Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

Arbeidsterapie is 'n dinamiese en opwindende beroep. Hierdie program rus jou toe met kennis en vaardighede om kliënte van alle ouderdomsgroepe met ontwikkelingsagterstande, verskillende siektetoestande en funksionele beperkings te assesseer en effektiewe intervensies daar te stel. Aktiwiteite word as behandelingsmedium gebruik. Die behandelingsprogramme word ontwerp vir aanwending in tuisomgewings en gemeenskappe om optimale deelname van die persoon of persone aan die aktiwiteite van die daaglikse lewe te verkry. Hierdie behandelingsprogramme rehabiliteer en voorkom funksionele probleme, en bevorder die algehele gesondheidstoestand van persone.

As arbeidsterapeut sal jy jou kliënte holisties benader met inagneming van die fisiese, sielkundige, sosiale en emosionele aspekte. Jy lewer insette op alle areas van hul daaglikse funksionering - wat selfsorg, werk en vryetydsbesteding insluit. Wat kinders betref is dit hulle 'werk' om te speel en daarom bestaan hulle behandelingsprogramme uit spel- en skoolverwante aktiwiteite.

Indirekte arbeidsterapiedienste sluit onder andere in raad wat jy aan onderwysers, werkgewers, gesinslede en versorgers kan gee waardeur hulle kan bydra om persone se deelname aan die aktiwiteite van die lewe te verbeter, en die bestuur van aktiwiteitsprogramme wat vir groepe persone in fasiliteite en die gemeenskap aangebied word om gesonde lewenstyle te bevorder.

Opleiding van arbeidsterapeute

Die program duur vier jaar. Die eerste jaar van die program word hoofsaaklik op Stellenbosch-kampus gevolg, en die verdere jare by die Tygerberg-kampus. Die program behels 'n studie van Arbeidsterapie (teorie en praktyk), Sielkunde, Sosiologie, Spesiale Fisika, Bedryfsielkunde, Biologie, Anatomie, Fisiologie, Patologie vir Aanvullende Gesondheidsberoepe en Navorsingsmetodologie vir Arbeidsterapie.

Na afloop van hierdie program volg 'n gemeenskapsdiensjaar, waarna jy sal kan registreer as Arbeidsterapeut by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika.

Daar is beroepsmoontlikhede vir arbeidsterapeute in hospitale, privaat praktyke, gemeenskapsklinieke, industrieë, hoofstroomskole en skole vir leerders met spesiale behoeftes, rehabilitasiesentra en spesiale eenhede (bv. spinaaleenheid), aftree-oorde en versekeringsmaatskappye.

Vir nadere besonderhede, kyk die program se leerplan in die Jaarboek. Hierdie kwalifikasie kan opgevolg word met 'n Magister in Arbeidsterapie en 'n PhD.

x

Afrikaans