureursfirmas wil werk, sal u gewoonlik aansoek doen vir klerkskap in u tweede jaar van die LLB (4 jaar) program, die derde jaar van die BRek LLB-program, of u laaste jaar van die BCom (Regte) / BA (Regte) -programme. Vir medium- en kleiner ondernemings sal u gewoonlik aansoek doen in u voorfinale en finale studiejaar.

 

Eienskappe van ’n tipiese regstudent

Alhoewel dit gewoonlik nie raadsaam is om in algemene terme oor die karaktereienskappe van ’n groep mense te praat nie – aangesien die groep uit individuele persone bestaan wat almal uniek is – kan daar tog kommentaar gelewer word oor die eienskappe van ’n 'tipiese' regstudent: Ons studente is geneig om nuuskierig en gedetailleerd te wees, en gefokus te wees op die ontwikkelinge rondom hulle wat mense of die breër samelewing beïnvloed. Hulle is nie bang om standpunt in te neem nie, maar is daarop bedag dat sienings kan verander namate meer inligting aan die lig kom. Hulle besit gewoonlik ’n sterk, inherente bewussyn vir geregtigheid – deurdat hulle weet wanneer iets verkeerd is, en dat iets daaraan gedoen moet word. Hulle het waardering vir hoe die lees en absorbering van inligting hulle kan bemagtig om begrip te kry vir iets wat ander net nie verstaan nie of nie aan steur nie. Hulle is analities in hul denke en wil graag verstaan waarom dinge is soos dit is, eerder as om dit net te aanvaar sonder verdere ondersoek. Hulle geniet die leer van iets nuuts. Hulle hou daarvan om aan ander te verduidelik wat hulle geleer het. Hulle neem kennis van die gevare wat saamgaan met gevolgtrekkings wat te vinnig gemaak word. Hulle is bewus daarvan dat meeste dinge oop is vir interpretasie. Hulle verstaan dat ’n oortuigende argument nie noodwendig dieselfde is as ’n gesaghebbende argument nie. Hulle is nie bang om hard en konsekwent te werk nie. Hulle plaas baie waarde op die belangrikheid van lewenslange leer. Hulle erken die moontlike rol wat hulle in die konteks van die breër samelewing kan vervul. Hulle waardeer die belangrikheid daarvan om kreatief te kan dink en redeneer. Hulle is selfbewus en erken hul eie betrokkenheid by en verantwoordelikheid vir hulle uiteindelike sukses en toekomsplanne.

Uitruilprogramme
Kan ek aan ’n uitruilprogram by ’n ander universiteit deelneem, en indien wel, wanneer?

Die semesteruitruilprogram in die Fakulteit Regsgeleerdheid is beperk tot die finalejaar LLB-studente (alle LLB-programme), wat hul finale semester aan een van ons vennoot-universiteite oorsee / internasionaal sal deurbring.

Ongelukkig is ’n semesteruitruiling nie moontlik in die BA (Regte) of BCom (Regte) voorgraadse programme, of die BRek LLB-program nie.

Kan ek aan somer- of winterskole deelneem? Tipies behoort u vanaf u tweede jaar aan die somer- of winterskole in die buiteland te kan deelneem. Besoek gerus die Internationale Kantoor om meer inligting oor hierdie opwindende geleenthede te bekom.
Sal my IEB-uitslae anders beskou word as die NSS-resultate?

Nee, die Fakulteit onderskei nie tussen aansoekers met IEB- of NSC-uitslae nie. Die Nasionale Normtoets word as ’n gelykmaker gebruik.

In watter taal kan ek studeer?

Kyk gerus na die taalplan van die Universiteit, (klik hier).

Let daarop dat die Universiteit se taalbeleid en -plan elke vyf jaar oorweeg en hernu word, om te verseker dat dit op datum is en ooreenstem met die vereistes en verwagtinge van die Universiteit se studente, personeel en die breër Suid-Afrikaanse konteks. As ’n nuwe student het u die keuse om in Afrikaans of Engels te studeer, en sal u al u toetse en eksamens in beide tale kan beantwoord. Verder sal formele akademiese materiaal ook in beide tale verskaf word.

Ek hoor daar is ’n nuwe program in 2022, hoe sal dit my beïnvloed?

Studente wat in 2021 met hul graad begin het, sal slegs deur die nuwe programme geraak word as hulle nie modules slaag nie. Die jaarboek bevat oorbruggingsreëls wat verduidelik wat u moet doen as ’n module nie geslaag word nie. Studente wat vanaf 2022 met hul program begin, begin dan met die hernieude kurrikulum vir regsprogramme en voltooi hul grade daarvolgens. Die belangrike punt om te beklemtoon is dat presies dieselfde grade nog aangebied word. Dit is meestal die kombinasie van modules in die programme, die name van modules en die krediet-lading van sommige modules wat verander. Sommige nuwe modules word bekendgestel en die inhoud van sommige voormalige modules word in verskillende modules ingewerk. Die inhoud van die hernieude programme is egter grootliks dieselfde.

Wiskunde
Moet ek Wiskunde vir my regsprogramme neem? Persone wat vir die BCom (Regte) en BRek LLB program aansoek doen, moet Wiskunde hê.
Persone wat vir die LLB en BA (Regte) programme aansoek doen, hoef nie Wiskunde te hê nie.
Ek wil graag aanhou wiskunde doen, maar is bekommerd dat dit nadelig sal wees vir my aansoek in die LLB-program? Die Fakulteit Regsgeleerdheid neem wel in ag dat aansoekers wat Wiskunde (en nie Wiskundige Geletterdheid nie) geneem het, laer punte in die module sal behaal. Tydens die keuring vir die LLB- en BA (Regte) -programme sal die Fakulteit die Wiskunde punt verhoog om rekening te hou met die verskil tussen Wiskunde en Wiskundige Geletterdheid.
Hoekom moet ek die Nasionale Normtoetse skryf?

Aansoekers vir regsprogramme moet die Nasionale Normtoets aflê vir keuringsdoeleindes. ’n Aansoeker wat nie die Nasionale Normtoets betyds aflê nie, sal slegs op grond van hul graad 11-uitslag ingedeel word (met ’n 0 wat dan bereken word vir die Nasionale Normtoets).

Die Fakulteit Regsgeleerdheid gebruik die Nasionale Normtoets om die finale Graad 11-uitslae uit die wye verskeidenheid skole en verskillende skoolstelsels te balanseer.

Program-administrasie
Kan ek addisionele modules neem? Ons sal nie toelaat dat ’n eerstejaar-regstudent addisionele modules neem nie. As u eerstejaar baie goed gaan, kan ons dit oorweeg om dit in u tweede jaar toe te laat, en soos altyd onderhewig aan klas-, toets- en eksamenroosters.
Hoe kies ek die eerstejaar-keusevakke? U moet kies waarin u belangstel, lees op oor die verskillende modules (u sal die module-inligting in die betrokke Fakulteitsjaarboek vind) en praat met die dosente van die modules vir meer inligting as u nie heeltemal seker is nie. Onthou dat hoewel u die keusevakke kies wanneer u registreer, u wel die keusemodules kan verander gedurende die eerste twee weke van die semester.
Hoe kies ek my taalkeuse? Afhangend van u program, het u ’n verskeidenheid taalkeuses. Uiteindelik sal die keuse u eie wees, maar u kan byvoorbeeld kies om u kennis uit te brei in ’n taal wat u reeds magtig is (huistaal), of om ’n nuwe taal te leer. As regstudent is dit belangrik om te onthou dat taal een van die instrumente in u vakgebied is. Dus sal dit beslis voordelig wees om ’n taal te bemeester of ’n nuwe taal aan te leer.
Hoe pas die verskillende regsprogramme by mekaar in? Waarom is sommige langer of korter as ander? Onthou dat, ongeag vir watter programme u ingeskryf is, u in wese dieselfde regsmodules as al die ander regstudente sal neem. Dit is slegs die ander modules van ander fakulteite wat verskil – maar dit hang weereens af van u program. Wat die lengte betref, het die BCom (Regte) en BA (Regte) -programme dieselfde regsmodules as die eerste twee jaar van die 4-jaar LLB, maar versprei oor 3 jaar. Hierby word die ekstra BCom- of BA-modules gevoeg. Na drie jaar sal die studente dan met hul BA- of BCom (Regte) gradueer, maar kan nie as regspersoon praktiseer nie. Hulle moet dan die 2-jaar LLB NG-program doen, wat dan dieselfde is as die laaste twee jaar van die 4-jaar LLB-program, om te kan praktiseer. LLB-studente neem dus 4 jaar om hul graad te voltooi, die BA- of BCom (Regte) -studente neem 5 jaar (3-jaar VG en 2-jaar NG), en die BRek LLB-studente neem vyf jaar (aangesien hulle in wese die 4-jaar LLB en die BRek grade op dieselfde tyd neem).
Ek sukkel met die spel van woorde; sal hulle punte aftrek? In die algemeen is skryfwerk baie belangrik vir ’n regspraktisyn. Dit bly die mees algemene vorm van kommunikasie wat u in die regsgebied sal gebruik. Met dit gesê, huidige tegnologie en die feit dat byna alle skryfwerk digitaal gedoen word, kan baie van die probleme wat gewoonlik met spelling gepaardgaan, geminimaliseer word. Speltoetsers is egter nie perfek nie, en noukeurige aandag aan u skryfwerk, asook basiese grammatika, bly van kardinale belang. U sal steeds by die Fakulteit die oorgrote meerderheid van u toetse en eksamens op papier skryf. Om goed te kan spel, sal dus bydra tot ’n gunstige geheelindruk in jou assessering. Sommige studente kan werklike spel-uitdagings ondervind as gevolg van verskillende onderliggende toestande, soos disleksie. By u aankoms op die kampus kan u hierdie inligting oordra aan die Fakulteit, en kan daar dan bespreek word watter in watter mate u geakkommodeer kan word.
My ouers wil weet hoe ek vorder, kan hulle die fakulteit of universiteit kontak? Ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) mag ons geen inligting met u ouers deel nie, tensy u teenwoordig is en toestemming gee dat ons hierdie inligting deel. U ouers moet dus enige inligting van u ontvang, en u kan hulle natuurlik toegang gee tot u aanlyn studenteprofiel.
Wat is keusemodules? Die term 'keusemodule' word gebruik vir ’n module / vak wat ’n student 'kies', gewoonlik uit ’n seleksie van modules. As voorbeeld kan daar in die laaste jaar van u regsprogramme 4 keusevakke / modules in die 2de semester geneem word. Daar is ’n reeks keusemodules beskikbaar (die besonderhede hiervan is beskikbaar in die Jaarboek), en finalejaarstudente "kies" dan om 4 daarvan te neem, afhangend van hul belangstelling en beskikbaarheid. Keusevakke kan oor die verskillende jare geneem word, of slegs in sekere jare – weereens afhangend van die spesifieke program.
Wat is modulekrediete? Al die modules waarvoor u op universiteit gaan inskryf, het ’n spesifieke kredietgewig / kredietlading. Wanneer u deur die verskillende jaarboeke lees, na die naam van die module word ’n kode gelys – wat die jaargang van die module duidelik maak, en of dit ’n jaar- of semestermodule is. Daarna word ’n syfer in die ronde hakies gelys, bv. (6), (12), (18) of (24) – hierdie is dan die toepaslike kredietlading vir daardie module. Verskillende graadprogramme sal verskillende kredietgewigte aan verskillende soorte modules heg, maar daar is gewoonlik ’n konsekwente benadering wat gevolg word teenoor modules binne spesifieke jare in die onderskeie programme. ’n Kredietgewig dien as ’n rowwe riglyn vir hoeveel werk of werklading met ’n spesifieke module geassosieer moet word – en gevolglik hoeveel werk daar van ’n student verwag word om die module te slaag of om suksesvol te wees. Eenvoudig gestel, verteenwoordig ’n enkele krediet tien "veronderstelde ure" wat in ’n module bestee moet word. ’n 24-krediet module neem byvoorbeeld 240 uur in beslag – en aangesien dit gewoonlik aan ’n jaar module gekoppel is, spreek dit dan van 240 uur wat u gedurende die akademiese jaar (+/- 26 weke) aan die module moet spandeer. Van belang is egter dat die ure alles insluit: klasbywoning, tutoriaalbywoning, voorbereiding vir toetse en eksamens, skryf van toetse en eksamens, voorbereiding vir tutoriale en klasse, al die leeswerk in die module soos bevat in die voorgeskrewe materiaal, skryf van werkopdragte, navorsing/voorbereiding vir die werkopdragte, die maak van opsommings en verdere aantekeninge, ens. Alhoewel dit dalk soos baie klink, en in ’n mate is dit wel, is dit ook nie onmoontlik nie as u nadink oor wat in elk geval verwag sou word van ‘n universiteitstudent ten opsigte van voorbereiding nie.
Wat word bedoel deur ’n “hoofvak of -vakrigting”? Dit word gebruik om te verwys na die “hoof” -module wat in sommige programme as opsie aangebied word. Dit is gewoonlik ’n program soos BA (Regte), waar die student ’n reeks Lettere / BA-modules kan kies van die eerste tot die derde jaar. Die module wat die student op die eerste-, tweede- en derdejaarsvlak neem, sal dan hul “hoofvak” wees.
Hoe toekomsbestand is ’n regsgraad?

Ons word toenemend hierdie vraag gevra, in ag genome al die gesprekke regoor die wêreld oor kunsmatige intelligensie (KI), outomatisering, groot-data-analise, wolk-rekenaarverwerking (cloud computing) en dies meer – en die impak wat dit sal hê (en het) op die tradisionele regsvelde. Daar is geen twyfel dat sekere regsgebiede, soos dit tans funksioneer, toenemend deur tegnologie beïnvloed sal word nie, tot die punt waar die behoefte – of die mate van betrokkenheid – deur prokureurs of regsgegradueerdes verander gaan word. Dit is veral so in die loopbane wat tradisioneel sterk beïnvloed is deur die 'transaksionele' regs-interaksies, wat daarop gemik is om te bevestig dat die nodige voorwaardes vir die wettige transaksie bestaan, en indien wel – dan geld dit, en indien nie – dan geld dat. Maar hoewel aspekte van die regsbedryf deur tegnologie beïnvloed gaan word, bly dit belangrik om die menslike element en die interaksie tussen die partye, wat so dikwels die basis van die reg vorm, te erken. Dit is die rede hoekom daar altyd ’n plek sal wees vir gegradueerdes en hul unieke perspektief op die wêreld en sy inligting, wat deur hul regsopleiding bewerkstellig word. As regstudent van Stellenbosch, sou u aan hierdie veranderinge (huidige en toekomstige) blootgestel wees deur modules soos Die Reg en Tegnologie, en binne enige aantal van u verskillende regsmodules – waar die oorvleueling tussen toekomstige tegnologieë en die bestaande regstelsel, ondersoek sou word.

Keuring
Hoe word studente gekies vir ’n regsprogram? Aansoekers word gekies op grond van akademiese meriete. Die Fakulteit Regsgeleerdheid neem beide die finale Graad 11 (of, indien beskikbaar, Graad 12) -uitslae en die Nasionale Normtoets-uitslae in ag, om sodoende aansoekers van die sterkste tot die swakste te rangskik, vir die doeleindes van keuring.
Hoeveel plekke is beskikbaar in die regsprogramme?

Die inskrywingsplan van die Fakulteit Regsgeleerdheid is soos volg:

LLB-program (4 jaar): 120 studente
BRek LLB-program: 40 studente
BCom (Regte) -program: 60 studente
BA (Regte) -program: 50 studente

Wanneer spesialiseer ek in ’n spesifieke regsgebied?

U sal gewoonlik slegs spesialiseer in u nagraadse studies (Magister in die Regsgeleerdheid of ’n Nagraadse Diploma) of in die praktyk. In u laaste jaar van die LLB-graad word u egter blootgestel aan sekere keusevakke wat deel kan uitmaak van die grondslag vir verdere spesialisering in ’n regsgebied.

Sal u my sport-, kulturele- en leierskapsprestasies in aanmerking neem vir keuring?

Nee, die Fakulteit oorweeg slegs aansoeke op akademiese meriete. Die rede hiervoor is dat nie alle aansoekers dieselfde geleenthede in hul onderskeie skole gehad het nie. As sodanig is die Fakulteit baie bedag daarop dat hulle nie die aansoek moontlikhede van voornemende studente wil beperk op grond van watter skool hulle bygewoon het nie, en watter fasiliteite by daardie skole beskikbaar was nie.

Studentelewe

Ek hou nie van lees nie...

 

Ongelukkig is dit in u beste belang om ’n liefde (of ten minste, verdraagsaamheid) vir lees te ontwikkel. Een van die kern vaardighede wat regsgegradueerdes onderskei van ander studente en hul programme, is die vermoë om groot hoeveelhede inligting vinnig te absorbeer, en die belangrikste essensie van daardie inligting dan te identifiseer op so ’n manier dat die onderliggende betekenis duidelik word. Na die eerste jaar sal die werklas geleidelik toeneem, en daar sal van studente verwag word om hulself met meer en meer inligting te vergewis in die vorm van hul voorgeskrewe handboeke, hofsake, wetgewing, regsartikels (bronne wat deur regsakademici oor die reg geskryf is) en dies meer. ’n Student wat weier om baie te lees, sal miskien in die eerste jaar of selfs in die tweede jaar kortpaaie kan vind, maar uiteindelik sal dit die student inhaal, wat dit dan baie moeilik gaan vind om die werklas baas te raak. Gelukkig is die Fakulteit baie bewus hiervan en spesifiek programme is beskikbaar in spesifieke modules, wat studente sal help om hul leesspoed en leesvermoë te verbeter. Verder het verskillende eksterne eenhede, soos die Taalsentrum of die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling, hulpprogramme wat studente ook kan gebruik. Laastens, en waarskynlik die belangrikste, is die eenvoudige waarheid: Hoe meer u oefen om te lees, hoe beter sal u leesvaardighede word. Baie regstudente begin hul eerste jaar en lees nie naastenby so goed as wat hulle dink nie, maar indien hulle dan doen wat van hulle verwag word (en lees, en lees, en lees), verbeter hul leesspoed en begripsvermoë soos die jaar aanstap. Dit is amper gewaarborg dat u al teen die middel van u eerste jaar ’n verskil sal sien in hoe lank dit neem om iets gemaklik te lees.
Ek hoor dat regte ’n uitdagende graad is. Hoe kan ek my studies en sport / familie / sosiale verpligtinge balanseer? Tydsbestuur is noodsaaklik vir suksesvolle regstudente. ’n Hele aantal van ons studente neem deel aan professionele sport of beklee leierskapposisies by die universiteit – dit is beslis moontlik om ’n gesonde balans tussen u studies en u sosiale lewe te handhaaf, maar dit bly belangrik dat u verantwoordelikheid neem vir die manier waarop u, u tyd spandeer.
Wat is die JV/S en die regsmentorprogram? Die JV/S (Juridical Society / Juridiese Vereniging) is die Fakulteit se verteenwoordiger-komitee vir regstudente wat jaarliks vir en deur regstudente verkies word. Een van hul inisiatiewe is die regsmentorprogram, waar eerstejaar-regstudente (as mentees) met senior regstudente (as mentors) ingedeel word. Die mentors vergader gedurende die eerste jaar met hul mentees en adviseer hulle oor akademiese aangeleenthede, hoe om aan te pas by die studie van regte en dies meer.

Wat is ’n klasverteenwoordiger?

 

Klasverteenwoordigers sal navrae of griewe van ’n bepaalde klas na die dosent en/of die JV/S neem, namens die studente in daardie klas/module. Dit is dus ’n stelsel om te verseker dat die dosent en JV/S nie gebombardeer word (onthou dat daar meer as 350 studente in ’n klas kan wees) met dieselfde kwessies of navrae nie.
Wat is Werkgewersdag? Die JV/S organiseer ’n jaarlikse werkgewersdag in die eerste kwartaal van elke jaar. Prokureursfirmas, openbare belange NROs en die openbare sektor regsafdelings word na die Fakulteit uitgenooi, waar hulle inligting oor hul rol vertoon en met studente oor loopbaangeleenthede in gesprek tree.
By watter Universiteit verenigings kan ek by aansluit? Die universiteit het verenigings wat voorsiening maak vir allerlei belangstellings (wat wissel van verskillende sport-kodes tot politieke partye en geloofsgebaseerde verenigings). Vanuit die perspektief van ’n regstudent, wil ons u aanmoedig om meer te wete te kom oor die Skynhofvereniging, die Students for Law and Social Justice (SLSJ) en die Debatsvereniging. Onthou dat tydsbestuur van kardinale belang is in enige regstudent se lewe, en hoewel daar baie verenigings is waarby u dalk wil aansluit, moet u altyd bewus wees van die tyd wat u wel beskikbaar het.
Afrikaans