Dorpservaring

Die dorp Stellenbosch lê in die hartjie van die Wes-Kaapse wynlande, reg langs die Eersterivier en aan die voet van die Stellenbosch-berge. Die dorp, ook bekend as die Eikestad danksy die menigte eikebome wat die strate van die dorp omsoom, bied inwoners, studente en besoekers 'n oorvloed van onvergeetlike aktiwiteite om van te kies en te keur. Van voetslaan of fietsry in die omliggende berge, of 'n besoek aan een van die vele museums of kunsgalerye, tot 'n heerlike koppie koffie by 'n straatkafee, of 'n rustige wandeling in die Universiteit Stellenbosch se Botaniese Tuin – daar is iets vir almal.

Die Stellenbosch-wynroete, die oudste van sy soort in die land, bied besoekers die geleentheid om van die beste Suid-Afrikaanse wyne te proe. Die dorp, met sy baie historiese geboue, beloof studente 'n opwindende sosiale lewe en die geleentheid om sy kosmopolitiese straatkultuur te beleef.

Boonop bied die stad Kaapstad, slegs 50 minute se ry vanaf Stellenbosch, nóg 'n verskeidenheid een-keer-in-'n-leeftyd-ervarings en -avonture – soos besoeke aan Suid-Afrikaanse erfenis-museums, staptogte teen die hange van Tafelberg op (een van die Nuwe Sewe Wonders van die Natuur), haaihokduik en die geleentheid om te sien hoe word die Middaguurkanon op Vlaeberg afgevuur – om maar 'n paar van die stad se bekoorlikhede te noem.

 

Afrikaans