Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

Lees enige artikels in die media vandag, en dit sal nie lank duur voordat iemand feite en syfers aanhaal nie. Moderne tegnologie genereer groot hoeveelhede data en inligting teen ‘n vinnige koers. Die samelewing vertrou toenemend op kundige professionele persone om hierdie data en inligting te ontleed. Ons kursusse ontwikkel die vaardighede wat benodig word om hierdie data en inligting te onttrek wat sakebesluitneming versterk deur ‘n data-gedrewe benadering te gebruik.

x

What Stellenbosch University degree should I choose if I want to become an actuary?

A 3-year BCom (Actuarial Science) degree.

Thereafter, an optional 1-year BComHons (Actuarial Science) degree.

Additionally, you might even wish to study further towards a Postgraduate Diploma or Masters degree in Actuarial Science.

These degrees allow you to earn exemptions (question 6 explains this term) from some of the examinations of the Actuarial Society of South Africa.

Ek is baie goed in wiskunde. Is Aktuariële Wetenskap die regte graad vir my?

'n Mens benodig beslis baie goeie wiskundige vaardighede vir hierdie graad. (Die meeste aktuariële studente het meer as 90% vir wiskunde in graad 12 behaal). Die aktuariële kwalifikasie is egter nie 'n suiwer wiskundige graad nie; dit is gemik op die toepassing van wiskundige en statistiese vaardighede om besigheidsprobleme op te los en die uitkoms met belanghebbers te kommunikeer. 'n Sterk belangstelling in besigheid en die vermoë om duidelik te kommunikeer, is dus ook belangrik.

Ek is onseker of ek BCom (Aktuariële Wetenskap) of BRek moet studeer?

Albei grade is daarop gemik om uiteindelik tot professionele kwalifikasies te lei.

Die twee beroepe ontwikkel egter verskillende vaardighede en die aard van aktuarisse se werk sal tipies heelwat verskil van dié van rekenmeesters en ouditeure. Die beroep wat jou die beste sal pas, hang van jou eie voorkeur en vermoëns af.

Die aktuariële kurrikulum fokus baie sterker op die vakgebiede wiskunde en statistiek (en hul toepassing in besigheidsomgewings); dus is aktuarisse ideaal geposisioneer om risiko en onsekerheid te kwantifiseer en te bestuur. Aktuarisse is geneig om betrokke te wees wanneer daar antwoorde gesoek word op vrae oor die toekoms.

Vir inligting oor die BRek-graad, besoek gerus die blog van die Skool vir Rekeningkunde.

Kan ek na 'n ander graad oorslaan as ek later besluit BCom (Aktuariële Wetenskap) is nie vir my nie?

Ja, dis altyd moontlik om na 'n ander graad oor te slaan.

Indien jy na 'n graad in die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap oorskakel, is dit selfs moontlik om 'n BCom-graad in die minimum tydsduur van drie jaar te behaal (veral as jy in jou eerste twee jaar oorslaan).

Indien jy egter na 'n graad buite die Departement oorslaan, kan dit 'n bykomende studiejaar behels. Dit moet jou egter nie ontmoedig om van studieveld te verander nie – aktuariële wetenskap is nie die regte pasmaat vir almal nie.

Sommige studente slaan ook na 'n ander studieveld oor (bv. na Wiskundige Statistiek) nadat hulle hul BCom (Aktuariële Wetenskap)-graad voltooi het.

Is ek 'n gekwalifiseerde aktuaris wanneer ek die graad BCom (Aktuariële Wetenskap) ontvang?

Nee, om 'n gekwalifiseerde aktuaris te word, moet jy eers die eksamens van die Actuarial Society of South Africa slaag. Volledige besonderhede oor die vereistes is op die webtuiste van die Actuarial Society of South Africa beskikbaar by https://www.actuarialsociety.org.za/student-zone/

Die grade BCom (Aktuariële Wetenskap) en HonsBCom (Aktuariële Wetenskap) kan die proses bespoedig om hierdie eksamens te slaag indien jy bevredigend in dié grade presteer en vrystelling ontvang vir sommige van die eksamens van die Actuarial Society of South Africa.

Wat is vrystelling?

Om as 'n aktuaris te kwalifiseer, moet 'n mens al die vakke slaag wat deur die Actuarial Society of South Africa gespesifiseer word. Die grade BCom (Aktuariële Wetenskap) en HonsBCom (Aktuariële Wetenskap) sluit modules in wat die inhoud van sommige van die vakke van die Actuarial Society of South Africa dek. Indien jy voldoende presteer in hierdie graadmodules, is dit asof jy sommige van die Actuarial Society of South Africa se eksamens geslaag het en dan sal dit nie nodig wees om dié eksamens deur die Actuarial Society of South Africa af te lê nie.

Ons voorgraadse brosjure bevat meer besonderhede oor die verskillende vakke van die Actuarial Society of South Africa en die vrystellings wat by die Universiteit Stellenbosch beskikbaar is.

Hoeveel vrystellings kan ek deur my studie aan die Universiteit Stellenbosch ontvang?

BCom (Aktuariële Wetenskap)-graad: 'n maksimum van 8 vrystellings. HonsBCom (Aktuariële Wetenskap)-graad: 'n maksimum van 2 vrystellings. Nagraadse Diploma/Meestersgraad (Aktuariële Wetenskap): 'n maksimum van 2 vrystellings.

Dit is die maksimum getal vrystellings vir die eksamens van die Actuarial Society of South Africa wat by enige universiteit beskikbaar is. examinations available through any university.

Wat is die verskil tussen die BBusSc-graad van die Universiteit van Kaapstad (UCT) en die grade BCom (Aktuariële Wetenskap) & HonsBCom (Aktuariële Wetenskap) van die Universiteit Stellenbosch?

Daar is nie 'n werklike verskil om jou te help om as aktuaris te kwalifiseer nie, want albei programme sluit modules in wat ná 4 jaar tot vrystelling van dieselfde vakke van die Actuarial Society of South Africa kan lei.

Die BBusSc-graad is 'n vier jaar lange baccalaureusgraad. Die BCom-graad aan die Universiteit Stellenbosch is drie jaar lank, waarna die (opsionele) een jaar lange honneursgraad voltooi kan word. Albei die universiteite se Aktuariële Wetenskap-programme word in 'n ekonomiese en bestuurswetenskapfakulteit aangebied (anders as sommige ander universiteite wat dit in 'n natuurwetenskapfakulteit aanbied). Dit bevestig die feit dat die kwalifikasie 'n besigheidsfokus het.

Daar is 'n aantal verskille in die ander vakke (d.i. vakke wat niks te doen het met vrywaring nie) wat by die twee grade ingesluit is. Die belangrikste verskil tussen die twee programme tree in die 4de jaar na vore: die Universiteit Stellenbosch het 'n groter fokus op Wiskundige Statistiek en Datawetenskap, terwyl die Universiteit van Kaapstad die besigheidskomponent beklemtoon.

Hoe besluit ek by watter universiteit om Aktuariële Wetenskap te studeer?

Dit is belangrik om die getal vrystellings wat deur 'n universiteit aangebied word, asook die ondervinding van die akademiese personeel in die aktuariële wetenskapspan in ag te neem. Ook relevant is die getal aktuarisse wat permanent in diens is van die departement.

Die Universiteit Stellenbosch vaar uitstekend op al hierdie gebiede. Ons bied nie net die maksimum vrystellings nie, maar die agt aktuarisse op ons permanente personeel bied dekades se universiteitsondervinding asook aansienlike praktiese ervaring van die bedryf.

Hoeveel jaar moet ek studeer nadat ek die grade BCom (Aktuariële Wetenskap) en HonsBCom (Aktuariële Wetenskap) behaal het om as aktuaris te kwalifiseer?

Dit sal afhang van hoeveel vrystellings jy gedurende jou universiteitstudie verkry, sowel as hoe goed jy daarna met jou deeltydse studie vaar terwyl jy werk. Let daarop dat die slaagsyfer van die latere eksamens van die Actuarial Society of South Africa oor die algemeen laag is ('n slaagsyfer van rondom 30% is algemeen).

Alle uitstaande vakke (d.i. daardie vakke waarvoor vrystelling nie verkry is nie) moet geslaag word deur die toepaslike eksamens af te lê of die betrokke kursusse van die Actuarial Society of South Africa by te woon. Dié vereniging bied twee eksamengeleenthede per jaar (een per semester).

Nadat jy die honneursgraad behaal het, sal dit minstens nog drie jaar neem om as aktuaris te kwalifiseer. Dit neem egter dikwels langer as drie jaar.

Watter werksgeleenthede is beskikbaar nadat ek gegradueer het?

Daar is baie werksgeleenthede vir gegradueerdes met aktuariële vaardighede. Aktuarisse (en onlangse aktuariële graduandi) werk gewoonlik in bedryfsvelde soos lewensversekering, algemene versekering, mediese skemas, beleggings- en bankwese.

Baie nie-tradisionele bedrywe neem ook nou aktuariële kandidate in diens danksy hul vaardighede in risiko- en finansiële modellering.

Kan ek oorsee werk met my kwalifikasie van die Actuarial Society of South Africa?

Die Actuarial Society of South Africa beskik oor verskeie wedersydse erkenningsooreenkomste met ander aktuariële instansies regoor die wêreld.

Hierdie wedersydse ooreenkomste erken die kwalifikasies se ekwivalensie en fasiliteer lidmaatskap van verenigings in ander lande met die ooreenstemmende professionele status. Lidmaatskap kan aan sekere voorwaardes onderhewig wees, bv. om eksamens oor die regulatoriese omgewing in die betrokke land te slaag.

Die lys sluit internasionale aktuariële liggame in lande soos die Verenigde Koninkryk, Ierland, Nederland, Duitsland, Australië, Kanada en die Verenigde State van Amerika in. Volledige besonderhede is op die webtuiste van die Actuarial Society of South Africa beskikbaar by (https://www.actuarialsociety.org.za/)

x

Is dit noodsaaklik dat jy ‘n fokusarea verskaf wanneer jy vir BDatSci aansoek doen aan die hand van jou graad 11-uitslae?

Nee, solank jou eerste keuse enige van die fokusareas is, of selfs net BDatSci (sonder ‘n fokusarea). Fokusareas word eers gekies wanneer jy amptelik registreer as eerstejaarstudent aan die begin van jou studies. Dit maak ook nie saak in watter fakulteit jy aansoek doen nie. BDatSci (van enige fakulteit) as eerste keuse is voldoende om toegelaat te word.

Kan jy as ‘n deeltydse student registreer of kan die program aanlyn of via afstandsonderrig aangebied word?

Nee, hierdie program is ‘n residensiële program – met ander woorde deeltydse studie is nie moontlik nie en die bywoning van lesings en tutoriale op kampus word vereis. Daar is geen aanlyn weergawe van hierdie program nie.

Indien jy ‘n skootrekenaar wil koop, wat moet jy koop?

Dit is jou keuse of jy ‘n skootrekenaar wil koop, aangesien alle studente toegang tot die Fakulteit se rekenaarlaboratoriums het. Indien jy een wil koop, maak seker dis Windows-gebaseer. IT ondersteun nie IOS/Apple-, Linux- of MAC OSX-platforms nie.
Die minimum spesifikasies vir ‘n skootrekenaar is: 8GB Ram is die minimum vereiste vir moderne bedryfstelsels aangesien die bedryfstelsel self tussen 2 tot 4 GB gebruik; 256 GB Klas 40 Solid State Drive (SSD); Windows 10 as bedryfstelsel. Dis noodsaaklik omdat sommige akademiese sagteware nie beskikbaar is op die MAC OSX- en Linux-platforms nie en omdat daar geen amptelike IT-ondersteuning vir hierdie platforms is nie. Aangesien aanlyn onderrig, vergaderings en praktiese sessies wat intyds plaasvind en interaksie insluit, ‘n werklikheid is, is ‘n geïntegreerde webkamera noodsaaklik. Dit laat ook afstandstoesighouding gedurende assesserings toe. Indien jy tans ‘n skootrekenaar het wat nie aan hierdie spesifikasies voldoen nie, moenie dit nou vervang nie, maar oorweeg dit wanneer jy jou rekenaar later wil vervang.

Wat is die verskil tussen BDatWet en die grade BCom Wiskundige Wetenskappe en BSc Rekenaarwetenskap met fokusarea Datawetenskap?

Beide die BCom- en BSc-grade is drie jaar lank. Om vir ‘n meestersgraad in een van hierdie rigtings te registreer, sal jy eers ‘n honneursgraad moet voltooi na afloop van die aanvanklike driejaargraad. Die BCom- en BSc-grade bied nie spesifieke datawetenskapmodules aan in die program nie; die BCom is toegespits op handel en besigheid, terwyl die BSc natuurwetenskaplik georiënteerd is. By voltooiing van hierdie grade kan studente vir ‘n honneursgraad in enige van die hoofvakke in hul derde jaar registreer. Die groot voordeel van die BDatSci-graad is dat jy in ‘n baie spesifieke dataryke omgewing sal spesialiseer deur een van die gesogte fokusareas te kies. Jou navorsingsprojek in die vierde jaar is ‘n direkte toepassing van, en spesialiteitsnavorsing in, daardie spesifieke dataryke omgewing.

Kan jy te enige tyd van BCom Wiskundige Wetenskappe of BSc Rekenaarwetenskap na BDatWet verander?

Ja, afhangende van watter modules jy voltooi het. Jy sal egter steeds vanaf jaar 1 vir die Datawetenskapmodules moet registreer. Dit beteken dat jy moontlik langer as 4 jaar sal moet studeer om die graad te voltooi. Fokusareas vereis ook spesifieke modules; jy kan nie modules bestudeer wat nie deur die spesifieke fokusarea gespesifiseer word nie. In die BDatWet-graad is die fokusarea-modules verpligtend vanaf die 2de jaar en verder en jy moet vir hulle almal registreer. Indien jy na BDatWet wil oorslaan, doen by prof PJ Mostert (pjmos@sun.ac.za ) aansoek en sluit ‘n motiveringsbrief in. Jou aansoek sal deur die BDatWet-programkomitee oorweeg word. Geen student sal toegelaat word om vir BDatWet in te skryf sonder vooraf goedkeuring nie.

Kan jy van fokusarea verander binne die BDatWet-program?

Ja, op voorwaarde dat jy steeds die vereiste modules van die spesifieke fokusarea neem. Dit kan in sekere gevalle beteken dat jy moontlik meer as 4 jaar moet studeer om die verpligte modules vir ‘n spesifieke fokusarea te voltooi. Die modules van ‘n fokusarea kan nie deur modules in ander graadprogramme vervang word nie.

Kan jy van BCom Akatuariële Wetenskap na BDatWet oorslaan?

Indien jy met BCom Aktuariële Wetenskap begin het, is die maklikste oorskakeling na BDatSci aan die einde van semester 1 van jou eerste jaar. Ná die eerste 6 maande word (die verpligte BDatSci-module) Datawetenskap 141 aangebied en daarna volg die res van die eerstejaarsmodules van BDatSci. Die verandering na BDatSci sal amptelik wees aan die einde van jaar 1. Hoe langer jy wag, hoe meer BDatSci-modules moet jy inhaal. Indien jy byvoorbeeld aan die einde van jaar 1 na BDatSci oorskakel sonder dat jy ingeskryf was vir Datawetenskap 141 en dit geslaag het, beteken dit dat daar ‘n ekstra jaar by jou studies gevoeg word aangesien Datawetenskap 141 ‘n voorvereiste is vir Datawetenskap 241. (Die twee modules kan nie gelyktydig geneem word nie.) BCom Aktuariële Wetenskap en BDatSci verskil baie ondanks die feit dat hulle dieselfde minimum toelatingsvereistes het. Raadpleeg altyd die Fakulteit se jaarboek om te kyk watter modules vir watter spesifieke graadprogramme vereis word. Om jou program na BDatSci te verander, moet jy goedkeuring van die BDatSci-programkomitee verkry deur ‘n e-pos aan pjmos@sun.ac.za te stuur.

Kan jy jou program van BDatSci na BCom/BSc verander ná jaar 1 of 2?

Jy kan, op voorwaarde dat jy vir die vereiste modules van die betrokke grade ingeskryf is. Beide BCom en BSc vereis spesifieke modules as verpligte en gekose modules.

Wat is die verskil tussen BDatSci en die fokusarea Data-ingenieurswese wat deel uitmaak van BIng Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese?

Rekenaarwetenskap, Wiskundige Statistiek en Wiskunde is modules wat deur studente in beide BDatSci en BIng Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese geneem kan word. Van ingenieurstudente sal verwag word om meer verpligte modules in ingenieurswese te neem, wat sal lei tot ‘n ingenieurskwalifikasie ná 4 jaar. BDatSci sal jou nie net van ‘n kwalifikasie in Datawetenskap voorsien nie, maar jou ook die geleentheid bied om in een van die mees gesogte fokusareas van Datawetenskap te spesialiseer.

Wat is die werksvooruitsigte?

Volgens die Harvard Review is die volgende waar: Data Scientist: The sexiest job of the 21st century. Volg hierdie skakel en lees meer oor die behoefte aan datawetenskaplikes: https://hbr.org/2012/10/data-scientist-the-sexiest-job-of-the-21st-century.

Afrikaans