Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

Hierdie program lei spraak-taalterapeute op in die relevante kennis en vaardighede vir die bestuur van persone met kommunikasieafwykings. Jy is toegerus om die volgende professionele funksies te verrig:

  • die voorkoming, identifisering, evaluering, diagnosering en behandeling van kommunikasieafwykings;
  • kliënt- en gesinsgesentreerde berading;
  • die begeleiding, onderrig en opleiding van ander kundiges of relevante lekepersone;
  • konsultasie en navorsing op die gebied van kommunikasieafwykings; en
  • die bestuur van programme voorsien deur spraak-taalterapeute aan kliënte met kommunikasieafwykings in gesondheids-, opvoedkundige en privaat kontekste.

Ten einde die bogenoemde funksies optimaal in die veeltalige Suid-Afrikaanse konteks te kan verrig, word van studente verwag om vaardigheid te ontwikkel in ten minste twee tale, asook Gebaretaal.

Opleiding van spraaktaalterapeute

Die program duur vier jaar en dek die volle omvang van spraak-, taal-, stem-, gehoor- vlotheid-, voedings- en slukafwykings wat voorkom in die veld van kommunikasiepatologie. Die gehoorterapie-inhoud sluit aspekte van oudiologiese praktyk in, soos basiese suiwertoon- en spraakoudiometrie, immittansie-oudiometrie en rehabilitasie.

By gehoorgebreke val die klem op die hantering en rehabilitasie van kinders en adolessente met kommunikasieafwykings wat veroorsaak word deur gehoorverlies. Studente ontvang opleiding in basiese Gebaretaal ter ondersteuning van rehabilitasie.

Die eerste en tweede jaar van die program word op die Stellenbosch-kampus aangebied, maar studente bestee ten minste een dag per week op die Tygerberg-kampus. Hiervoor word busvervoer deur die Afdeling Spraak-Taal en Gehoorterapie gereël. Die derde en vierde jaar van die program word op die Tygerberg-kampus aangebied. Jy voltooi jou kliniese opleiding by goedgekeurde instansies in die Wes Kaap.

Hoofvakke: Spraakheelkunde, Kliniese Spraakheelkunde, Sielkunde en Algemene Taalwetenskap.

Ander modules: Anatomie, Neuro-anatomie en Kliniese Neurologie waarvan die inhoud aangepas word volgens die behoeftes van die beroep. Xhosa of Afrikaanse Taalverwerwing (soos bepaal deur taalvaardigheidstoetse) is 'n verpligte eerstejaarsvak wat die struktuur en sisteem van die taal aan die studente bekendstel. Kliniese modules bied geleenthede vir jou om toepaslike kliniese vaardighede in spesifieke kontekste te verwerf onder die toesig van gekwalifiseerde terapeute. Kliniese opleiding vind plaas in hospitale, skole, gemeenskapsgesondheidsdienssentrums en klinieke. Daar word 'n hoë premie op kommunikasie- en interpersoonlike vaardighede geplaas. In die tweede, derde en vierde jaar word jou isiXhosa-taalvaardighede daarom verder ontwikkel sodat jy met kliënte en versorgers in kliniese omgewings kan kommunikeer.

Vir nadere besonderhede, kyk die program se leerplan in die Jaarboek. Hierdie kwalifikasie kan opgevolg word met 'n Magister in Spraak-Taalterapie en 'n PhD.

Na afloop van hierdie program volg 'n gemeenskapsdiensjaar, waarna jy sal kan registreer as Spraak-Taalterapeut by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGSA).

Daar is werksgeleenthede vir spraak-taalterapeute in die openbare, privaat en nie-regeringsektore asook in die akademie. Graduandi kan registreer by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika en werk bekom in hospitale, klinieke, skole, privaat praktyke of die akademie.

x

x

x

x

Afrikaans