Anine in Maastricht, Nederland

Ek verkies om in Afrikaans te skryf omdat ek tydens die somerskool besef het hoe trots ek is op die feit dat ek ook ’n ander taal, en nie net Engels magtig is nie. My ervaring van die somerskool, was ’n lewensveranderende reis. Elke ervaring dra by tot jou menswees. Vergelyk dit maar met St. Augustine se siening; “Die wêreld is soos ʼn boek en die wat nie reis nie, kies om slegs een bladsy te lees”. Die somerskool het een bladsy voltooi van my wêreldboek. Ek wil jou graag so goed as moontlik voorberei en opgewonde maak indien jy ook ʼn soortgelyke reis beplan.

Voor my vertrek:

Aansoek om die Somerskool geleentheid
Ek was lank voor die aansoekperiode bewus van die omvang van die aansoekproses. Aansoeke moes reeds 1 Maart 2013 in wees. Die PGIO webblad verskaf alle vereistes van die aansoek. Wat ek wel net wil noem is dat dit die moeite werd is om die SSVO se CV-skryf sessies by te woon, jy moet as’t ware jouself so goed as moontlik laat lyk in jou motiveringsbrief en ‘n absolute puik video hê. Laasgenoemde vervang die tradisionele onderhoud; wees kreatief. In my video het ek genoem dat ek baie van die natuur hou en dat ek ook hou van fotos neem. Dus het ek net iewers in die video ʼn paar fototjies van Suid-Afrika se natuurskoon laat inglip. Dis uniek en dit vertel die paneelbeoordelaars meer as wat 100 woorde sou.

Aansoek om die kursus by Maastricht Universiteit
Na die aanlyn aansoekproses het ek baie vinnig terugvoering gekry dat ek aanvaar is vir die kursus, op dieselfde dag nog. Ek is ingelig dat Maastricht Universiteit sou betaal vir my studie kostes, verblyf en deelname aan ʼn sosiale program. Daarna het ek ʼn reisbeurs van Stellenbosch Universiteit ontvang. Nou was dit moontlik om die vliegtuigkaartjies en voorlopige hooftreine te bespreek met die fondse beskikbaar. Besprekings vir verblyf in Maastricht word aanlyn gedoen by www.maastrichthousing.com en jy sal meer as gelukkig wees met die heel goedkoopste kamer in die C gebou. Dit is groot, bevat ʼn bed, boekrak, lessenaar, bedkassie, hangkas, wasbak, drie stoele en twee leesliggies en daar is oorgenoeg plek om nog te loop ook. Die voordeel hiervan is dat daar dan fondse in jou ‘verblyfbeurs’ oor is om ʼn fiets by die einste verblyfplek te huur vir die tydperk wat jy in Maastricht is. ʼn Fiets is ʼn moet in Maastricht.

Administrasie
Wees bewus dat visa aansoeke aanlyn gedoen word en omrede dit somer is in Europa gedurende ons wintervakansie, is die kantoor in Kaapstad, 100 Strand Straat, baie besig en moes ek drie weke wag vanaf die dag dat ek my afspraak gemaak het. Die ambassade is slegs gedurende die oggendure oop. My afspraak was ongelukkig gedurende die eksamen, om 08:50. Neem eerder ʼn later tyd as laasgenoemde omrede die verkeer veroorsaak het dat ek ʼn halfuur laat was vir my afspraak. Laat wees, is kommerwekkend, maar die Nederlandse ambassade is vriendelike en flinke mense en my aansoek was afgehandel binne 5 minute. Wees net seker dat jou dokumente presies in die volgorde is soos gespesifiseer word. Hierdie dokumente is goud werd! Jou dokumente is veilig as jy dit op drie plekke stoor, op ʼn USB, op Dropbox en ʼn harde kopie (wat in elk geval nodig is om saam te neem na die Schengen area). Met die afhaal van die visa, vyf werksdae later, was ek letterlik minder as 2 minute in die gebou.

Belangrik vir die vliegtuig

  • Geen vloeistofvolumes in handbagasie mag 100 ml oorskry nie en die totale vloeistof mag nie meer as 1ℓ wees nie
  • Verklaar elektroniese toerusting by “Customs” (oorkant “check-in counter” A43)
  • Lig jou bank in van transaksies in die ander land voor jy vertrek
  • Indien jy van OR Tambo af vlieg, moet jy by terminaal A wees, parkeer op die 2 de vloer, want daar is ʼn loopbrug direk van die onderdak parkering en die lughawe
  • Dit is baie eenvoudig om te “self check-in”,
  • Jy kan jou tas laat “shrink wrap” teen R 50
  • Let op dat die “boarding gates” nogal ver is en dus sorg dat jy genoeg tyd het
  • Jou bagasie mag 23 kg weeg (maar maak seker by jou lugdiens)
  • Op Schipol het jy 2 × 30 min se internet wat gratis beskikbaar is by KPN, anders moet jy €3 betaal vir 15 min
  • Indien jy ʼn telefoonkaart koop en na ʼn Suid-Afrikaanse landlyn wil bel, betaal jy €10 en dit is slegs vir 3 min

Somerskool

Uiteindelik-die besoek aan Maastricht
Indien jy ook op Schipol-Amsterdam land, besoek gerus die webtuiste vir die treine by www.b-europe.com/Travel. Dit is baie goed om te spesifiseer dat jy “youth” is, so kry jy baie afslag op treinkaartjies, veral in België. Met ʼn trein vanaf enige stasie in die Brugge-area tot enige stasie in die Brussels – area kos dit slegs €6 en so ook tussen Brussels en Maastricht teen €7.30. Neem ook die GOPASS1 kaartjie. Hierdie goedkoop opsies is slegs beskikbaar aanlyn by www.belgainrail.be.

In Maastricht moet jy eers oor (St. Servaas brug) die Maas (die rivier) kom om aan die regte kant te wees om by “Guesthouse UM” uit te kom. Dit is egter baie ver en indien jy nie baie uithouvermoë het nie, sou ek jou aanraai om maar eerder nie die staptog met bagasie en al aan te durf nie. ʼn Wenk, neem ʼn foto van die kaart van Maastricht by ʼn busstop en vind so jou weg as jy verdwaal.

By die gastehuis is daar skoonmaakdienste vir publieke areas en ʼn eetstelletjie word spesiaal in jou kassie gebêre. Baie belangrik – daar is slegs twee-punt proppe oral! Die enigste winkel waar jy ʼn drie na twee prop gaan vind, is by MediaMarkt. Die gastehuis het wasmasjiene en tuimeldroërs, maar nie waspoeier, “stay soft” of wasseep nie. Ek kon wasseep, rooibostee, melk, brood, komkommer, maalvleis, kaas, piesangs en eiers teen €12.93 by Jan Linders in Tongersestraat koop vir een week se gebruik. Dít is baie goedkoper as om op wegneemetes te lewe, sommige restaurante in Maastricht kan ʼn middagete opjaag tot €18.

Aktiwiteite wat die sosiale program behels, is onder andere ʼn verwelkomingsdinee, stadstoer, musiek konserte, bierproe, ‘n wynplaas besoek en wynproe, besoek aan grotte en ʼn museum, bootreis en ʼn “barbeque”. Ek het alles met oorgawe geniet.

Wat lekkernye betref, is die volgende die moeite werd om te koop; ʼn roomys vir €1.50 by Pinky, stroopwafels (8 vir €1.79) by Albert Hein, Kriekbier vir €3, bitterballe en kibbeling op Vrydae by die Markt. Eet tog ʼn paar maaltye saam jou medestudente en laat die tale so vloei oor die tafel en hou sommer iets wat ons hier in Matieland ook het, naamlik ʼn internasionale kos aand. Neem ʼn pak UNO kaarte saam en speel dit na aandete!

Maastricht Universiteit is gestig in 1976 en word gelys as nommer 107 in die wêreld in terme van universiteite wat jonger as 50 jaar is. Dit is in Tongersestraat 53 en omtrent 15 min se stap van “Guesthouse UM” af. Die kursus (“Business Intelligence”) duur twee weke en behels van jou  om op die ou einde slegs ʼn voorlegging te gee en geen eksamen of toetse te skryf nie. Die kursus is prakties toepasbaar. My studierigting (Bedryfsingenieurswese) het baie ooreenkomste met die terme getoon. Weet dat agtergrondkennis van Excel en statistiek nodig is. Die eerste week word daar na die gebruike van die onderwerp gekyk, verskeie tipiese praktiese toepassings vir bestuurders en die waarde van die onderwerp word ook bespreek. Die tweede week behels projekrekenaarwerk op XLMiner deur data analise en toepassing. Ons projek het vereis om te bepaal watter tipe persone skenkings vir ʼn fondsinsamelingsorganisasie sal gee. Die ander groep het gekyk na lenings en in watter gevalle dit wel toegestaan is. Die dosent Dr. Peeters is uitstekend en die kursus word in goeie Engels aangebied. Die kursus is 4 krediete.

Terugkeer:

My heel eerste gedagte was dat ek weer na ʼn land moet terugkeer waar dit winter is. Ek was baie opgewonde om die nuwe groen gemerkte pad vir fietse in Merriman straat te sien, maar teleurgesteld dat ek dit nêrens anders gesien het nie en ek het bitter gou besef ek is nie meer in Nederland nie. Daar het die voertuie, voetgangers en fietse (saam met motorfietse en bromponies) in elke rigting hul eie baan om in te beweeg. Die vervoerstelsel is 10 keer beter as hiér. ʼn Fietsryende student moet in Stellenbosch baie konsentreer!

Ek sal beslis weer die buiteland wil besoek, veral na my ervaring in Maastricht. Miskien doen ek ʼn meesters by Maastricht. Graag sal ek my wêreldboek nog meer wil vul. ʼn Mens voel of jy soveel meer magtig is en skielik voel ek trots om te kan studeer en daar is meer agter die studies as net harde werk.