Die Rektor se verwelkoming:
Prof Deresh Ramjugernath
Welkom, toekomstige Maties!
Met Opedag gee jy jou eerste tree in die wêreld van die Universiteit Stellenbosch (US). Hierdie werf is ontwerp om jou te help verken wie ons is, wat ons aanbied en hoe jou toekoms hier kan lyk. Gebruik jou tyd, bekyk die verskillende bladsye en beleef ons kampusse deur die virtuele toere te doen.
Dis ’n groot ding om te moet besluit wat jy na skool gaan studeer; dis normaal om onseker te voel. Hier gee ons jou die inligting wat jy nodig het om jou gedagtes te laat koers kry, jou vrae te beantwoord en hopelik ’n vonkie opgewondenheid aan te steek oor wat voorlê.
Die US se kwalifikasies word wêreldwyd erken en verbind jou met ’n sterk netwerk afgestudeerdes, professionele persone en denkleiers. Maar akademie is nie al waaroor dit gaan nie. Jou tyd hier behels ook dat jy groei as persoon, jou plek vind, en vriendskappe en ervarings opbou wat jou sal bybly lank nadat jy jou graad behaal het.
forward together,
sonke siya phambili,
saam vorentoe
As een van die topuniversiteite ter wêreld is die US verbind tot uitnemendheid met impak, die bevordering van kennis, die omarming van innovasie en ’n betekenisvolle bydrae tot die samelewing. Ons is trots op ons diverse en inklusiewe gemeenskap, en op ons vennootskappe oor Afrika en die wêreld heen.
Ons hoop hierdie Opedag gee jou ’n idee van wat dit beteken om ’n Matie te wees. Ons sien daarna uit om met jou kontak te maak en jou sommer binnekort op ons kampus te verwelkom.
Prof Deresh Ramjugernath
Rektor en Visekanselier