‘n Man van Beginsel: Die lewe en nalatenskap van JC de Wet

Die lewe en werk van JC de Wet, wat deur baie beskou word as een van die grootste Suid-Afrikaanse juriste, word herdenk in ‘n nuwe publikasie, ‘n Man van Beginsel: Die lewe en nalatenskap van JC de Wet. Hierdie boek is op Donderdag, 19 September 2013 bekendgestel tydens ‘n geleentheid aangebied deur Juta en die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Regsgeleerdheid.

Die boek, saamgestel by die honderjarige herdenking van De Wet se geboorte, bevat ‘n versameling essays deur vooraanstaande lede van die regbank en die voorste plaaslike en internasionale regsgeleerdes. Dit het ten doel om nuwe perspektiewe te bied op De Wet se lewe en nalatenskap. Die bydraes raak aan kwessies wat van fundamentele belang is in teorie en praktyk, veral hoe die kontoere van die belangrikste aspekte van die moderne Suid-Afrikaanse kontraktereg, strafreg en verjaringsreg gevorm is, en veral die rol wat De Wet in hierdie ontwikkelinge gespeel het. Die bydraes is in Engels en Afrikaans.

In die inleiding tot die werk wys Jeremy Gauntlett SC daarop dat Johannes Christiaan de Wet “wat sowel vereer as gekritiseer is in sy leeftyd, tot op datum sonder twyfel die mees invloedryke dosent en skrywer in Suid-Afrika se regsgeskiedenis is”.

“Ek mag verkeerd wees, maar ek sou graag wou glo dat hierdie versameling van essays onthul dat, wat ook al mag gebeur met die reputasie van De Wet as ‘n persoon, sy idees verweef is in die struktuur van ons reg. Hierdie idees sal voortgaan om toekomstige geslagte te beïnvloed – op dieselfde manier as die idees van die ou skrywers, wat hy so goed geken het, dikwels stilweg voortgaan om ons tot vandag nog te beïnvloed,” het prof Jacques du Plessis, wat die bundel saam met prof Gerhard Lubbe gekonsepsualiseer het, gesê.

Prof Andreas van Wyk, wat in die boek beskryf word as De Wet se enigste oorlewende kollega aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê die boek het hom op ‘n wonderlike reis geneem in die geskiedenis van die fakulteit, dorp en sy eie herinneringe.

Hy beskryf De Wet as ‘n veelkantige persoon wie se eerste liefde kontraktereg was, en wie se bydrae tot die gebied van die verjaringsreg die toets van tyd deurstaan het. Hy het kortliks stilgestaan by De Wet se “tweede liefde”, kriminele reg, wat getaan het na die dood van sy kollega prof Hennie Swanepoel, asook sy belangstelling in die waterwet. Van Wyk het die vraag gestel of De Wet se sterk bewoorde skryfstyl sy invloed beperk het. Maar, meen hy, deur sy eweknieë en studente “wat van sy grootste profete geword het”, het sy invloed wyd gestrek.

In sy bedankings het prof Gerhard Lubbe, voormalige Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, gesê dat De Wet ‘n groot bydrae tot die ontwikkeling van ‘n Afrikaanse woordeskat vir kontraktereg gelewer het. “Die vraag of dit sal in staat wees om nuwe argumente van ons tyd te dra sal mettertyd beantwoord word. Ek glo hulle kan, maar dit sal werk aan ons kant vereis.”

Prof Andreas van Wyk , Prof Jacques du Plessis , Me Linda van de Vijver van Juta , Prof Gerhard Lubbe, Prof Sonia Human, Dekaan van die Fakulteit Regte, en Mnr Edmund Beerwinkel, bestuurder van Juta Law by die bekendstelling van die boek, ‘n Man van Beginsel: Die lewe en nalatenskap van JC de Wet.

Sorry, comments are closed for this post.