Humor

Humor in jeugliteratuur (as deel van kultuur) hou baie waarde in vir die tienerleser, waaronder die volgende (vgl. Van Niekerk en Van der Westhuizen, 2004):

  • Humor bied ’n uitlaatklep vir spanning; ’n dosis aggressiewe humor, veral as dit gekombineer word met fantasie, help dikwels om grieselrige en bedreigende dinge te laat verminder of verdwyn.
  • Humor help die kind om angste en probleme te oorkom en te oorwin, omdat ’n humoristiese benadering dikwels die intensiteit van probleme kan relativeer.
  • Lag werk bevrydend ten opsigte van vele verbode dinge en beperkinge wat in die daaglikse lewe aan die kind opgelê word. Met humor kan die grense van die toelaatbare afgebaken word. Deur kattekwaad en grappe kan kinders byvoorbeeld agterkom hoe ver hulle kan gaan.
  • Deur speelse aggressie sneuwel taboes, soos die lees of uitspreek van “verbode” woorde.
  • Humor stimuleer kreatiwiteit. Fantasie en verbeelding, wat sleutelbegrippe is by humor, bied ’n kind moontlikhede om die werklikheid kreatiewer en weerbaarder tegemoet te gaan.
  • Humor is ook ’n middel tot sosialisering; ’n kind wat ’n goeie of fyn sin vir humor het, is dikwels meer populêr as kinders wat bot is. Die suksesvolle integrering van humor in die individu se algehele ont-wikkeling dra by tot ’n positiewe selfkonsep. Wat interaksie met ander betref, kan humor bydra tot positiewe en suksesvolle inter-persoonlike verhoudinge.
  • Humor in jeugtekste kan verder ook tieners se kulturele geletterdheid ontwikkel.

Skrywers van humoristiese jeugtekste in Afrikaans sluit in Philip de Vos, Janie Oosthuizen, Leon de Villiers, Jaco Jacobs, Nelia Engelbrecht en Fanie Viljoen. Lees gerus resensies van hierdie skrywers se tekste. Ook die vertaalde werke van Roald Dahl is immergewild. En nou het ons ook ‘n film wat gebaseer is op Marita van der Vyver se Die ongelooflike verhale van Hanna Hoekom. Koos Kombuis se Raka die roman sorg vir vele humoristiese situasies en uitlatings.

2 Responses to Humor

  1. Lusanne says:

    Die verhaal van Vincent van Gogga begin in ‘n pretpark, op ‘n leë erf in ‘n groot stad. Langs die spooktrein en langs die stalletjie met sy Donald Duck-eende met koppe wat op en af wip, staan ‘n donkerblou woonwa, vol sonne en mane en sterre geverf. En op die sykant van die woonwa pryk in groot geel letters: Madame Zelda. Egiptiese sigeuner vir liefde, geld en geluk.
    Nou wat op aarde het madame Zelda en haar woonwa vol sonne en mane en sterre uit te waai met Vincent van Gogga? Wie de joos ís Vincent van Gogga?Die antwoord is baie eenvoudig: Lees en vind uit!Vincent van Gogga is ‘n boek vir kinders van alle soorte: klein kinders en kleinkinders, groot kinders en oorgroot kinders en voorkinders en agterkinders en agterstevoorom kinders.

  2. Lusanne says:

    The Hitchhikers Guide to the Galaxy is ‘n humoristiese, wetenskapfiksie reeks boeke. Douglas Adams is ‘n meester op hierdie terrein en ek kan hierdie boeke weer en nog ‘n keer lees. Daar is ook ‘n fliek (2005) van dieselfde titel vrygestel.

    http://www.imdb.com/title/tt0371724/
    http://www.fantasticfiction.co.uk/a/douglas-adams/

Leave a Reply

Your email address will not be published.