Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Lees enige artikels in die media vandag, en dit sal nie lank duur voordat iemand feite en syfers aanhaal nie. Moderne tegnologie genereer groot hoeveelhede data en inligting teen ‘n vinnige koers. Die samelewing vertrou toenemend op kundige professionele persone om hierdie data en inligting te ontleed. Ons kursusse ontwikkel die vaardighede wat benodig word om hierdie data en inligting te onttrek wat sakebesluitneming versterk deur ‘n data-gedrewe benadering te gebruik.
x
x
Is dit noodsaaklik dat jy ‘n fokusarea verskaf wanneer jy vir BDatSci aansoek doen aan die hand van jou graad 11-uitslae?
Nee, solank jou eerste keuse enige van die fokusareas is, of selfs net BDatSci (sonder ‘n fokusarea). Fokusareas word eers gekies wanneer jy amptelik registreer as eerstejaarstudent aan die begin van jou studies. Dit maak ook nie saak in watter fakulteit jy aansoek doen nie. BDatSci (van enige fakulteit) as eerste keuse is voldoende om toegelaat te word.
Kan jy as ‘n deeltydse student registreer of kan die program aanlyn of via afstandsonderrig aangebied word?
Nee, hierdie program is ‘n residensiële program – met ander woorde deeltydse studie is nie moontlik nie en die bywoning van lesings en tutoriale op kampus word vereis. Daar is geen aanlyn weergawe van hierdie program nie.
Indien jy ‘n skootrekenaar wil koop, wat moet jy koop?
Dit is jou keuse of jy ‘n skootrekenaar wil koop, aangesien alle studente toegang tot die Fakulteit se rekenaarlaboratoriums het. Indien jy een wil koop, maak seker dis Windows-gebaseer. IT ondersteun nie IOS/Apple-, Linux- of MAC OSX-platforms nie.
Die minimum spesifikasies vir ‘n skootrekenaar is: 8GB Ram is die minimum vereiste vir moderne bedryfstelsels aangesien die bedryfstelsel self tussen 2 tot 4 GB gebruik; 256 GB Klas 40 Solid State Drive (SSD); Windows 10 as bedryfstelsel. Dis noodsaaklik omdat sommige akademiese sagteware nie beskikbaar is op die MAC OSX- en Linux-platforms nie en omdat daar geen amptelike IT-ondersteuning vir hierdie platforms is nie. Aangesien aanlyn onderrig, vergaderings en praktiese sessies wat intyds plaasvind en interaksie insluit, ‘n werklikheid is, is ‘n geïntegreerde webkamera noodsaaklik. Dit laat ook afstandstoesighouding gedurende assesserings toe. Indien jy tans ‘n skootrekenaar het wat nie aan hierdie spesifikasies voldoen nie, moenie dit nou vervang nie, maar oorweeg dit wanneer jy jou rekenaar later wil vervang.
Wat is die verskil tussen BDatWet en die grade BCom Wiskundige Wetenskappe en BSc Rekenaarwetenskap met fokusarea Datawetenskap?
Beide die BCom- en BSc-grade is drie jaar lank. Om vir ‘n meestersgraad in een van hierdie rigtings te registreer, sal jy eers ‘n honneursgraad moet voltooi na afloop van die aanvanklike driejaargraad. Die BCom- en BSc-grade bied nie spesifieke datawetenskapmodules aan in die program nie; die BCom is toegespits op handel en besigheid, terwyl die BSc natuurwetenskaplik georiënteerd is. By voltooiing van hierdie grade kan studente vir ‘n honneursgraad in enige van die hoofvakke in hul derde jaar registreer. Die groot voordeel van die BDatSci-graad is dat jy in ‘n baie spesifieke dataryke omgewing sal spesialiseer deur een van die gesogte fokusareas te kies. Jou navorsingsprojek in die vierde jaar is ‘n direkte toepassing van, en spesialiteitsnavorsing in, daardie spesifieke dataryke omgewing.
Kan jy te enige tyd van BCom Wiskundige Wetenskappe of BSc Rekenaarwetenskap na BDatWet verander?
Ja, afhangende van watter modules jy voltooi het. Jy sal egter steeds vanaf jaar 1 vir die Datawetenskapmodules moet registreer. Dit beteken dat jy moontlik langer as 4 jaar sal moet studeer om die graad te voltooi. Fokusareas vereis ook spesifieke modules; jy kan nie modules bestudeer wat nie deur die spesifieke fokusarea gespesifiseer word nie. In die BDatWet-graad is die fokusarea-modules verpligtend vanaf die 2de jaar en verder en jy moet vir hulle almal registreer. Indien jy na BDatWet wil oorslaan, doen by prof PJ Mostert (pjmos@sun.ac.za ) aansoek en sluit ‘n motiveringsbrief in. Jou aansoek sal deur die BDatWet-programkomitee oorweeg word. Geen student sal toegelaat word om vir BDatWet in te skryf sonder vooraf goedkeuring nie.
Kan jy van fokusarea verander binne die BDatWet-program?
Ja, op voorwaarde dat jy steeds die vereiste modules van die spesifieke fokusarea neem. Dit kan in sekere gevalle beteken dat jy moontlik meer as 4 jaar moet studeer om die verpligte modules vir ‘n spesifieke fokusarea te voltooi. Die modules van ‘n fokusarea kan nie deur modules in ander graadprogramme vervang word nie.
Kan jy van BCom Akatuariële Wetenskap na BDatWet oorslaan?
Indien jy met BCom Aktuariële Wetenskap begin het, is die maklikste oorskakeling na BDatSci aan die einde van semester 1 van jou eerste jaar. Ná die eerste 6 maande word (die verpligte BDatSci-module) Datawetenskap 141 aangebied en daarna volg die res van die eerstejaarsmodules van BDatSci. Die verandering na BDatSci sal amptelik wees aan die einde van jaar 1. Hoe langer jy wag, hoe meer BDatSci-modules moet jy inhaal. Indien jy byvoorbeeld aan die einde van jaar 1 na BDatSci oorskakel sonder dat jy ingeskryf was vir Datawetenskap 141 en dit geslaag het, beteken dit dat daar ‘n ekstra jaar by jou studies gevoeg word aangesien Datawetenskap 141 ‘n voorvereiste is vir Datawetenskap 241. (Die twee modules kan nie gelyktydig geneem word nie.) BCom Aktuariële Wetenskap en BDatSci verskil baie ondanks die feit dat hulle dieselfde minimum toelatingsvereistes het. Raadpleeg altyd die Fakulteit se jaarboek om te kyk watter modules vir watter spesifieke graadprogramme vereis word. Om jou program na BDatSci te verander, moet jy goedkeuring van die BDatSci-programkomitee verkry deur ‘n e-pos aan pjmos@sun.ac.za te stuur.
Kan jy jou program van BDatSci na BCom/BSc verander ná jaar 1 of 2?
Jy kan, op voorwaarde dat jy vir die vereiste modules van die betrokke grade ingeskryf is. Beide BCom en BSc vereis spesifieke modules as verpligte en gekose modules.
Wat is die verskil tussen BDatSci en die fokusarea Data-ingenieurswese wat deel uitmaak van BIng Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese?
Rekenaarwetenskap, Wiskundige Statistiek en Wiskunde is modules wat deur studente in beide BDatSci en BIng Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese geneem kan word. Van ingenieurstudente sal verwag word om meer verpligte modules in ingenieurswese te neem, wat sal lei tot ‘n ingenieurskwalifikasie ná 4 jaar. BDatSci sal jou nie net van ‘n kwalifikasie in Datawetenskap voorsien nie, maar jou ook die geleentheid bied om in een van die mees gesogte fokusareas van Datawetenskap te spesialiseer.
Wat is die werksvooruitsigte?
Volgens die Harvard Review is die volgende waar: Data Scientist: The sexiest job of the 21st century. Volg hierdie skakel en lees meer oor die behoefte aan datawetenskaplikes: https://hbr.org/2012/10/data-scientist-the-sexiest-job-of-the-21st-century.