AgriWetenskappe
Grond is 'n medium vir plantgroei, 'n habitat vir verskillende spesies, 'n filtrasiestelsel vir oppervlakwater en die instandhouding van atmosferiese gasse. Kortliks: grond is 'n uiters belangrike natuurlike hulpbron. Die Departement Grondkunde fokus op die belangrikheid van gronde as 'n baie stadig hernubare en noodsaaklike natuurlike hulpbron. Dit behels die studie van die eienskappe en prosesse wat in gronde voorkom, sowel as die volhoubare gebruik en bestuur van gronde. Dit is 'n onontbeerlike studieveld vir volhoubare voedselproduksie.
Gespesialiseerde velde in Grondkunde is (a) Pedologie, wat die studie van die oorsprong, vorming, klassifikasie en kartering van grond insluit, (b) Grondfisika, wat die fisiese eienskappe behels, soos waterretensie en -beweging, waterbestuur en besproeiing, sowel as bewerkings- en verbouingspraktyke, (c) Grondchemie, wat die chemiese eienskappe van grond bestudeer, insluitend plantvoeding, bemesting en rehabilitasie, en (d) Grondbiologie, wat handel oor die lewende organismes in grond en hoe hulle met mekaar, plante, fisiese en chemiese eienskappe, interaksie het.
empty
empty tag
Sal ek slegs Grondkunde as ‘n hoofvak hê indien ek vir ‘n graad in Grondkunde registreer?
Nee, as deel van die Plant- en Grondwetenskappe program het jy altyd twee hoofvakke. Saam met Grondkunde kan jy kies vanuit Agronomie; Chemie; Hortologie; of Wingerdwetenskappe as twede hoofvak.
Wat is die toelatingsvereistes (skoolvakke en relevante punte) om te registreer vir ‘n graad in Grondkunde?
Die minimum toelatingsvereistes vir die BScAgric program in Plant en Grondwetenskappe is:
Met Agronomie, Hortologie of Wingerdwetenskappe as tweede hoofvak:
- ‘n Gemiddelde persentasie van 60% in die NSS of die IEB skooleindsertifikaat (Lewensoriëntering uitgesluit), of ander skoolkwalifikasie;
- Afrikaans of Engelse (Huistaal of Eerste Addisionele Taal) – 4 (50%);
- Wiskunde – 5 (60%); en
- Fisiese Wetenskappe (Fisika en Chemie) – 4 (50%).
Met Chemie as tweede hoofvak:
- ‘n Gemiddelde persentasie van 60% in die NSS of die IEB skooleindsertifikaat (Lewensoriëntering uitgesluit), of ander skoolkwalifikasie;
- Afrikaans of Engelse (Huistaal of Eerste Addisionele Taal) – 4 (50%);
- Wiskunde – 6 (70%); en
- Fisiese Wetenskappe (Fisika en Chemie) – 4 (50%).
Let asseblief daarop dat daar net ‘n beperkte aantal plekke beskikbaar is, endeur te voldoen aan die vereistes, waarborg ongelukkig nie ‘n plek in die program nie.
Kan ek Grondkunde studeer indien ek slegs Wiskundige Geletterdheid het?
Nee, ongelukkig benodig jy suiwer Wiskunde. Met Wiskundige Geltterdheid kan jy egter oorweeg om die programme aan die Landboukollege Elsenburg, wat 10km buite Stellenbosch geleë is, te volg.
Hoeveel jaar neem dit om 'n Grondkunde graad te voltooi?
Vier (4) jaar.
Is daar goeie werksgeleenthede vir iemand met ‘n grad in Grondkunde?
Ja. Weens die feit dat ‘n tweede hoofvak in gewasproduksie geneem word, het ‘n kandidaat met ‘n graad in die spesifieke gewasveld, saam met Grondkunde as ‘n hoofvak, ‘n voordeel bo ander kandidate wanneer daar om werksgeleenthede aansoek gedoen word. Grondkundiges met Chemie as ‘n hoofvak is ook groot in aanvraag by chemiese- en kunsmismaatskappye.
Watter soort werksgeleenthede bestaan vir grondkundiges?
Grondkundiges vind geredelik werk, maar is nie beperk tot die volgende loopbane nie:
- Werk as plaasbestuurder of tegniese konsultant in Agronomiese-, Vrugte- of Wingerdindustrieë;
- Klassifisering, kartering en geskiktheidsassessering van gronde;
- Analisering van gronde en/of maak van kunsmis aanbevelings;
- Maak van grondvoorbereiding (bewerking) aanbevelings vir spesifieke gewas verbouing;
- Werk in die besproeiingindustrie;
- Navorser;
- Werk in grondremediëring (b.v. besoedelde- en/of mynafval gronde);
- Ontwikkeling en opleiding aan klein/bestaans boere in platteland.