Natuurwetenskappe

Die Department Fisika is daartoe verbind om opleiding van internasionale standaard aan die fisici van die toekoms te bied. Ons omvattende voorgraadse aanbod bied aan studente die vereiste stel vaardighede wat hul in staat stel om verder te studeer of die privaat sektor te betree. Die departement is navorsingsgerig en bied aan studente geleenthede om hulle loopbane te bevorder onder die studieleiding van internasionaal erkende navorsers.

empty

empty tag

Watter tipe werk sal ek kan doen met my Fisika-graad?

Dit is ’n belangrike vraag. Fisika is nie ’n beroepsgerigte opleidingsprogram soos rekeningkunde of regte, waar jy ’n rekenmeester of prokureur word nie. ’n Fisika-graad berei jou voor en lei jou op om probleme op te los, en probleemoplossers is altyd hoog in aanvraag. Ons graduandi beland in ’n groot verskeidenheid verskillende sektore wat strek van die akademie, navorsingsinstellings, finansiële maatskappye, konsultantgroepe, bankwese, inligtingstegnologie-, en natuurlik tegnologiemaatskappye. Dit hang regtig van die individu af waar hul werk. Dit is wel ’n feit dat studente wat Stellenbosch verlaat met ’n gevorde graad (honneurs, MSc, PhD) in aanvraag is beide plaaslik, sowel as internasionaal, en selde sukkel om hulle volgende werksgeleentheid te vind  hetsy dit verdere studie of ’n permanente werk behels.

Watter ekstra studente-ondersteuning is beskikbaar op voorgraadse vlak?

Dosente is altyd, ook buite klastyd, beskikbaar vir konsultasie. Jy kan deur middel van ’n e-pos ’n afspraak met ’n dosent maak. Die meeste modules het senior of nagraadse studentdemonstreerders of tutors wat betrokke is in die aanbied van tutoriale en eksperimente. Gedurende tutoriale het jy baie tyd om die dosent of tutor vir ekstra verduidelikings te vra. Ekstra tutorsessies word ook dikwels aangebied, afhangend van die spesifieke module.

Kan ek navorsing doen gedurende my voorgraadse studies in die Departement Fisika?

Daar is verskillende navorsingsinternskappe in die Departement Fisika beskikbaar. Die Nasionale Instituut vir Teoretiese Fisika bied jaarliks gewoonlik internskappe aan in die tydperke middel Junie tot middel Julie; of middel November tot middel Desember. Daar is ook ander ad hoc-geleenthede. Dit is die beste om hierdie opsies met jou dosent te bespreek.

Moet ek ’n rekenaar hê?

’n Rekenaar van jou eie is nie ’n vereiste nie, alhoewel dit jou lewe baie makliker sal maak. Alle student aan die Universiteit Stellenbosch verkry toegang tot die Universiteit se netwerk, tesame met ’n universiteits-e-posadres wat as hoofkommunikasiekanaal dien tussen dosente en studente buite klastyd. Alle studente het ook toegang tot rekenaargebruiksareas waar rekenaargebaseerde werkstukke voltooi kan word.

Moet ek vooraf kennis hê van programmering, rekenaarvaardig wees?

As deel van die Fisika-graadprogram sal jy al die rekenaarprogrammeringsvaardighede geleer word wat jy benodig. Natuurlik sal basiese rekenaargeletterdheid en bietjie kennis van rekenaarprogrammering in jou guns tel, maar dit is nie ’n voorvereiste nie.

Wat is die toelatingsvereistes vir ’n BSc in Fisika graadprogram?

Vir besonderhede oor die nuutste toelatingsvereistes, raadpleeg asseblief die Universiteit se webwerf: http://www.sun.ac.za/english/maties/Documents/Science.pdf

Hoe groot is ’n tipiese Fisika eerstejaarsklas?

Die Fisika 114 eerstejaarklas bestaan gewoonlik uit 200 studente, waarvan omtrent 40 geregistreer is vir ’n Fisika-graad. Die res moet Fisika neem as deel van die vereistes vir hulle spesifieke BSc program.

Wat is die navorsingsareas van die Departement Fisika?

Die hoofareas van navorsing is Kernfisika, Laserfisika, Stralings- en Gesondheidsfisika, en Teoretiese Fisika. Elke navorser in die departement het sy of haar eie navorsingsbelangstellings. Meer inligting hieroor is op die departement se webblad.

http://www.sun.ac.za/english/faculty/science/physics

Afrikaans