AgriWetenskappe

Die Universiteit Stellenbosch, geleë in die hart van die Kaapse Wynland, het 'n lang verbintenis met wingerd- en wynwetenskappe en werk nou saam met die Suid-Afrikaanse wingerd- en wynbedryf. Die Departement Wingerd- en Wynkunde (DWW) is die enigste universiteitsdepartement in Suid-Afrika wat voor- en nagraadse kursusse in Wingerd- en Wynwetenskappe aanbied.

Die integrasie van die twee vakgebiede, tesame met analitiese chemie, sensoriese wetenskap en data-analise bied navorsingsgeleenthede aan studente uit verskillende akademiese agtergronde. In die meer as 100 jaar van die DWW se bestaan, het ons talle van die top-wingerdkundiges, -wynmakers, navorsers en verskafferbestuurders aan die druiwe-, (insluitend tafeldruiwe) en wynindustrieë gelewer. 

empty

empty tag

Wat is wingerd- en wynkunde?

Wingerdkunde beteken om druiwe te groei (vir die maak van wyn of om te eet) en wynkunde is om wyn te maak. Kyk gerus na die aanbieding om meer te leer.

Hoe lank is die BScAgric Wingerd- en Wynkunde graad?

Vier jaar.

Het jy Fisiese Wetenskappe in graad 12 nodig om BScAgric Wingerd- en Wynkunde te studeer?

Ja, jy moet beide Wiskunde en Fisiese Wetenskappe in matriek slaag

Kan ek BScAgric Wingerd- en Wynkunde studeer as ek Wiskundige Geletterdheid op skool het?

Ongelukkig nie. Suiwer Wiskunde is ‘n vereiste. Jy kan wel oorweeg om aansoek te doen vir die BAgric-graad by die Landboukollege Elsenburg. Kyk gerus na hul aanbieding om meer te leer.

Wat is die toelatingsvereistes (d.w.s. skoolvakke en toepaslike grade) vir die Wingerd- en Wynkunde program?

60% gemiddeld vir die NSS (Lewens oriëntering uitgesluit), 4 (50%) vir Engels of Afrikaans, 5 (60%) vir Wiskunde en 4 (50%) vir Fisiese Wetenskappe.

Let asseblief daarop dat daar net ‘n beperkte aantal plekke beskikbaar is, en deur te voldoen aan die vereistes, waarborg ongelukkig nie ‘n plek in die program nie.

Wat is die vereistes as ek nie die NSS-kurrikulum volg nie?

Universiteitsvrystelling met Wiskunde, Fisiese Wetenskappe (beide Fisika en Chemie).

Word hierdie graad by Elsenburg aangebied?

Die BScAgric Wingerd- en Wynwetenskappe-program (4 jaar) word deur die Universiteit Stellenbosch (US) op die Stellenboschkampus aangebied. Elsenburg Landboukollege, ʼn afsonderlike onderriginstansie, bied ‘n 3-jaar BAgric-graad in Keldertegnologie of Kelderbestuur, wat deur die US onderskryf word, asook ‘n 3-jaar Diplomaprogram in Landbou aan.

Hoe prakties is die graad?

Die graad het beide ‘n teoretiese en praktiese komponent. Daar is praktiese sessies in alle modules waar jy op besoeke aan die industrie gaan, geleer word hoe om die teorie in die praktyk toe te pas en verskeie vaardighede aanleer. In die finale jaar is die eerste ses maande ‘n industrie internskap wat meestal prakties is.

Watter loopbaan opsies het ek as ek BScAgric Wingerd- en Wynkunde studeer?

Daar is ʼn wye verskeidenheid beroepe om vanuit te kies. Kyk asseblief na die Wingerd- en Wynwetenskappe-programaanbieding, die loopbaangeleenthede-plakkaat en die Alumni-profielbladsye vir enkele voorbeelde

Kan ek net ‘n wynmaker word?

Beslis nie! Kyk asseblief na die Wingerd- en Wynwetenskappe -programaanbieding, die loopbaangeleenthede-plakkaat en die Alumni-profielbladsye vir enkele voorbeelde. ‘n Opwindende wêreld met kleurryke beroepsopsies wag op jou.

Sal ek internasionaal kan werk?

Beslis! Druiwe en wyn word in talle lande (insluitend die VSA, Australië, Nieu-Seeland, Chili en Duitsland) geproduseer – jy kan potensieel in enige van hierdie lande werk vind. Ons studente is ook gesog in hierdie lande en vind maklik werk.

Is daar beurse beskikbaar?

Beslis. Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling bied omvattende beurse vir studente. Jy kan ook via die Universiteit aansoek doen vir finansiële steun. 

Is daar werk beskikbaar direk na studie? Die persepsie is soms dat daar nie is nie.

Ja. Met die industrie-internskap in die finale jaar vind ons gereeld dat studente weer in die daaropvolgende jaar versoek word om vir ‘n pars terug te keer. Dit kan ook tot permanente indiensname lei. 

Kan ek na voltooiing van ‘n BScAgric Wingerd- en Wynwetenskappe-graad direk vir ‘n Meestersgraad registreer?

Ja, jy sou kon as jy aan die vereistes vir nagraadse studies voldoen.  

Afrikaans