Kampuservaring

Die Universiteit Stellenbosch het vyf kampusse wat oor die Wes-Kaap versprei is. Elke kampus bied toegang tot leer-, onderrig-, navorsings- en leefomgewings van wêreldgehalte.

Ons kampusse

Stellenbosch-hoofkampus

Die oudste en grootste US-kampus is 50 km vanaf Kaapstad in die geskiedkundige Stellenbosch geleë, met sy lanings eikebome langs die strate. Die hoofkampus huisves onder meer die administratiewe kern, agt van die tien akademiese fakulteite, twee konsertsale, 30 studentekoshuise, die Botaniese Tuin en die Danie Craven-sportstadion.

Tygerbergkampus

Hierdie kampus is die tuiste van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en sluit ook die Tygerberg akademiese hospitaal in. Dit is sowat 20 km vanaf Kaapstad se middestad – in Bellville, in die Kaapse noordelike voorstede. Afgesien van die hospitaal, beskik die kampus ook oor ’n kliniese gebou, laboratoriums, ’n mediese biblioteek, vaardigheidslaboratorium en vyf koshuise.

Bellvilleparkkampus

Dit is die tuiste van die Universiteit se Bestuurskool en is in Tygervallei, halfpad tussen Stellenbosch en die Kaapse middestad, geleë. Die kampus – aan die bopunt van ’n koppie geleë, met ’n indrukwekkende uitsig – is ook die tuiste van die Universiteit se Deeltydse Studie-afdeling en Kleinsake-akademie, wat sake-opleiding aan klein ondernemings bied.

Worcester-kampus, Ukwanda Landelike Kliniese Skool

Die nuutste en kleinste van die vyf kampusse, Ukwanda Landelike Kliniese Skool, is geopen om mediese en gesondheidsorgstudente aan die omstandighede en uitdagings van gesondheidsorg in die landelike gebiede van Suid-Afrika bloot te stel. Dié kampus, wat ongeveer 80 km van Stellenbosch geleë is, is in 2012 voltooi en is reg langs die Worcester-streekhospitaal en ’n spesialistuberkulose-fasiliteit.

Saldanha-kampus

Saldanha,wat sowat 150 km van Kaapstad en 170 km van Stellenbosch langs die Weskus geleë is, is die verste van die US se vyf kampusse. Dit is die tuiste van die Fakulteit Krygskunde, wat weer op sy beurt deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse Militêre Akademie, en oor ultra-moderne onderriglokale en verblyf vir toekomstige militêre leiers beskik.

Afrikaans