Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

Gegradueerdes van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US) is internasionaal bekend vir hulle etiese gesindheid, kultuur van omgee en hoëkwaliteitgesondheidsorg aan hulle kliënte, pasiënte en gemeenskappe.

Studente by Tygerberg-kampus waar die Fakulteit geleë is, geniet 'n omvattende studentgesentreerde ondersteuningstelsel wat onder andere bestaan uit student-gedrewe ondersteuningsinisiatiewe soos die Tutor-Mentorprogram, vak-spesifieke tutors en die ResEd- (Residensiële Onderrig) inisiatief. 'n Ervare span akademici en ondersteuningspersoneel is betrokke by die akademiese vordering en algemene welstand van al ons studente. Buiten bekwame onderrig in goed toegeruste fasiliteite, kry studente waardevolle praktiese ervaring deurdat hulle reeds vroeg in hul studieprogram ondervinding met pasiënte en gemeenskappe opdoen.

In 2002, het die Fakulteit die eerste landelike kliniese skool in Suid-Afrika gestig. Die Ukwanda Landelike Kliniese Skool, met sy hoofkwartier in Worcester en takke in Ceres, Robertson, Caledon, Hermanus, Upington en Swellendam, gee die FGGW-studente eerstehandse ervaring in die bepaling en behandeling van gesondheidsbehoeftes van die plattelandse gemeenskappe.

Toegang tot voorgraadse programme in beide geneeskunde en gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch is onderworpe aan 'n gestruktureerde keuringsproses. Studentegetalle in die Gesondheidswetenskappe word beperk deur regulasies van die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGSA) en die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV); die kapasiteit en begroting van die gesondheidsdienste en die Universiteit; asook die hoë eise van die programme, wat gewoonlik net suksesvol deurloop word deur kandidate wat bogemiddeld op skool presteer het.

Kyk aansoek en keuring vir instruksies oor hoe om aansoek om toelating te doen. Inligting oor toelatingsvereistes word onder elke program aangedui.

x

x

x

empty

empty tag

Wat is die vereistes vir studie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe?

Elkeen van ons voorgraadse programme volg ʼn keuringsriglyn (hier beskikbaar), wat die toelatingsvereistes vir elkeen van ons 3 keuringskategorieë uiteensit.

Hierdie kategorieë is as volg:

B1: Huidige leerders (graad 12) en aansoekers wat reeds skool voltooi het;

B2: Geregistreerde universiteitstudente; en

B3: Aansoekers met tersiêre kwalifikasies en/of werkervaring.

Lees asseblief hierdie riglyne sorgvuldig.

Vir hoeveel voorgraadse programme mag ek in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aansoek doen?

Jy mag vir enige drie voorgraadse programme aan die Universiteit Stellenbosch aansoek doen, ongeag daarvan of die programme in dieselfde fakulteit is of in verskillende fakulteite. Jy hoef nie jou keuses in volgorde van voorkeur te plaas nie en al die keuses op jou aansoek sal met gelyke gewig oorweeg word.

Kan ek aansoek doen as ek van plan is om ʼn oorbruggingsjaar (gap year) te neem of in ʼn oorbruggingsjaar is?

Ja, oorbruggingsjaaraansoekers word in Kategorie B1 (huidige matrikulante en aansoekers wat reeds gematrikuleer het) oorweeg, op voorwaarde dat jy nog nie aan ʼn ander tersiêre instelling gestudeer het nie en aansoek doen binne 3 jaar nadat jy gematrikuleer het. Vir die 2023-inname moes jy dus in 2020, 2021 of 2022 gematrikuleer het.

Ek het die aansoeksluitingsdatum gemis; oorweeg julle laat aansoeke?

As jy die sluitingsdatum vir die indiening van jou aansoek gemis het, sal ons ongelukkig nie in staat wees om jou te oorweeg nie, en sal jy moet wag tot die volgende aansoeksiklus om vir ons programme aansoek te doen.

Wat doen ek as my aansoek onvolledig is?

Aansoeke wat nie teen die sluitingsdatum van 31 Julie 2022 ingedien is of voltooi is teen die vereisde datum vir die oplaai van uitstaande dokumente nie, sal nie vir die 2023-inname oorweeg word nie.

Kan ek my Junie 2022-punte vir oorweging instuur?

Nee, keuring word gebaseer óf op finale Graad 11-uitslae óf finale Graad 12-uitslae. Slegs indien jou Graad 11-jaareindeksamen in gedrang gestel is deur Covid-19, sal jy die opsie hê om jou aansoek in Julie te voltooi en jou uitslae vir die middel van die jaar van Graad 12 in te dien.

Moet ek die Nasionale Normtoets (NNT) skryf?

Nee, daar word nie van aansoekers verwag om die NNT te skryf nie, met die uitsondering van School of Tomorrow-aansoekers. Bykomend tot voldoening aan die minimum toelatingsvereistes, moet School of Tomorrow-aansoekers voldoen aan die NNT-vereistes vir toelating soos uiteengesit in die relevante program se keuringsriglyn (ten einde universiteitsvrystelling van die Suid-Afrikaanse Matrikulasieraad te verwerf).

Wat is die Situasionelebeoordelingstoets (SBT)?

Die SBT is ʼn nie-akademiese assessering wat gebruik word as deel van die keuring van Kategorie B1-aansoekers vir al die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se voorgraadse programme. Meer inligting oor die SBT kan hier gevind word. here.

Wie moet die Situasionelebeoordelingstoets (SBT) skryf?

Alle Kategorie B1-aansoekers moet die SBT skryf, aangesien dit deel uitmaak van die keuringsfaktor waarvolgens keuring in hierdie kategorie bepaal word. Die SBT maak 20% van die keuringsfaktor uit. Daar word nie van Kategorie B2- en B3-aansoekers verwag om die SBT te skryf nie.

As ek besig is om my Graad 12-uitslae vir die 2022-aansoeksiklus te verbeter, sal ek vir keuring vir ʼn program in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe oorweeg word?

Ja, jou aansoek sal oorweeg word op grond van die volledige stel uitslae wat vir die keuringspaneel beskikbaar is. Stuur asseblief vir ons jou finale (opgedateerde) Graad 12-uitslae sodra hulle beskikbaar is, sodat ons jou aansoek met jou verbeterde/opgedateerde vakke en uitslae kan opdateer. E-pos ʼn afskrif van hierdie uitslae aan info@sun.ac.za , tygselections@sun.ac.za. Verskaf jou aansoeknommer (APP/1234567) of 7-syfer-studentenommer van die Universiteit Stellenbosch saam met die amptelike bewys van jou opgedateerde uitslae.

Indien ek uitslae van ʼn buitelandse skool het, sal ek vir keuring oorweeg word?

Ja, kyk asseblief na die Internasionale Kurrikulums se riglyn vir details oor hoe ons jou aansoek by die Universiteit Stellenbosch (US) hanteer. Let asseblief daarop dat dit jou verantwoordelikheid is om jou finale uitslae aan die US te stuur sodra dit beskikbaar is. Verskaf altyd jou aansoeknommer (APP/1234567) of 7-syfer-studentenommer van die US tydens hierdie proses. E-pos ʼn afskrif van hierdie uitslae aan info@sun.ac.za , tygselections@sun.ac.za.

Ek is ʼn buitelandse aansoeker; sal ek vir keuring oorweeg word?

MBChB-aansoekers

Die MBChB-program oorweeg slegs aansoekers wat Suid-Afrikaanse burgers is, aansoekers met bewys van permanenteverblyfregstatus of diegene met bewys van vlugtelingstatus, weens die beperkings op buitelandse burgers om in Suid-Afrika geplaas te word vir internskaps- en gemeenskapsdiens. Die internskap- en gemeenskapsdiensprogram word deur die Nasionale Departement van Gesondheid gekoördineer.  

Fisioterapie-, Arbeidsterapie-, Verpleegkunde-, Dieetkunde-, Spraak-Taal- en Gehoorterapie-aansoekers

Voorkeur word aan Suid-Afrikaanse burgers, aansoekers met bewys van permanenteverblyfregstatus of diegene met bewys van vlugtelingstatus gegee wanneer aansoekers vir keuring oorweeg word.

Waar kan ek die keuringsriglyne vir die programme vind?

Gaan na www.maties.com klik op die “Aansoek”-aftreklys > “Toelating- en Keuringsvereistes” en rol af op die Toelating- en Keuringsvereistes-webblad na “Fakulteitskeuringsriglyne”.

 

Het die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe ʼn spesifieke afsnytelling vir keuring of ʼn aanduiding van hoe goed ek op skool moet doen om gekeur te word?

Nee, ons programme gebruik nie ʼn afsnytelling vir keuring nie.

Kategorie B1-aansoekers (huidige leerders (graad 12) en aansoekers wat reeds skool voltooi het) word gekeur op grond van ʼn keuringsfaktor wat bestaan uit akademiese meriete (akademiese prestasie op skool) en nie-akademiese meriete (Situasionelebeoordelingstoets (SBT)). Akademiese prestasie op skool maak 80% van die keuringsfaktor uit en die SBT maak 20% van die keuringsfaktor uit. Aansoekers word aan die hand van die keuringsfaktor op ʼn ranglys geplaas en die keuringsriglyn vir die betrokke program word dan toegepas.

 

Vir Kategorie B2-aansoekers wat vir voorgraadse kwalifikasies geregistreer is, word keuring slegs op akademiese meriete op universiteitsvlak en die demografiese profiel van die eerstejaarinname gebaseer.

 

Kategorie B2-aansoekers wat vir nagraadse kwalifikasies geregistreer is en alle Kategorie B3-aansoekers word op ʼn kortlys geplaas vir ʼn onderhoud met die relevante keuringspaneel gebaseer op akademiese meriete op universiteitsvlak, ʼn gestruktureerde motiveringsbrief en die demografiese profiel van die eerstejaarinname. Finale keuring word gedoen nadat aansoekers op die kortlys deur middel van ʼn persoonlike onderhoud verder geassesseer is. ʼn Uitnodiging na ʼn onderhoud is geensins ʼn waarborg dat ʼn aansoeker wel gekeur sal word nie.

Is daar ʼn waglys?

Sommige aansoekers word in 2022 op ʼn waglys geplaas en as kansellasies tydens 2022 ontvang is en daar plekke in ʼn program beskikbaar is, kan aansoekers op die waglys ʼn voorwaardelike aanbod van toelating voor die einde van 2022 ontvang.

As ons nie in staat is om jou uit die waglys vir 2022 te keur nie, sal jou aansoek as onsuksesvol gemerk word en outomaties in 2023 saam met alle ongeplaasde kandidate heroorweeg word.

Wat as my aansoek tydens die 2022-keuringsproses onsuksesvol is? Is daar ʼn heroorwegingsproses? Hoe werk dit?

As jou aansoek as onsuksesvol gemerk is tydens 2022, is daar ʼn heroorwegingsproses wat plaasvind na die bekendmaking van die Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae (of die ekwivalent daarvan).

In 2023 word alle beskikbare plekke in ʼn program eerstens gevul deur aansoekers wat voorwaardelik in 2022 toegelaat is en wat nou aan die toelatingsvereistes met die finale Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae (of die ekwivalent daarvan) voldoen of deur aansoekers wat reeds tydens 2022 ʼn finale aanbod ontvang het.

Die oorblywende aansoekers, diegene wat afgewys is en op ʼn waglys geplaas is in 2022, word outomaties na ʼn nuwe waglys in 2023 oorgedra.

Aansoekers op ʼn waglys sal vir keuring in 2023 heroorweeg word gebaseer op kansellasies ontvang en plekke beskikbaar in die betrokke program.

Let asseblief daarop dat die heroorweging en jou plek op die waglys gebaseer is op die keuringsfaktor, wat saamgestel word uit jou finale Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae (of die ekwivalent daarvan) en jou Situasionelebeoordelingstoetsuitslag.

Heroorweging van aansoeke sal daagliks hanteer word tot die tweede week van die akademiese jaar, nadat klasse begin het, of totdat die eerstejaarsklasse heeltemal gevul is.

As ek ʼn aanbod aan ʼn ander universiteit aanvaar, sal my naam vanaf die heroorwegingslys vir Januarie/Februarie 2023 afgehaal word?

Nee. As jy vir ʼn program aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aansoek gedoen het voor die sluitingsdatum van 31 Julie 2022, en die FGGW kan na heroorweging in 2023 aan jou ʼn plek bied in die FGGW-program waarvoor jy aansoek gedoen het, sal die Keuringskantoor jou telefonies en per e-pos tydens Januarie/Februarie 2023 kontak. Maak daarom asseblief seker dat die Universiteit Stellenbosch jou korrekte selnommer en e-pos-adres het. As jou kontakdetails verander het, stuur asseblief jou nuwe kontakdetails in ʼn e-pos aan info@sun.ac.za, saam met jou aansoeknommer, sodat ons altyd jou nuutste kontakdetails het.

Kan ek voortgaan en my ‘ander/tweede’ programkeuse aan die Universiteit Stellenbosch aanvaar terwyl ek vir die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) se heroorweging wag? Sal dit nie my heroorweging aan die FGGW belemmer/kanselleer nie?

Jy mag ʼn ander programaanbod aanvaar – jy sal op die FGGW-heroorwegingslys bly totdat die heroorwegingsproses afgehandel is. Die proses sal twee weke na die begin van klasse (15 Februarie 2023) afgehandel word, of vroeër indien die betrokke FGGW-program heeltemal gevul is.

As ek ʼn ander programkeuse aan die Universiteit Stellenbosch (US) aanvaar, en vir hierdie ander program in 2023 registreer, kan ek weer aansoek doen vir ʼn program in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) vir die 2024-inname? Hoe sou dit werk?

Ja, as ʼn aansoeker aan die minimum vereistes voldoen (gebaseer op hulle finale skooluitslae soos uiteengesit in die keuringsriglyne) vir die betrokke FGGW-program en hy of sy het vir ʼn ander US-program in ʼn ander fakulteit in 2023 geregistreer, kan hy of sy ʼn aansoek in Kategorie B2 vir keuring (huidig geregistreerde studente) indien. Kyk asseblief na die Programkeuringsriglyne vir details rakende die Kategorie B2-vereistes en -proses per FGGW-program.

As ek ʼn voorgraadseprogramkeuse aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aanvaar en vir hierdie voorgraadse FGGW-program in 2023 registreer, kan ek weer aansoek doen vir ʼn ander FGGW-program vir die 2024-inname? Hoe sou dit werk?

Nee, die FGGW laat nie aansoekers wat tans geregistreer is vir ʼn FGGW- voorgraadse program toe om vir ʼn ander FGGW- voorgraadse program te registreer nie. Jy kan slegs vir keuring in ʼn FGGW- voorgraadse program as ʼn Kategorie B2-aansoeker (geregistreerde universiteitstudent) aansoek doen as jy vir ʼn program in ʼn ander fakulteit geregistreer is.

As ek met studie aan ʼn ander universiteit begin, kan ek weer by die Universiteit Stellenbosch (US) aansoek doen?

Fisioterapie-, Arbeidsterapie-, Verpleegkunde-, Dieetkunde-, Spraak-Taal- en Gehoorterapie-aansoekers

As jy aan ʼn ander universiteit geregistreer is wanneer jy aansoek doen, kan jy in Kategorie B2 (huidig geregistreerde studente) oorweeg word, op voorwaarde dat jy nie geregistreer is vir ʼn gesondheidswetenskappeprogram wat ook by die US aangebied word nie (MBChB, Fisioterapie-, Arbeidsterapie-, Verpleegkunde-, Dieetkunde-, Spraak-Taal- en Gehoorterapie).

MBChB-aansoekers

Plekke word gereserveer vir US-studente wat Suid-Afrikaanse burgers, permanente inwoners of vlugtelinge is en wat in relevante studievelde studeer (verkieslik verwant aan die natuurwetenskappe). Weens die beperkte hoeveelheid plekke in die program, kan geen studente wat by ʼn ander universiteit ingeskryf is wanneer aansoek gedoen word, vir keuring vir die MBChB oorweeg word nie.

Kan ek my programkeuse na ʼn program van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) verander nadat die keuringsuitslae in ʼn ander fakulteit bekend gemaak is?

As jy nie spesifiek vir ʼn FGGW-program aansoek gedoen het nie, sal jy nie toegelaat word om jou programkeuse na ʼn FGGW-program te verander na die aansoeksluitingsdatum van 31 Julie 2022 nie.

Kan ek my programkeuse van ʼn program van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) na ʼn program in ʼn ander fakulteit verander nadat die keuringsuitslae bekend gemaak is?

As jy jou programkeuse van ʼn FGGW-program na ʼn program in ʼn ander fakulteit wil verander, moet jy die ander program se fakulteitsverteenwoordiger kontak om vas te stel of die ander fakulteit jou sal toelaat om jou programkeuse te verander.

Kan ek aansoek doen vir ʼn plek in ʼn koshuis op Tygerbergkampus (die kampus van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe)?

Ja, jy kan aansoek doen vir ʼn plek in ʼn koshuis op Tygerbergkampus as jy ʼn aanbod ontvang het vir toelating tot ʼn program wat op die Tygerbergkampus aangebied word (MBChB, Verpleegkunde, Dieetkunde en Fisioterapie). Arbeidsterapie en Spraak-Taal- en Gehoorterapie word aanvanklik op die Stellenboschkampus aangebied en hierdie programme skuif oor na Tygerberg toe in die tweede en derde jaar onderskeidelik. Arbeidsterapie- en Spraak-Taal- en Gehoorterapie-studente kan in die eerste en tweede jaar, onderskeidelik, vir ʼn plek in ʼn Tygerbergkoshuis aansoek doen.

Kan ek vir Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW)-beurse aansoek doen?

Sodra jy tot ʼn voorgraadse program toegelaat is, kan jy vir finansiële hulp via die Universiteit Stellenbosch (US) se studenteportaal my.sun.ac.zaaansoek doen. Die portaal vir aansoeke vir voorgraadse en nagraadse finansiële hulp is beskikbaar nadat jy op die studenteportaal ingeteken het. Jy kan inteken op die studenteportaal met jou 7-syfer-US-studentenommer – wat aan jou gestuur sal word nadat jy toegelaat is. Klik hier vir die befondsingsgeleenthede wat tans vir huidige en voornemende FGGW-studente beskikbaar is. (klik hier).

Wie kan ek aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) kontak vir meer inligting rakende voorgraadse aansoeke?

Voorgraadsekeurings- en -werwingskantoor (Tygerbergkampus)

Algemene navrae
E-pos: tygselections@sun.ac.za
Tel: +27 21 938 9203

Anthea Roberts (Arbeidsterapie, Verpleegkunde en Spraak-Taal- en Gehoorterapie)

E-pos: anthear@sun.ac.za
Tel: +27 21 938 9533

Carin Basson (MBChB, Fisioterapie, Dieetkunde)

E-pos: cb3@sun.ac.za
Tel: +27 21 938 9580

Algemene navrae (Stellenboschkampus) en aansoeke deur huidige Universiteit Stellenbosch-studente vir FGGW-programme:

Johan Coetzer

E-pos: jco@sun.ac.za
Tel: +27 21 808 4842

Voorgraadse Beurse- en leningskantoor (Tygerbergkampus)

Algemene navrae
E-pos: tygbursaries@sun.ac.za

Noluvuyo Capsana

E-pos: ncapsana@sun.ac.za
Tel: +27 21 938 9458

Rochelle Sylvester

E-pos: sylvester@sun.ac.za
Tel: +27 21 938 9129

Koshuisplasing (Tygerbergkampus)

Annelie Scholtz

E-pos: amscholtz@sun.ac.za
Tel: +27 21 938 9378

Afrikaans