Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

Die B-graadprogram in Verpleegkunde en Verloskunde onderrig en begelei studente om 'n professionele verpleegkundige en verloskundige te word. Deur middel van leerervarings op kampus, met gemeenskappe en in verskeie gesondheidsorginrigtings, sal studente die gedragswyses, vaardighede en bevoegdhede ontwikkel wat hulle nodig het om leiers te word wat waarde heg aan diversiteit en wat deeglike oorweging en innovasie na hul versorgingspraktyk in die verpleegkunde bring. Jy sal leer om vorm te gee aan persoongesentreerde, holistiese, eietydse, bewysgebaseerde praktykvoering en hulpbronsensitiewe versorgingspraktyk om sodoende die gesondheidsorg en welstand van individue, groepe en gemeenskappe te ondersteun. Verpleegkundige versorgingspraktyk wissel vanaf noodsaaklike sorgaktiwiteite wat op die oog af eenvoudig lyk tot komplekse, soms hoogs tegniese, versorgingsaktiwiteite – wat ook al nodig is om mense te ondersteun sodat hulle in hulle selfversorgingsbehoeftes kan voorsien, gesond kan bly of word, en welstand kan ervaar. Verpleegkundiges werk saam met hulle gesondheidsorgkollegas oor 'n groot verskeidenheid kontekste heen om veilige, persoongesentreerde gehaltesorg te verskaf aan mense, gesinne en gemeenskappe met veelvuldige en verskillende selfversorgingsbehoeftes oor die lewensduur.

Opleiding van verpleegkundiges en verloskundiges

Opleiding van verpleegkundiges en verloskundiges Hierdie vierjarige program word op die Tygerbergkampus en sy verspreide klinieseopleidingsplatforms aangebied. Die kontekste waarin kliniese praktyk plaasvind, is baie uiteenlopend en dek die openbare gesondheidsdiensomgewings, privaat gesondheidsorgsektor, asook relevante leerervaring in skole, maatskaplike dienste, rehabilitasie-inrigtings en organisasies sonder winsbejag. Die kurrikulum dek die bestudering van die teorie en praktyk van die vakrigting verpleegkunde en verloskunde oor die vier jaar. Hierdie vakspesifieke leer word aangevul deur modules in Anatomie, Fisiologie, Biofisika en Biochemie, Psigososiale Aspekte van Sorg, Navorsingsmetodologie, Mikrobiologie en Farmakologie. Hierop volg een jaar van gemeenskapsdiens, waarna jy by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging mag registreer as 'n Professionele Verpleegkundige en Verloskundige. Vir nadere besonderhede, kyk die program se leerplan in die Jaarboek.

Loopbaangeleenthede

Daar is baie werksgeleenthede in die gesondheidsorg wanneer jy eers by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging geregistreer is. Verpleegkundiges en verloskundiges werk in die openbare- en privaat-gesondheidsorgdienste, in die gesondheidsorgdiens van nie-regeringsorganisasies, asook in ander gesondheidsverwante bedrywe en akademiese omgewings. Hierdie geleenthede behels onder meer die werk by distriksgesondheidsdienste en klinieke, in gemeenskaps- of skoolgesondheid en in hospitale, verswaktesorg, die gesondheidsorg in korrektiewe en ander inrigtings, en privaatpraktykwerk. Hierdie graad vorm die grondslag waarvandaan jy dan verder kan studeer om 'n spesialisverpleegkundige te word in studierigtings soos primêre gesondheidsorg, beroepsgesondheid, operasiesaalverpleging, noodverpleging, kritiekesorgverpleging, pediatriese en neonatale verpleging, gesondheidsorgdiensbestuur, verpleegopleiding, palliatiewe sorg, onkologie of gevorderde psigiatrie. Buiten die spesialisprogramme, bied die baccalaureusgraad ook toegang tot verdere studie soos vir 'n meesters- en doktorsgraad (PhD). Raadpleeg die nagraadse prospektus vir nadere besonderhede hieroor.

x

Afrikaans