Ingenieurswese

Die Departement Siviele Ingenieurswese het sedert sy totstandkoming in 1944 siviele ingenieurs van wêreld gehalte gelewer wat n beduidender rol in die ontwikkeling van ons land op vele terreine speel, maar wat ook internasionaal in groot aanvraag is. Opleiding word in die veld van water, strukture, plaveisels, geotegniek, vervoer, konstruksie en kusingenieurswese aangebied.

x
Waar kry siviele ingenieurs werk en wat doen hulle nou eintlik?

ʼn Siviele ingenieur kan aangestel word as:
ʼn Eienaar:
Jy besit die siviele-ingenieursfasiliteit en/of is verantwoordelik vir die bestuur en instandhouding daarvan. Dit sluit in infrastruktuur (dienste soos, water, riool, paaie, brue..) bestuur deur munisipaliteite; die provinsiale regering; nasionale departemente, soos die Departemente van Water en Sanitasie, en Openbare Werke en Infrastruktuur; agentskappe soos die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap; hawebestuur; en Transnet. Jy kan ook ʼn eiendoms ontwikkelaar wees wat verantwoordelik is vir die ontwikkeling van onder andere kantore, hotelle en huise.
ʼn Konsultant:
Jy is verantwoordelik vir die konseptualisering en ontwerp (voorbereiding van tekeninge en spesifikasies) van ʼn projek om in die behoeftes van ʼn groot verskeidenheid kliënte te voorsien. Dit kan ontwerp en rekenaarmodellering van geboue, aardbewings, riviere, damme, stormwaterstelsels, konstruksievordering, hawens, spoorweë, vervoerstelsels en nog baie meer behels. Tegnologie is die sleutel tot die bevordering van ons beroep.
ʼn Kontrakteur:
Jy is die party wat vir die uitvoering van die projek verantwoordelik is. Dit kan wissel van klein konstruksieprojekte tot multi-miljard rand/dollar projekte, soos die Guatrain en Lesotho Hoogland waterprojekte.
Die siviele ingenieur werk altyd as deel van ʼn span, wat verteenwoordigers van bostaande partye asook van talle ander dissiplines, insluitende argitekte, bourekenaars, omgewingskundiges en geoloë, insluit. Na gelang van die party waarvoor jy werk, sal jy in ʼn meerdere of mindere mate betrokke wees by uitvoerbaarheidstudies, instandhouding, berekeninge en die bestuur van mense en prosesse, maar jy sal altyd logiese denk- en probleemoplossingsvaardighede benodig. ʼn Sterk agtergrond in wiskunde is noodsaaklik, maar die professie vereis ook die vermoë om met ander mense saam te werk en mense te bestuur.
Na gelang van die grootte van projekte sal ʼn ingenieur dikwels tegelykertyd by verskeie projekte betrokke wees, veral as jy as ʼn eienaar of konsultant werk.
Dit is ook belangrik om daarop te let dat daar talle geleenthede is wat nie direk met siviele ingenieurswese verband hou nie, maar beskikbaar is danksy jou opleiding en logiese denk- en probleemoplossingsvermoëns. Hoof- uitvoerende beamptes van groot finansiële instellings en topamptenare in die versekeringsbedryf is dikwels ook siviele ingenieurs.

Is daar genoeg werksgeleenthede vir siviele ingenieurs?

Werksgeleenthede vir siviele ingenieurs oor die wêreld heen is siklies van aard en hang af van die ontwikkelingstatus van die land of streek. Siviele ingenieurswese in Suid-Afrika het oor ʼn volgehoue tydperk floreer, wat begin het met die hoogs suksesvolle Gautrein en die FIFA-wêreldbeker. Alle bedrywe word tans deur ekonomiese uitdagings en COVID-19 beïnvloed, siviele ingenieurswese ingesluit, maar gegradueerde siviele ingenieurs is in groot aanvraag en ʼn tekort aan siviele ingenieurs in Suid-Afrika is nog steeds ʼn realiteit. Dit is nou ʼn opwindende tyd om vir die BIng (Siviel)-graad in te skryf, want jou loopbaan oor die volgende 30 tot 40 jaar sal deurslaggewend wees in die ontwerp en bou van miljoene huise, hernubare/volhoubare elektrisiteitsopwekkingsaanlegte, watervoorsiening, slim paaie, brûe, vervoerstelsels, ens. Dit sal als op die 4IR (4de Industriële revolusie) gegrond wees, want die Universiteit Stellenbosch is ʼn toonaangewende rolspeler in die ontwikkeling van hierdie tegnologieë, en ons het 4IR-denkleiers onder ons siviele-ingenieurspraktisyns.
Alhoewel ons hoop en vertrou dat al ons siviele ingenieurs ná graduering in Suid-Afrika sal bly, is dit ook waar dat ons graad internasionale erkenning ingevolge internasionale verdrae, soos die Washington-verdrag, geniet, wat verklaar waarom ons ingenieurs, tot verlies van ons land, hoog in aanvraag in die buiteland is.

Sal ek ʼn gebalanseerde studentelewe kan hê?

Om ʼn suksesvolle student te wees, moet jy! En dit is beslis moontlik. Dit is iets wat jy daadwerklik moet beplan, vanaf jou heel eerste kwartaal wanneer jy met die werklading vertroud begin raak. Die BIng (Siviel) ʼn uitdagende program is, maar die geheim is om konsekwent en doeltreffend te werk, eerder as onophoudelik. Studeer elke dag om te verseker dat jy nie agter raak nie, maar vind jou ritme met tyd vir sosialisering, ontspanning, sport of ander aktiwiteite uit die talle wat Stellenbosch bied.

Bied Siviele Ingenieurswese ʼn mengsel van praktiese en akademiese komponente? Is dit ʼn voordeel of ʼn nadeel ten opsigte van loopbaangeleenthede?

In die Fakulteit Ingenieurswese is Siviele Ingenieurswese waarskynlik die departement wat die meeste praktiese geleenthede vir studie en praktyk bied. Siviele Ingenieurswese sluit praktiese sessies in die vierjaar-program in, met fasette wat alle gebiede dek, naamlik strukture, water, vervoer, geotegniek en bestuur.
Die praktiese sessies sluit binnenshuise (laboratorium) en buitenshuise (ondersoeke, evaluerings en inspeksies) aktiwiteite in, met elemente van materiaaltoetsing en -ontleding, die bou van infrastruktuur-skaalmodelle, prestasie-evaluering, ens. Gedurende jou graad sal daar ook van jou verwag word om sagtewarepakkette, programmeertale en tegnologie tydens jou modules te gebruik.
Die praktiese aktiwiteite sal sonder uitsondering aan ander analitiese en digitale moontlikhede gekoppel word. Dit is veral toepaslik op die vierdejaar-navorsingsprojek. Die vermenging van praktiese, tegnologiese en teoretiese insette sal in ʼn mate deur die individuele student bepaal word.
ʼn Praktiese inslag kan ʼn grondige invloed op loopbaangeleenthede hê. Toegepaste kennis is veral op die gebied van konstruksie-ingenieurswese en -bestuur, groot projekte, beplanning, logistiek en innoverende oplossings ʼn gesogte eienskap in siviele ingenieurswese.

Ek weet die eerstejaarsvakke vir alle ingenieurstudente is hoofsaaklik dieselfde. Kan ek ná jaar 1 na ʼn ander dissipline oorslaan?

Ja, dit is moontlik, maar dit is ʼn besluit wat deeglik geëvalueer moet word gegewe die behoefte aan siviele ingenieurs in die verskeie sektore van die samelewing. Die besluit om van dissipline te verander, moet geskied met goedkeuring van sowel die gasheerdepartement (waar jy ingeskryf is) as die ontvangende departement, en albei departementshoofde moet tot die verandering instem. Jou studierekord en die kapasiteit van die dissipline sal sterk in ag geneem word.

Ek stel belang in tegnologie en rekenaars. Hoeveel tegnologie word in siviele ingenieurswese gebruik, of gaan dit alles oor water, beton en paaie?

Soos ons die 4de industriële revolusie ingaan, is tegnologie absoluut sentraal in die daaglikse aktiwiteite van siviele ingenieurs. Ingenieurs kan sagteware gebruik om 'n gebou vir wind- of aardbewingladings te ontleed. 'n Ontwerper kan 'n rivier, oorloop of dam modelleer deur gebruik te maak van dinamiese vloei modelle. Konstruksiebestuurders gebruik hommeltuie om geboue te inspekteer en vordering te monitor. Intelligente vervoerstelsels vereis die simulasie van beweging van mense, motors, treine en ander openbare vervoer om infrastruktuur vir stede te ontwerp. Al ons studente word regdeur hul studiesjare in rekenaarprogrammering en verskeie sagtewarepakkette onderrig, en daar word van hulle verwag om sulke vaardighede te gebruik om verskeie komplekse probleme op te los.
Terwyl siviele ingenieurs dikwels nie tegnologie ontwikkel nie, pas hulle tegnologie wyd toe in die uitvoering van hul werk. Hulle is betrokke by groter stelsels om infrastruktuur uitdagings op te los wat dikwels 'n holistiese benadering vereis van al die veranderlikes wat tegnologiese, sosiale en finansiële vereistes insluit.

Wat is die minimum toelatingsvereistes (vir al die vierjaarprogramme in ingenieurswese)?

1. ʼn Nasionale Senior Sertifikaat met toelating tot baccalaureusstudies, of ʼn vrystellingsertifikaat wat deur die Matrikulasieraad uitgereik is; en
2. ʼn Minimum gemiddelde van 70% vir die ses beste matriekvakke (lewensoriëntering en wiskundige geletterdheid uitgesluit); en
3. ʼn Minimum gemiddelde van 70% vir wiskunde; en
d) ʼn Minimum gemiddelde van 60% vir natuurwetenskap; en
4. Taalminimums:
• Engels Eerste Taal: Minstens 50%, sonder enige vereiste vir Afrikaans; of
• Engels Eerste Addisionele Taal: Minstens 60%, sonder enige vereiste vir Afrikaans; of
• Engels Eerste Addisionele Taal: Minstens 50%, saam met minstens 50% in Afrikaans Eerste Taal; of
• Engels Eerste Addisionele Taal: Minstens 50%, saam met minstens 60% in Afrikaans Tweede Addisionele Taal

Hoe werk die keuringsproses (vir al die vierjaarprogramme in ingenieurswese)?

Die keuringstelling is die belangrikste maatstaf wat deur die Fakulteit gebruik word vir die keur van studente vir BIng-programme. Hierdie telling word soos volg bereken:
Keuringstelling = punt vir wiskunde + punt vir natuurwetenskap + 6 x matriekgemiddelde
1. Die persentasies behaal in wiskunde en natuurwetenskap, plus die gemiddelde persentasie vir die ses beste matriekvakke (lewensoriëntering en wiskundige geletterdheid uitgesluit), word gebruik om die keuringstelling te bereken.
2. Dit beteken dat die keuringstelling ʼn verskeidenheid matriekvakke in ag neem en dat wiskunde en natuurwetenskap in werklikheid albei twee keer bydra.
3. Die maksimum telling behaalbaar is dus 800 as jy 100% vir al jou matriekvakke behaal het (100 + 100 + (6 X 100) = 800).
4. Die Fakulteit bepaal ʼn toelatingsdrempel en ʼn minimum keuringstelling vir elke BIng-program. Die toelatingsdrempel is ʼn keuringstelling gebaseer op:
• die getal aansoekers wat aan die toelatingsvereistes voldoen; en
• die getal plekke wat in die spesifieke graadprogram beskikbaar is.
5. Die minimum keuringstelling is die laagste telling wat daarop dui dat ʼn student waarskynlik die spesifieke program sal kan afhandel. Hierdie telling is gegrond op die Fakulteit se ervaring met vorige studente.
6. Jy sal gekeur word as jy:
• aan die toelatingsvereistes voldoen; en
• jou keuringstelling gelyk is aan, of groter is as, die toelatingsdrempel vir die spesifieke graadprogram waarvoor jy wil inskryf.
7. Let asseblief op die volgende:
• Keuring vir een BIng-program beteken nie dat jy vir enige ander BIng-program gekeur is nie.
• Jy kan vir meer as een BIng-program aansoek doen en jy sal onafhanklik vir elke program oorweeg word. As jy vir meer as een BIng-program gekeur word, sal jy meer as een aanbod ontvang waaruit jy kan kies.
• As jou keuringstelling onder die toelatingsdrempel, maar bo die minimum toelatingsvereistes vir jou voorkeur- BIng-program(me) is, sal die volgende gebeur:
o Jy sal op ʼn waglys geplaas word, wat beteken dat jy dalk steeds tot ʼn spesifieke program toegelaat kan word as plekke later beskikbaar raak; of
o Jy kan aansoek doen om toelating tot ʼn ander BIng-program as jy aan die keuringsvereistes vir daardie spesifieke program voldoen. Jy moet die fakulteitsbeampte of die fakulteitsadministrateur kontak as jy dit oorweeg om die programme waarvoor jy aansoek gedoen het, te verander.

Waar kan ek verdere inligting kry?

Besoek gerus ons webwerf by civeng.sun.ac.za of (klik hier).
Of E-pos: civil@sun.ac.za
Of besoek ons Facebook-blad: Civil Engineering Stellenbosch
Of Instagram: @CivilEngSU
Meer gereelde vrae kan ook hier gevind word. (klik hier).

x

Besoek gerus ons webwerf by civeng.sun.ac.za of (klik hier).
Of E-pos: civil@sun.ac.za
Of besoek ons Facebook-blad: Civil Engineering Stellenbosch
Of Instagram: @CivilEngSU

Afrikaans